South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2012 >> [2012] ZAWCHC 78

| Noteup | LawCite

Sigenu v S (A37/2012) [2012] ZAWCHC 78 (13 April 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SU1D-AFRIKA


(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)



SAAKNOMMER: A37/2012

DATUM: 13 APRIL 2012



In die saak tussen:

THANDO SIGENU …..........................................................................Appellant
en

DIE STAAT …................................................................................Respondent




UITSPRAAK






FOURIE, R:



Appellant het in die Streekhof te Mosselbaai verskyn op 'n aanklag van verkragting, naamlik dat hy gedurende 2003 tot 2004 sy 11-jarige dogter by verskeie geleenthede verkrag het. Hy het onskuldig gepleit, maar na die aanhoor van getuienis is hy skuldig bevind soos aangekla. Hy is vervolgens tot 16 jaar gevangenisstraf gevonnis en hy kom nou, met die verlof van die hof a quo, in hoer beroep teen die opgelegde vonnis.


Aangesien die klaagster ten tyde van die pleging van die misdryf onder die ouderdom van 16 jaar was, is die voorskrifte van Wet 105 van 1997 van toepassing. Dit verg van die hof om "n verpligte minimum vonnis van lewenslange gevangenisstraf op te le, waarvan slegs afgewyk kan word indien daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan wat die oplegging van 'n mindere vonnis as die voorgeskrewe regverdig.



Die streeklanddros het, na oorweging van al die relevante omstandighede, tot die gevolgtrekking gekom dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan vir die oplegging van h mindere vonnis, en gevolglik die vonnis van 16 jaar gevangenisstraf opgele.



Die betoog namens appellant is dat die streeklanddros, by vonnisoplegging, die erns van die misdryf oorbeklemtoon het, terwyl hy appellant se persoonlike omstandighede onderbeklemtoon het. Dit, so word betoog, het daartoe gelei dat 'n onvanpaste vonnis opgele is. Terwyl dit wel namens appellant aangevoer word dat die verhoorhof die korrekte benadering gevolg het deur te bevind dat daar wesenlike en dwingende omstandighede bestaan vir die oplegging van 'n mindere vonnis as lewenslange gevangenisstraf, word betoog dat die verhoorhof nie genoegsaam van die minimum voorgeskrewe vonnis afgewyk het nie en hierdie hof gevolglik geregtig is om in te meng met die vonnis deur dit tersyde te stel en te vervang met 'n gepaste vonnis.



Ek stem nie saam met hierdie betoog nie. In die landdros se deeglike uitspraak ten aansien van vonnis, is al die relevante feite en omstandighede in ag geneem by die oorweging van 'n gepaste vonnis. Die landdros het kennis geneem van die persoonlike omstandighede van appellant, insluitende die impak wat langtermyn gevangenisstraf op horn en sy naasbestaandes sou he. Sy siektetoestand is in hierdie verband ook in aanmerking geneem, asook die feit dat hy 'n eerste oortreder is.



Wat die aard van die misdryf betref, het die landdros, na oorweging, tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie nie as een van die besondere wrede gevalle van verkragting beskou kan word nie en dit derhalwe kon dien as 'n grondslag vir die afwyking van die voorgeskrewe vonnis. By die oplegging van die betrokke vonnis, het die streeklanddros tereg bevind dat die erns van die misdryf en die belange van die gemeenskap 'n vonnis van langtermyn gevangenisstraf regverdig.



Dit moet in gedagte gehou word dat die klaagster slegs 11 jaar oud was en deur haar vader, wat in 'n vertrouensposisie teenoor haar gestaan het, by verskeie geleenthede verkrag is.

Sy het dan ook swanger geraak en moes die swangerskap beeindig word. Daarteenoor het appellant geen berou getoon nie en selfs aan die hand gedoen dat die klaagster aanleiding sou gegee het tot die seksuele omgang. Volgens die klaagster het appellant haar ook gedreig dat indien sy vir andere sou vertel, hy haar sou slaan en terugstuur na die Oos-Kaap, waarheen sy, weens die moeilike tye wat die gesin daar ervaar het, nie wou terugkeer nie.



In al hierdie omstandighede kan die opgelegde vonnis van 16 jaar gevangenisstraf, na my mening, nie as skokkend onvanpas beskou word nie. Inteendeel, indien ek die hof van eerste instansie was, sou ek 'n vonnis van hierdie orde, of selfs gevangenisstraf vir nog 'n langer tydperk, oorweeg het. Ek doen gevolglik aan die hand dat die appel van die hand gewys word en dat die appellant se vonnis bekragtig word. Ek stem saam:








SALDANHA, R


Dit word so gelas:





FOURIE, R