South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2013 >> [2013] ZAWCHC 172

| Noteup | LawCite

Rossouw v S (A374/13) [2013] ZAWCHC 172; 2014 (1) SACR 390 (WCC) (8 November 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA

IN DIE HOË HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOË HOF, KAAPSTAD)


Saaknr: A374/13


In die appél van:



ISMAIL ROSSOUW .....................................................................................Appellant


teen


DIE STAAT .................................................................................................Respondent



UITSPRAAK: 8 NOVEMBER 2013



Schippers R:


  1. Hierdie is ‘n appèl slegs teen vonnis met verlof van die verhoorhof. Die appellant is in die Streekhof, Wynberg, skuldig bevind aan die onwettige besit van ‘n 9mm Norinco vuurwapen, kragtens artikel 3 van die Wet op Beheer van Vuurwapens Nr 60 van 2000; en die onwettige besit van van 8 rondtes ammunisie ingevolge artikel 36 van die Wet op Wapens en Ammunisie Nr 75 of 1969. Die appellant het op beide oortredings skuldig gepleit en is skuldig bevind. Hy is gevonnis tot ses (6) jaar gevangenisstraf vir die onwettige besit van die vuurwapen en een (1) jaar gevangenisstraf vir die besit van die ammunisie.


  1. In sy verklaring ingevolge 112(2) van die Strafproseswet Nr 51 of 1977, sê die appellant dat op 8 April 2010 en in Manenberg, was hy op pad na sy moeder se woning toe hy ‘n sakkie op die grond gesien het. Hy het dit opgetel omdat dit gelyk het of daar iets in die sakkie was. Hy het gevind dat dit ‘n vuurwapen bevat. Hy het ook gekyk of daar ‘n magasyn in die vuurwapen was. Dit het hy gekry, gelaai met agt lewende rondtes. Hy het tot by ‘n donker hoek gestap (dit was blykbaar nag) waar hy die vuurwapen teen sy middellyf in sy broek geplaas het. Op pad na die woning het die polisie hom gestop en gevra of hulle hom kan visenteer. Hulle het die vuurwapen in sy broek by sy middellyf gevind. In die verklaring erken die appellant dat hy die vuurwapen vir homself sou houvir selfverdediging,want hy woon in ‘n area waar daar baie bendes is. Hy het voorts erken dat hy nie ‘n lisensie, permit of magtiging vir die vuurwapen het nie, dat dit in ‘n werkende toestand was en dat die ballistiese verslag korrek is. Daarvolgens was die vuurwapen deur die Ballistiese Afdeling van die Suid-Afrikaanse Polisie Diens ondersoek en gevind dat dit wel ammunisie kan afvuur, dat dit self gelaai kan word maar dat dit nie meer as een skoot met ‘n enkele drukking van die sneller kan afvuur nie.


  1. Alvorens daar met die gronde van appèl gehandel word is daar ‘n aspek van hierdie saak wat by hierdie Hof kommer wek. Dit is dat die Strafwysigingswet Nr 105 van 1997 (“die Strafwysigingswet”) totaal deur die aanklaer geignoreer is. Artikel 51(2)(a) bepaal dat dat ‘n streekhof wat ‘n persoon skuldig bevind aan ‘n misdryf bedoel in Deel II van Bylae 2 – die besit van ‘n outomatiese of semi-outomatiese vuurwapen – moet‘n eerste oortreder tot gevangenisstraf van minstens 15 jaar vonnis, ‘n tweede oortreder tot minstens 20 jaar en ‘n derde of verdere oortreder tot minstens 25 jaar, tensy daar wesenlike en dwingende omstandighede aanwesig is wat die oplegging van ‘n mindere vonnis as die voorgeskrewe minimum vonnis regverdig.1


  1. In hierdie geval het dieappellant ‘n semi- of half- outomatiese vuurwapen besit. Die Wet op Beheer van Vuurwapens omskryf semi-outomaties of half-outomaties met verwysing na ‘n vuurwapen as synde, “selflaaiend maar nie in staat om meer as een skoot met ‘n enkele drukking van die sneller af te vuur nie”. Dit is presies wat bevind is in die ballistiese verslag wat deur die appellant erken is.


  1. Die appellant kon dus skuldig bevind word aan besit van ‘n semi-outomatiese vuurwapen en sou die Strafwysigingswet duidelik van toepassing gewees het. Die rekord bevat egter geen verduideliking vir die aanklaer se versuim om dié Wet toe te pas nie. Op ‘n navraag van die Landdros sê die aanklaer eenvoudig dat die staat nie op die wet op minimum vonnisse steun nie. Gevolglik is die oogmerke van die wetgewer in die Strafwysigingswet om minimum vonnisse vir sekere ernstige misdrywe voor te skryf, verydel.


  1. Insgelyks is die oogmerke van die Wet op Beheer van Vuurwapens belemmer. Volgens die aanhef tot dié wet is hy in werking gebring onder andere omdat elke persoon oor die reg tot lewe en die reg tot veiligheid van die persoon beskik, wat insluit die reg om vry te wees van alle vorme van geweld; en omdat die toenemende beskikbaarheid en misbruik van vuurwapens en ammunisie beduidend tot die hoë vlakke van geweldsmisdade bydra.


  1. Artikel 2 van die Wet op beheer van Vuurwapens lees ondermeer as volg:


2. Doel van Wet.- Die doel van hierdie Wet is om-

  1. die grondwetlike reg op lewe en liggaamlike integriteit te bevorder;

  2. die toename van onwettige besit van vuurwapens te voorkom en, deur voorsiening te maak vir die verwydering van hierdie vuurwapens uit die gemeenskap en deur verbetering van beheer oor die wettige besit van vuurwapens, misdaad waarby vuurwapens gebruik word, te voorkom.

  3. dit vir die Staat moontlik te maak om vuurwapens wat onwettig besit word uit die gemeenskap te verwyder, die voorsiening, besit, veilige bewaring, oordrag en gebruik van vuurwapens te beheer en die nalatige en kriminele gebruik van vuurwapens op te spoor en te straf.”


  1. Aan hierdie oogmerke word gevolg gegee en word hulle gestut deur die bepalings van die Strafwysigingswet wat die howe verplig is om in werking te stel. In Matyityi2 sê die Hoogste Hof van Appèl (HHA) die volgende:


As Malgas makes plain, courts have the duty, despite any personal doubts about the efficacy of the policy or personal aversion to it to implement those sentences. Our courts derive their power from the Constitution and, like other arms of State, owe their fealty to it. Our constitutional order can hardly survive if courts fail to properly patrol the boundaries of their own power by showing due deference to the legitimate domains of power of the other arms of State. Here Parliament has spoken. It has ordained minimum sentences for certain specified offences. Courts are obliged to impose those sentences unless there are truly convincing reasons for departing from them.”3


  1. Dit is gevolglik nie verbasend nie dat die HHA in Thembalethu4n appél teen ‘n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf opgelê aan ‘n eerste oortreder ingevolge artikel 51(2) van die Strafwysigingswet vir die onwettige besit van ‘n semi-outomatiese vuurwapen, van die hand gewys het. Die HHA bevind juis dat die bepalings van artikel 51(2) gebiedend is en dat wanneer dit bewys word dat ‘n beskuldigde aan die onwettige besit van ‘n semi-outomatiese vuurwapen skuldigbevind is, dit aanleiding gee tot die toepassing van die voorgeskrewe minimum vonnis.5


  1. Die appellant kan egter nou nie met die Strafwysigingswet gekonfronteer word nie, vandaar die staat geensins die bepalings van dié wet onder die appellant se aandag gebring het nie.6


  1. Dit is nie aangenaam om dit te doen nie maar ek ag dit my plig om in die belang van die regspleging die aanklaer en die verhoorhof te vermaan om in die toekoms meer waaksaam te wees by die toepassing van die Strafwysigingswet. So nie, sal die doel van dié wetgewing asook die Wet op Beheer van Vuurwapens, misluk.


  1. Ek handel vervolgens met die gronde van appèl wat as volg saamgevat kan word. Die verhoorhof het sy strafdiskresie onbehoorlik en onredelik uitgeoefen deurdat die erns van die misdryf en die appellant se vorige veroordelings oorbeklemtoonis. Die hof het die gemeenskapsbelang verkeerd vertolk. Daar is geen gewig verleen aan die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend was nie. Die hof het nie ‘n gebalanseerde en geïndividualiseerde vonnis opgelê nie.


  1. Dit is geykte reg dat die verhoorhof oor ‘n judisiële diskresie beskik ten aansien van vonnis. In die algemeen sal die verhoorhof se vonnis op appèl verander word slegs indien die strafdiskresie nie redelik, regterlik en behoorlik uitgeoefen is nie.7 Die vraag is eintlik of die verhoorhof redelikerwyse die diskresie uitgeoefen het wat aan hom toevertrou is: anders gestel, of dit gesê kan word dat geen redelike hof die vonnis wat deur die verhoorhof opgelê is, sou opgelê het nie.8


  1. Die appellant is aan uiters ernstige misdrywe skuldig bevind en is die erns daarvan nie deur die verhoorhof oorbeklemtoon nie. Die hof meld dat sy ondervinding is dat misdade en skietvoorvalle wat voor hom dien, geskied meestal met ongelisensieerde vuurwapens. Verder is Manenberg, die area waar die appellant gevang is, bekend vir bende verwante voorvalle waar daar ‘n skietery daagliks plaasvind, dikwels met ongelisensieerde vuurwapens en waar persone getref en gedood word in oor en weer skietery tussen bendes en ander persone.


  1. Dit is vanselfssprekend dat besit van ongelisensieerde vuurwapens kan lei tot die gebruik daarvan om misdade te pleeg, óf deur die besitter óf ander persone wat vuurwapens steel, leen of op ‘n ander wyse bekom. Hoe meer onwettige vuurwapens in omloop is,hoe groter die meerderheid beskikbaar vir die pleging van misdade.



  1. Om hierdie redes is ek van mening dat die verhoorhof nie die belange van die gemeenskap oorbeklemtoon het nie.


  1. Die appellant se persoonlike omstandighede wat voor die hof geplaas is, is die volgende. Hy is 30 jaar oud, werkloos, woon met sy oom en is ongetroud. Hy het twee minderjarige kinders. Een woon by sy suster en die ander by sy moeder. Dit is so dat hierdie omstandighede nie in die uitspraak oor vonnis verskyn nie. Dit beteken egter nie dat die appellant se persoonlike omstandighede nie deur die hof in aanmerking geneem is nie.9


  1. Voorts is die betoog ongegrond dat die appellant se vorige veroordelings oorbeklemtoon is. Die verhoorhof het die twee vorige veroordelings vir die onwettige besit van vuurwapens asook die feit dat een meer as 10 jaar gelede gepleeg is, in ag geneem. Die hof het egter tot die gevolgtrekking gekom dat die appellant nie daaruit geleer het nie of hom daaraan gesteur het nie. Ook hier kan die verhoorhof nie gefouteer word nie. Soos reeds gemeld is die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie ernstige oortredings. Indien die aanklaer die Strafwysigingswet toegepas het sou die appellant ‘n vonnis 25 jaar gevangenisstraf in die gesig gestaar het, tensy daar dwingende en wesenlike omstandighede aanwesig was wat ‘n afwyking van daardie vonnis sou regverdig.


  1. Diebetoog dat die verhoorhof geen gewig verleen het aan die tydperk wat die appellant verhoorafwagtend is, gaan ook nie op nie. Die vraag is of die vonnis wat wel opgelê is proporsioneel is met die misdrywe wat die appellant gepleeg het: of die vonnis in al die omstandighede regverdig is, insluitend die tydperk wat die appellant in aanhouding was voor sy skuldigbevinding en vonnis.10 In hierdie geval is die antwoord op hierdie vraag, myns insiens, positief.


  1. Ten slotte is ek van mening dat die verhoorhof ‘n gepaste vonnis opgelê het.Dievonnis is gebaseer op ‘n gebalanseerde oorweging van die drie elemente wat ‘n hof in ag moet neem by die oplegging van vonnis, naamlik die aard en erns van die misdryf, die belange van die gemeenskap en die persoonlike omstandighede van die beskuldigde.11


  1. Bygevolg sou ek die volgende bevel maak:


  1. Die appèl word van die hand wys.


  1. Die griffier word gelas om ‘n afskrif van hierdie uitspraak aan die Direkteur van Openbare Vervolgings: Wes-Kaap te versend met die versoek dat daar ‘n voorskrif aan alle staatsaanklaers in die Wes-Kaap uitgereik word dat waar toepaslik, daar uitvoering gegee word aan die bepalings van die Strafwysigingswet Nr 105 van 1997.


SCHIPPERS R


Ek stem saam. Dit word so gelas.


DAVIS R




Namens Appellant : Adv. D C Theunissen


In opdrag van : Regshulpsentrum

Reserwebankgebou

St George’s Mall

KAAPSTAD

8001



Namens Verweerder : Adv. JAJ Swart


In opdrag van : Direkteur van Openbare Vervolging

Buitengracht Straat

KAAPSTAD

8001


Datum van Appél : 8 November 2013


Datum van Uitspraak : 8 November 2013




1Artikel 51(2)(a) saamgelees met artikel 51(3) van die Strafwysigingswet.

2S v Matyityi 2011 (1) SACR 40 (SCA).

3Matyityi n 2 para 23.

4S v Thembalethu 2009 (1) SACR 50 (SCA).

5Thembalethun 4 paras 6 en 7.

6S v Legoa 2003 (1) SACR 13 (SCA) paras 18 en 24-27.

7S v Rabie 1975 (4) SA 855 (A) op 857D-F.

8S v M 1976 (3) SA 644 (A) op 649H.

9R v Dhlumayo and Others 1948 (2) SA 677 (A) op 702; S v Pillay 1977 (4) SA 531 (A) op 535B.

10S v Radebe and Another 2013 (2) SACR 165 (SCA) para 14.

11S v Holder 1979 (2) SA 70 (A) op 75A.