South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2013 >> [2013] ZAWCHC 33

| Noteup | LawCite

S v Kana (SS31/2013) [2013] ZAWCHC 33 (29 October 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOË HOF, KAAPSTAD)

SAAKNOMMER: SS31/2013

DATUM:29 OKTOBER 2013

In die saak tussen:

DIE STAAT

en

JOHANNES KANA

U I T S P R A A K

GOLIATH, R:

Die beskuldigde, mnr Johannes Kana, staan tereg op een aanklag van verkragting en een aanklag van moord.  Die bewering in die Akte van Beskuldiging is as volg:

Aanklag 1dat hy tussen 1 en 2 Februarie 2013 te of naby Asla Site B bougebied, Kleinbegin, Bredasdorp, wederregtelik en opsetlik ʼn handeling van seksuele penetrasie met ʼn minderjarige vrouepersoon, Anene Booysen, sewentien jaar oud, gepleeg het deur sy penis en/of ʼn ander voorwerp, onbekend aan die Staat, in haar vagina en/of anus te druk (of geslagsgemeenskap met haar te hou) sonder haar toestemming.

Aanklag 2dat hy, op dieselfde dag en plek vermeld in aanklag 1, wederregtelik en opsetlik vir Anene Booysen, ʼn sewentienjarige vroulike persoon gedood het deur sy hand en/of onbekende voorwerp in haar vagina en/of anus te druk en haar ingewande uit te ruk, en/of om op ʼn manier, onbekend aan die Staat, haar ingewande uit te ruk, waarop sy op 2 Februarie 2013 te Tygerberg Hospitaal oorlede is.

Die beskuldigde word deur mnr Du Toit verdedig.  Advokaat Marshall en advokaat True verskyn namens die Staat.

Die beskuldigde het onskuldig gepleit en verkies om sy swygreg uit te oefen.  Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het ingestem dat die notule van pleitverrigtinge ingevolge artikel 119 van die Strafproseswet, 51 van 1977, as formele erkennings ingevolge die bepalings van artikel 220 van die Strafproseswet genotuleer word en dit is ontvang as Bewysstuk A2. 

Die beskuldigde het verdere erkennings gemaak wat as formele erkennings ingevolge die bepalings van artikel 220 van die Strafproseswet, 51 van 1977, genotuleer is en ontvang is as Bewysstuk M.  Die beskuldigde erken dat die oorledene lewend op 2 Februarie 2013 vanaf die toneel, waar sy gevind was, vervoer is na Otto Du Plessis Hospitaal, Bredasdorp, en daarna lewend oorgeplaas was na Eben Donges Hospitaal, Worcester.

Hy erken die korrektheid van die J88 mediese verslae opgestel deur dr E De Kock, dr S Bissict, dr E Kotzee en dr M S Zungu, wat haar by die onderskeie hospitale behandel het.   Hy erken verder dat die oorledene lewend vanaf Eben Donges Hospitaal oorgeplaas is na Tygerberg Hospitaal, Kaapstad.

Hy erken verder die inhoud van die regsgeneeskundige lykskouingsverslag, uitgevoer deur dr K C Quarrie, op die liggaam van die oorledene, asook die oorsaak van dood as synde “mutilating genital injury and the consequences thereof.

Die beskuldigde erken ook dat die oorledene geen verdere beserings opgedoen het vanaf die tyd van die beweerde misdryf totdat die lykskouing gehou was op 4 Februarie 2013 nie.  Beskuldigde erken die korrektheid van die inhoud van drie fotobundels ontvang as Bewysstukke B, C en D.  ʼn Bekentenis deur die beskuldigde afgelê, is ontvang as Bewysstuk L.  ʼn Gesamentlike notule van die inspeksie ter plaatse gehou op 9 Oktober 2013, is ingelees in die rekord en, by ooreenkoms, ontvang as Bewysstuk Q.

Met die aanvang van die verhoor, is die volgende bewysstukke by ooreenkoms ingehandig:

Bewysstuk A1:  Klagstaat in saaknommer 122/2013 in die laerhof te Bredasdorp.

Bewysstuk A2:  Oorkonde van die verrigtinge in saaknommer 122/2013 in die laerhof te Bredasdorp.

Bewysstuk B:    ʼn Fotobundel met sleutel opgestel deur konstabel Douries van die toneel bevattende foto's 1 tot 15.

Bewysstuk C:    ʼn Fotobundel met sleutel opgestel deur konstabel Brand te Eben Donges Hospitaal bevattende foto's.

Bewysstuk D:    ʼn Fotobundel en sleutel opgestel deur adjudant-offisier Van der Westhuizen te Tygerberg Hospitaal gevattende foto's 1 tot 13.

Tydens die verloop van die verhoor is die volgende bewysstukke ingehandig:

Bewysstuk E:    Foto van ʼn pet.

Bewysstuk F:    Verklaring gemaak deur konstabel Richard Murtz.

Bewysstuk G:    Eerste verklaring gemaak deur Riaan Scheepers gedateer 4 Februarie 2013.

Bewysstuk H:    Tweede verklaring gemaak deur Riaan Scheepers gedateer 10 Februarie 2013.

Bewysstuk J:    Rowwe skets van die perseel bekend as Kallie se Pub.

Bewysstuk J1:   Fotobundel bevattende foto's 1-8 asook sketsplan van Kallie se Pub.

Bewysstuk K:    Verklaring gemaak deur Wikus Kiewiets.

Bewysstuk L:    Bekentenis afgelê deur beskuldigde gedateer 10 Februarie 2013.  Die inhoud is in die rekord ingelees.

Bewysstuk M:    Formele erkennings van die beskuldigde ingevolge artikel 220 van Wet 51 van 1977.  Die inhoud is in die rekord ingelees.

Bewysstuk N:    J88 mediese verslag opgestel deur dr Elizabeth de Kock.

Bewysstuk N1:  J88 mediese verslag opgestel deur dr Elizabeth de Kock.

Bewysstuk O:    Mediese verslag opgestel deur dr Storm Bissict.

Bewysstuk P:    Post mortem verslag opgestel deur dr KC Quarrie.

Bewysstuk Q:    Notule van inspeksie ter plaatse gehou op 9 Oktober 2013.  Die inhoud is in die rekord ingelees.

Bewysstuk R:    Lugfoto en sleutel tot foto's bevattende foto’s 1 tot 7.

Bewysstuk S:    Verklaring gemaak deur Elryno Dimitri Jameson.

Bewysstuk T:    J88 mediese verslag met betrekking tot beskuldigde opgestel deur dr Elizabeth de Kock.

Bewysstuk U:    Mediese verslag opgestel deur dr Liezel Taylor.

Bewysstuk V:    Inskrywing gemaak in die alarmregister deur Catherine de Jager.

Bewysstuk W:   Inskrywing gemaak in die patrollieboek deur Frik Fourie.

Bewysstuk X:    Aantekening van uitwysing van toneel gemaak deur kolonel Van Zyl.

Bewysstuk Z:    Afskrif van Anene Booysen se identiteitsboek.

Bewysstuk AA:  Verklaring van Johannes Kana, die beskuldigde.

Bewysstuk BB:  Foto-album opgestel deur sersant Timmie.

Bewysstuk CC: Oorkonde van die verrigtinge in die borgaansoek van Jonathan Davids alias Zwai.

Bewysstuk DD: Verdere formele erkennings gemaak deur beskuldigde, mnr Johannes Kana.

Bewysstuk EE:  J88 mediese verslag opgestel deur dr E Kotzee.

Bewysstuk FF:  J88 mediese verslag opgestel deur dr MS Zungu.

ʼn Pet is ontvang as Bewysstuk 1.  ʼn Digitale opname van Bewysstuk L, wat bestaan uit twee CD skyfies, is ontvang as Bewysstukke 2A en 2B.

Die Staat het totaal 19 getuies geroep.  Die beskuldigde het nie in sy eie verdediging getuig nie.  Hy het dan ook geen getuies geroep nie.    Die Hof gaan vervolgens oor na ʼn opsomming van die getuienis.

Eben Murtz is ʼn sekuriteitsbeampte in diens van Overberg Munisipaliteit. Op die nag van 1 tot 2 Februarie 2013 was hy aan diens te Asla Site B bougebied, Bredasdorp.  Hy het getuig dat hy die betrokke nag die Asla-perseel moes patrolleer waar die aanbou van HOP-huise byna voltooi was.

Op een van sy rondtes, omtrent 04h10 het hy ʼn gedaante gesien en kreungeluide gehoor in ʼn gedeelte van die perseel wat anderkant ʼn draad was oorkant ʼn kanaal.  Hy het sy oorsiener, mnr Fourie, ontbied wat met ʼn bakkie tot naby die punt gery het.  Hy self het om gestap na die plek.  Die polisie is ontbied, wie hulle ingelig het dat dit ʼn dame was wat daar lê.  Hy het die polisie gevolg en opgemerk dat dit ʼn damespersoon was wat erg beseer was.  Sy het op die grond gelê.  Hy kon sien dat haar derms tussen haar bene uithang.  Die perseel self was nie verlig nie en die dame het tussen twee van die nuutgeboude huisies gelê.  Hy het op die toneel gebly totdat die ambulans daar opgedaag het. 

Tydens kruisondervraging bevestig hy dat daar nie baie bloed op die toneel was nie, slegs ʼn kol omtrent so groot soos ʼn krieketbal.

Catherine Elizabeth de Jager, ʼn beheerkameroperateur van Overberg Sekuriteit het getuig dat sy op 1 Februarie 2013 omtrent 18h00 aan diens gegaan het tot die volgende oggend sesuur.  Om ongeveer vyf minute oor vier die oggend het sy ʼn “Please call me” ontvang van mnr Eben Murtz, een van hul wagte, en sy het hom toe gebel.  Hy het ʼn rapport aan haar gemaak dat ʼn beseerde vrou op die perseel is en versoek dat sy die polisie bel.  Sy het die toesighouer van die wagte, mnr Frik Fourie, ingelig en die polisie ontbied.  ʼn Inskrywing van die insident is in haar verslagboek om tien minute oor vier gemaak en ʼn afskrif van die blad is ontvang as Bewysstuk V.

Frederick Fourie het bevestig dat hy in diens was van Overberg Sekuriteit die betrokke dag, dat hy toesig moes hou oor die wagte en op roep was.  Hy getuig hy het die nag om 03h35 inspeksie gedoen by die perseel waar Anene Booysen later gevind is.  Alles was in orde tydens sy inspeksie.   Om tien oor vier is hy deur me De Jager per telefoon ontbied.  Hy is na ʼn toneel waar hy mnr Eben Murtz ontmoet het, wie aan hom ʼn plek uitgewys het.  Daar het hy ʼn erg beseerde vrou sien lê.  Hy het toe die kantoor gebel en versoek dat hulle die polisie kontak.  Hy het toe ʼn inskrywing van die insident in sy patrollieboek gemaak wat aandui dat hy die vrou om 04h25 gevind het. ʼn Afskrif van die inskrywing is ontvang as Bewysstuk W.

Konstabel Ricardo Murtz ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gestasioneer te Bredasdorp.  Gedurende die nag van 1 en 2 Februarie 2013 was hy aan diens saam met adjudant-offisier Josephs.  Hulle het ʼn klagte ontvang by die Gemeenskapsdienssentrum.  Hulle het gereageer op ʼn oproep wat omtrent 04h05 deur die polisie ontvang is.  Hulle is na die toneel met ʼn polisievangwa, waar mnr Murtz aan hulle ʼn toneel uitgewys het.  Hulle het naby die huise gestop, uitgeklim en na die dame gegaan, wie op haar rug gelê het. Haar sweetpakbroek was halfpad afgetrek tot bokant haar knieë.  Haar oë was toegeswel.  Hy het bloed agter op haar boude gesien asook ʼn bloedstreep nadat sy op haar maag omgedraai het.  Sy het probeer opstaan, maar haar bene het onder haar ingevou.  Hy sien toe iets wat lyk soos derms onder haar boude, wat langs haar bene afhang.  Sy het pyn gehad, gekreun en kon nie opstaan nie.  Hy het probeer om met haar te kommunikeer, maar sy het nie geantwoord nie.  ʼn Ambulans is ontbied.  Die skofbevelvoerder van die polisie, adjudant-offisier Vorster, het ook opgedaag en hospitaal toe gegaan in ʼn poging om hulp gouer te kry.

Konstabel Murtz het verder getuig dat die ambulans na tien tot vyftien minute opgedaag het.  Die slagoffer is ingelaai; ʼn binne-aarse drip en ʼn suurstofmasker gegee en haar ingewande is met die inhoud van ʼn drip bespoel.  Op die toneel omtrent ʼn meter van die dame is ʼn bofbalkeppie met strepe en ʼn paar skoene gevind.   Een van die ambulanspersoneel het dit saam met die slagoffer in die ambulans gelaai.   Op die toneel is ook ʼn glas en tekens van braking gevind.

Op die toneel het hy en mnr Tommie Klaasen probeer om met haar te kommunikeer. Hy het opgemerk dat die naam “Anene Booysen” op haar regter bo-arm getatoeëer is. Sy het haar kop toe geknik.  Die getuie was egter nie seker of sy by haar volle positiewe was nie.  Hy het geen inligting van haar ontvang nie. Hy is terug na die aanklagkantoor nadat die dokter die dame begin behandel het.

Tydens kruisondervraging het konstabel Murtz getuig dat die toneel onbewaak gelaat is, terwyl die polisie die ambulans na die hospitaal vergesel het.

Hy getuig verder dat hy dieselfde nag sy verklaring geskryf het, maar nie die goedere wat op die toneel gevind is, daarin genoem het nie omdat die goedere eers die volgende dag by die SAP13 deur konstabel Olivier ingehandig is.  Op vrae van die Hof, sê hy dat sy verklaring dieselfde nag geskryf is, maar slegs later beëdig is.  Hy het ook gesê dat hy slegs een ander persoon, naamlik ene Angelo, op die toneel gesien het, wie te voet op die toneel was.

Wikus Kiewiets was werksaam by Bredasdorp ambulansdienste tydens die voorval.  Hy het getuig dat hy een van die twee ambulanspersoneel was wat die betrokke oggend deur die polisie ontbied is om ʼn slagoffer by te staan. Die ambulans is saam met die polisie na die toneel.  Hy het die ambulans nader getrek en die ligte aangeskakel om beter te sien.   Hy let toe op dat ʼn persoon op haar linkerskouer op die grond lê.  Haar bene was opgetrek.  Hy het haar op haar rug gedraai om vas te stel of sy nog lewe.  Sy het ʼn kreungeluid gemaak toe hy op haar bors gevryf het.  Hy het opgemerk dat haar ingewande by haar vagina uithang.  Sy is in die ambulans ingelaai, op ʼn drip gesit en behandel.  Die ingewande is bewaar en bedek.  Haar gesig was vol blou merke.  Daar was droë bloed en blou kolle aan haar arm.  Terwyl hulle haar behandel het, het sy geskop en geslaan want sy wou nie hê hulle moes aan haar vat nie.  Sy het voortgegaan om te veg en terug te baklei.  Op die toneel het hy haar skoene, wat uit haar voete was, geneem sowel as ʼn pet of kep wat naby haar gelê het.

By die hospitaal is die skoene buite neergesit om die draagbaar uit die ambulans te kry, maar die pet was nog op die draagbaar.  Sy is aan ʼn suster by die hospitaal oorhandig en verder deur ʼn dokter behandel.  Hy getuig dat hy die dokter gehelp het om ʼn drip op te sit en haar ingewande te spoel  Nadat haar ingewande teruggesit is, het die slagoffer opgesit en water gevra.

Bewysstuk 1 (die kep) is aan hom getoon en hy het aangedui dat dit inderdaad bekend lyk.  Hy bevestig dat foto's 13 en 15 van Bewysstuk B ook lyk soos die klere wat die slagoffer aangehad het.  Op foto 1 van Bewysstuk B bevestig hy dat dit die plek was waar die slagoffer gevind is en dat foto 7 en 8 die resultaat was van haar ingewande wat buite haar liggaam daar gelê het.   Hierdie twee foto's toon menslike vlees of ingewande wat op die grond gevind is.

Tydens die inspeksie in loco het hy dan ook uitgewys waar hy die oorledene aangetref het, tussen die twee huisies, soos uitgebeeld op foto 1 van Bewysstuk B.  Tydens kruisondervraging het Kiewiets bevestig dat hy van mening was dat die oorledene nie werklik bewus was wat om haar aangaan op die stadium toe sy vir water gevra het nie.  Volgens hom het die suster aan diens, suster Europa, wel aan haar gevra wie dit gedoen het.   Die pasiënt het nie geantwoord nie, sy het slegs vir water gevra.  Hy het toe die saal daarna verlaat.

Kiewiets is ook gevra rondom paragraaf 9 in sy verklaring waarin hy sou gesê het dat, net voordat hy die hospitaal verlaat het, het hy gehoor die pasiënt (Anene) kom by. Op ʼn vraag van die suster of sy weet wie dit gedoen het, het sy (Anene) bevestigend geantwoord.  Die verklaring van die getuie is ontvang as Bewysstuk K.

Dr Elizabeth de Kock was werksaam by Otto du Plessis Hospitaal te Bredasdorp en aan diens gedurende die vroeë oggendure op 2 Februarie 2013.  Sy het getuig dat sy om vyfuur die oggend ingeroep is na ongevalle en, vyf minute later, tref sy daar ʼn vroulike pasiënt, Anene Booysen, aan wie aangerand was.  Haar eerste observasie was dat ʼn persoon daar lê met derms wat uithang tussen haar bene. Die pasiënt was gestabiliseer en op drips gesit.

Sy het dan verder die volgende opgemerk:  Die pasiënt het bilaterale kneusplekke op die oë gehad (ook bekend as racoon eyes).  Haar lippe was opgeswel.  Daar was bloeding in die oor en kneusplekke op haar gesig en liggaam.  Sy het verder opgemerk dat die dikderm en dunderm aan die buitekant van haar vagina uithang.  Die derms was vuil en vol fekale materiaal (stoelgang).  Die perineum, die area tussen die anus en die vagina, was geskeur.  Op die oog af, het die area tussen die vagina en die area wat geskeur was, voorgekom as ʼn groot opening.  Dit was moeilik om die anatomie uit te ken weens die skeur.   Die besering blyk veroorsaak te gewees het weens ʼn aanranding met ʼn skerp voorwerp in die vaginale area of as gevolg van erge stompgeweld in die area.

Sy getuig verder dat die racoon oë aanduidend kon wees van ʼn skedelbasisfraktuur.  Sy het verder opgemerk dat dele van die dunderm vermis was en dat sy nie die mesenterium kon sien nie.  Die mesenterium is belangrik vir bloedvoorsiening aan die derms.  Sy het ook opgelet dat daar perforasies is in die derms.  Volgens haar, was die hoofbeserings dus die skeur tussen die vagina en die anus; die skade veroorsaak aan die dun- en dikderm, asook die afwesigheid van die mesenterium.

Sy bevestig dat sy die pasiënt gestabiliseer het, die ingewande skoongemaak het en dit weer teruggeplaas het in die liggaam.  Die pasiënt is daarna oorgeplaas na Worcester Hospitaal. Haar bevindings met betrekking tot die oorledene is dan vervat in ʼn J88 verslag, ontvang as Bewysstuk N en N1.

Dr De Kock getuig ook dat sy die beskuldigde op 6 Februarie 2013 medies ondersoek het.  Haar hoofobservasies was dat hy verskeie krapmerke op sy knieë, arms en nek gehad het.  Dit was almal oppervlakkige krapmerke, minder as een week oud.  Die J88 mediese verslag, met betrekking tot die beskuldigde, is ontvang as Bewysstuk T.

Tydens kruisondervraging getuig sy dat daar wel penetrasie van die vagina van die slagoffer plaasgevind, wat veroorsaak was deur een of ander voorwerp wat met geweld in die vagina forseer is. Op vrae van die Hof, bevestig sy dat weens die feit dat die mesenterium afwesig was, die kanse vir oorlewing nie goed was nie.  Volgens haar moes iemand doelbewus die mesenterium afgesny of verwyder het van die liggaam.

Dr Storm Bissict het die oorledene by Worcester Hospitaal ontvang en ondersoek.  Sy getuig dat sy ingeroep is na die ongevalle-eenheid waar sy die pasiënt gevind het.  Sy het die nodige observasies gedoen op die pasiënt.  Die pasiënt het asemgehaal, kon nog mompel, het ʼn lae bloeddruk gehad en was in skok.  Volgens haar, was die pasiënt nie georiënteerd ten opsigte van tyd en plek nie en was deurmekaar.  Die pasiënt het gereageer op verbale stimulasie en het gemompel en gesê sy is dors en wou water hê.

Wat die beserings betref, het sy opgemerk dat beide oë geswel was; daar was ʼn swelling agter die regteroor asook bloed uit die regteroor.  Hierdie beserings, volgens haar, is aanduidend van ʼn moontlike skedelbasisfraktuur.  Sy het tot die konklusie gekom dat die beserings aan die kop en gesig veroorsaak was deur stompgeweld.  ʼn Ondersoek van die buik het tekens van peritonisme getoon.  By die perineum het derms uitgehang.  Sy het ʼn groot wond in die vaginale area opgelet.  Verder was die perineum verwond, met die dunderm buite die liggaam uit die vaginale area.  Sy bevestig dat daar wel gepoog was om die derm terug te plaas in die liggaam, maar dit was onsuksesvol.  Haar bevindinge is vervat in ʼn J88 verslag, ontvang as Bewysstuk O.

Dr Liezel Taylor is ʼn spesialis chirurg by Tygerberg Hospitaal. Sy getuig dat op 2 Februarie 2013 het haar kollega, dr Oke, ʼn pasiënt ontvang vanaf Worcester Hospitaal en haar na die hospitaal ontbied.  Met haar aankoms by die hospitaal vyfuur die middag, het sy die pasiënt gevind op ʼn monitor.  ʼn Slegte reuk in die area het haar getref, soos iets wat dood is.  Haar waarnemings van die pasiënt was as volg: Die pasiënt se gesig was geswel.  Sy het kneusings aan beide haar oë gehad. Daar was kneusings aan haar arms en bene en sy het ʼn groot hoeveelheid derms opgemerk tussen haar bene, wat uit die vagina kom.  Daar was ʼn groot skeur in die perineum en die vagina en dit is uit hierdie area wat die derms uitgekom het.  Die anatomie van die derms was versteur.  Die derms was nie die normale pienk kleur nie en was bleek, groenerig en pers wat aanduidend was dat dit nie meer lewensvatbaar was nie.   Daar was gate in die derms en pogings was aangewend om dit te heg en die mesenterium was nie teenwoordig nie.

Haar eksterne observasies van die vagina was dat daar ʼn groot skeur by die vaginale en omliggende areas was en die rektum was erg getraumatiseer en die anatomie versteur.  Daar was nekrotiese areas in die vagina en omliggende areas, wat beteken dat die weefsel dood was en nie meer goeie bloedvoorsiening gehad het nie.  Die kneusings aan die oorledene se oë en bebloede oor, was aanduidend van ʼn skedelbasisfraktuur.   Sy verduidelik dat toksiene, wat veroorsaak is deur die dooie derm, is in die bloedstroom afgeskei en het gelei daartoe dat die bloed suur geword het.  Die isgemiese derm, dit wil sê die dooie derm, het metaboliese asidosis aan die gang gesit, wat gelei het tot multi-orgaanversaking.

Sy getuig verder dat die pasiënt is geintubeer en daar is gepoog om haar te resussiteer maar sy was in ʼn erg geskokte toestand.  Haar toestand het vinnig agteruitgegaan.  Dr Taylor het verder getuig dat die omvang van die pasiënt se beserings, naamlik, die ekstensiewe dermbeserings, die nekrotiese vaginale area en orgaanversaking van so ʼn aard was, dat dit doelloos was om chirurgies in te gryp.  Die pasiënt het uiteindelik beswyk aan haar beserings om 21h00 op 2 Februarie 2013.

Volgens dr Taylor, was die hoofoorsaak van dood die veelvoudige beserings en ʼn moontlike skedelbasisfraktuur.  Sy getuig dat daar sonder twyfel ʼn penetrerende voorwerp in die vagina was.  Sy het nog nooit hierdie graad van trauma voorheen gesien nie, maar wel tot ʼn mindere mate by motorvoertuig slagoffers.  Haar bevindings is vervat in ʼn dokument ontvang as Bewysstuk U.

Tydens kruisondervraging getuig sy dat die spierlae tussen die vagina en die rektum (periniale spier) geskeur was.   Die liggaam was vol kneusmerke, asook op die bobene wat aanduidend is van erge geweld wat toegepas was.  Sy het die opinie uitgespreek dat die groot skeur nie deur ʼn penis veroorsaak was nie.  Sy getuig verder dat die derms wel met ʼn hand uitgeruk kon gewees het of, alternatiewelik, ʼn groot voorwerp in die vagina opgedruk, soos ʼn arm of ʼn bottel of alternatiewelik is ʼn groot voorwerp in die vagina opgedruk, soos ʼn arm of ʼn bottel.

Op vrae deur die Hof, bevestig sy dat die vaginale beserings nie veroorsaak was deur eksterne geweld nie, maar dat ʼn skeur of opening in die vagina deur iets gemaak is in die peritorium, wat veroorsaak het dat die derms uitkom.  Sy is van mening dat stomp trauma van buite dit nie kon bewerkstellig nie. 

Sy het verder bevestig dat ten spyte van die pogings wat aangewend was om die derms terug te plaas, dit voortdurend uitgestoot of uitgedruk was.  Die derms was dus weer buite die liggaam toe die pasiënt na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas was. Op ʼn vraag van die verdediging, na aanleiding van die Hof se vrae, getuig sy dat die peritoreum moet gepenetreer word om by die dik- en dunderm uit te kom.

Dr Karisha Claudia Quarrie het ʼn nadoodse ondersoek op 4 Februarie 2013 op die liggaam van die oorledene uitgevoer.  Haar hoofbevinding is dat die hoofoorsaak van dood was ʼn verminkende besering van die genitalia en die gevolge daarvan.  Haar bevindinge is vervat in ʼn verslag ontvang as Bewysstuk P.  Die belangrikste bevindinge is as volg: Daar was verskeie skaafwonde op die liggaam, naamlik, skaafwonde links en regs op die kant van die gesig en op en onder die ken, sowel as kneusmerke hoog op die voorkop en om beide oë, soos uitgebeeld in Aanhangsel A tot die verslag.  Dit is aanduidend dat stompgeweld toegepas was.  Die oë van die oorledene was bebloed en geswel, ʼn toestand bekend as “black eyes”.  Daar was geen skedelbasisfraktuur nie.

Daar was ʼn groot wond sigbaar tussen die vagina en rektum.  Die perineum was afwesig, aangesien dit vernietig was deur die besering.  Die anatomie van die vagina was versteur en die beserings sluit in die area van die vagina, rektum en pelviese ligament.  Deur laasgenoemde was ʼn gat tot in die buik.  Die dunderm het uitbeweeg vanaf die normale posisie in die buik deur die vagina na buite.  Ongeveer 1.2 meter dunderm was buite die vagina en was alreeds dood.  Die besering van die anus het die gevolg dat feses wat bedoel was om deur die anus te beweeg, in die vagina beland het.  Die traktus van die wond is as gevolg:  Die wond beweeg deur die vaginale wand deur weefsels van die vagina en weefsels van die anus en rektum.  Die traktus beweeg dan opwaarts en daarna sywaarts na regs, met ʼn perforasie van die pelviese ligament. Ander strukture in die area is getref, insluitende die urethra, vaginale weefsels en regter fallopiese buise.  Die wond eindig naby die groot bloedvate.

Haar bevindings is dan verder as volg: ʼn Klein gedeelte van die mesenterium was teenwoordig.  Die afwesigheid van ʼn groot deel van die mesenterium het veroorsaak dat die derms uit die liggaam uit beweeg.  Die weefsel, getoon in foto 6 v an Bewysstuk B, is aan haar oorhandig vir ondersoek.  Sy bevestig dat dit waarskynlik deel van die mesenterium was.  Daar is aanduidings dat die derms nie meer lewensvatbaar was op ʼn stadium toe die oorledene nog moes geleef het nie.

Daar is ook aanduidings dat verskeie organe in ʼn versnelde stadium van ontbinding was.

Haar bevindinge was dan verder dat, na haar mening, was die vaginale beserings veroorsaak deur stompgeweld.  Sy is van mening dat dit onwaarskynlik was dat dit deur ʼn skerp voorwerp veroorsaak was, aangesien die voorkoms van die wond meer gedefinieer, gladder en dieper sou wees, en sou daar meer bloeding gewees het in die area.  Selfs al sou ʼn hand in die vagina gedruk gewees het, sou nog ʼn tipe implement benodig word om toegang tot die abdomen te verkry.  Die betrokke implement moes die opening in die abdomen gemaak het. Weens die natuurlike eienskappe van die vagina, wat baie elasties en plooibaar is, is ʼn hoë graad van geweld nodig om hierdie tipe beserings te veroorsaak.  Volgens haar is stompgeweld dus die meer waarskynlike oorsaak van die besering.  Sy het die mening uitgespreek dat meer as een hou nodig was om die skade te veroorsaak.

Riaan Scheepers is ʼn vriend van die beskuldigde en die oorledene, Anene Booysen.  Hy getuig dat hy die Vrydagaand, 1 Februarie 2013, saam met die beskuldigde en ander vriende, eers by ʼn vriend, Steven van der Merwe, se huis was, waar hulle gesellig verkeer het.  Daar het hulle gedrink, ʼn Oka pyp gerook en foto's geneem.  Daarna het hy, die beskuldigde, Gershwin, Chrisna en Seunie (of Adriaan soos hulle hom noem) na “Kallie se Pub” (“pub”) geloop.  Hulle het ongeveer eenuur die oggend daar opgedaag en saam by ʼn tafel gesit.  By die pub was hy, beskuldigde, Gershwin, Chrisna, Essie en Richard Makaya.   Sy meisie, Patricia, asook Beulah en Anene het ook by hulle tafel aangesluit.  Hulle het almal hulle geld bymekaar gegooi en biere gekoop.

Scheepers het getuig dat hy en sy meisie die aand ʼn meningsverskil gehad het en twee keer die drinkplek of die pub verlaat het.  Die tweede keer het sy weggestap in die rigting van die Asla-perseel.  Toe sy nie saam met hom wou terugkom nie, het hy alleen teruggestap na die pub.  Op pad het hy toe die beskuldigde en die oorledene saam sien aankom vanaf die rigting van die pub. Hulle het verby hom gestap.  Hy en beskuldigde het ʼn paar woorde met mekaar gewissel.  Beskuldigde en Anene het daarna voortgestap in die rigting van die Asla-perseel.

Nadat hy met beskuldigde gepraat het, sien hy sy vriende, wat deel van sy groep was, naamlik Chrisna, Richard en Gershwin, buite die drinkplek. Hulle het aangedui dat hulle huis toe gaan. Patricia het toe ook daar opgedaag en hy en Patricia is saam huis toe.  Dit was ongeveer twee-uur die oggend toe hy die beskuldigde en Anene saam daar gesien het.

Scheepers het verder getuig dat hy die volgend oggend, Saterdag, omtrent 10h30 gehoor het dat Anene verkrag is.  Hy het vir die beskuldigde gebel, maar hy was nie tuis nie en hy het ʼn boodskap gelos.  Na ʼn rukkie, het die beskuldigde by Patricia se ouerhuis opgedaag en van hom verneem waarom hy hom gebel het.  Hy vra vir beskuldigde waar hy vir Anene die vorige oggend gelos het. Die beskuldigde het geantwoord dat hy die vorige nag die oorledene agter die drinkplek gelaat het, nadat hy haar gootmaakma en nog ʼn man, wat daar verbygekom het, geroep het met ʼn fluit en gesê het dat die oorledene dronk is. Hy het aan hulle gesê “Wag vir haar, sy is dronk”, soos deur Scheepers getuig.  Scheepers het toe aan die beskuldigde vertel wat met Anene gebeur het.  Volgens hom het die beskuldigde geskok gelyk, toe hy verneem het dat die oorledene verkrag is.

Scheepers het getuig dat paragraaf 4 en 5 van sy eerste verklaring deur die polisie op 4 Februarie 2013, verkeerd afgeneem is en dat die verwysing na ʼn man en vrou moes ingekom het by sy gesprek met die beskuldigde Saterdagoggend en nie vroeër nie.  Hy het ook ontken dat hy vir die polisie gesê het die beskuldigde het 15 minute, nadat hy vir Anene weggeneem het, na hulle teruggekom.  Hy getuig dat hy hierdie foute reggestel het in ʼn tweede verklaring wat hy by die polisie op 10 Februarie 2013 afgelê het.  Beide verklarings van Scheepers is ingehandig en ontvang as Bewysstuk G en H.

Scheepers het egter verder getuig oor ʼn aspek wat nie in een van sy verklarings genoem is nie.  Hy getuig dat hy die beskuldigde gesien het op 10 Februarie 2013 by die polisiekantore, nadat hy sy tweede verklaring afgelê het.  Die beskuldigde was ingebring deur ʼn polisiekaptein, wat die beskuldigde toe aangesê het om te herhaal wat hy so pas vir Patricia se ouers sou gesê het.  Die beskuldigde het toe aan hom gesê dat hy jammer is dat hy dit gedoen het en dat hy om vergifnis vra.  Volgens Scheepers, het die beskuldigde baie “af gelyk” toe hy dit sê.  Scheepers het ook die pet wat op die toneel naby die slagoffer gevind is, uitgeken as dié van die beskuldigde wat hy opgehad het die aand toe hulle na die pub toe is.   Scheepers het getuig dat beskuldigde  gereeld hierdie kep gedra het.

Tydens kruisondervraging het Scheepers bevestig dat die beskuldigde se weergawe van wat die aand met hom en die oorledene gebeur het, ontlok is deur vrae wat hy aan die beskuldigde gevra het, voordat hy die beskuldigde ingelig het dat Anene verkrag is.  Hy kan nie onthou of die beskuldigde sy pet opgehad het toe hy hom met die oorledene sien wegstap het nie.  Hy het egter toegegee dat hy in sy tweede verklaring vermeld het dat beskuldigde nie toe sy pet opgehad het nie.

Tydens kruisondervraging het hy ontken dat sy eerste verklaring korrek was. Hy bevestig dat sersant Olivier hom kom haal het en versoek het om nog ʼn verklaring af te lê. Hy het ontken dat hy probeer het om die beskuldigde te beskerm, hy was bewus dat die beskuldigde in hegtenis was toe hy die tweede verklaring afgelê het.   Hy het eers die verklaring afgelê op 10 Februarie 2013 en die beskuldigde is daarna na hom toe gebring.

Tydens ondervraging deur die Hof het hy bevestig dat hy meen die beskuldigde het vrywilliglik erkennings teenoor hom gemaak in die teenwoordigheid van die polisiekaptein. Hy het gesê dat hy nie self uit sy eie verklarings aan die polisie gegee het nie, maar ontbied is na hulle en, volgens hom, is die weergawe in die tweede verklaring die korrekte weergawe.

Chrisna Mentoor het getuig dat sy die beskuldigde ken vandat hulle saam by die brandweer vir ongeveer agtien maande gewerk het en vir die oorledene vandat hulle op ʼn stadium saamgebly het vir omtrent ʼn jaar.

Op 1 Februarie 2013 het sy en vriende beplan om saam te kuier en hulle het dit ook gedoen, eers by Steven van der Merwe se huis, en later vanaf ongeveer eenuur vroegoggend by die pub.  Sy, Gershwin, Richard, Riaan en die beskuldigde het saamgeloop na die pub.  Hulle het almal saam by ʼn tafel gesit.  Toe die mans dans, het sy en haar niggie, Estralita (Essie) die oorledene geroep om by hulle aan te sluit.  Die mans het warm gekry en Riaan en Gershwin het hulle tops uitgetrek en die beskuldigde het sy pet geneem en by haar neergesit.  Nadat Riaan en sy meisie huis toe is, het die groep die drinkplek verlaat.

Buite die drinkplek het sy opgemerk dat die oorledene se ma, Corlia, en ʼn onbekende man daar was om die oorledene te kom oorhaal om huis toe te kom.  Die oorledene het geweier om huis toe te gaan en dit het in ʼn skellery ontaard totdat die ma en die man geloop het.  Die oorledene het agtergebly met ʼn glas wyn in die hand.  Die beskuldigde het sy pet by haar (Chrisna) gesoek en was ontevrede omdat dit vermis was.  Hy het haar beskuldig dat sy nalatig met sy goed was omdat sy pet weg was. 

Die groep loop toe vanaf die drinkplek weg.  Die beskuldigde en die oorledene het alleen agter om verby die pub geloop in die rigting van die Asla-bougebied.  Volgens Chrisna Mentoor, was hy op pad om die oorledene te gaan wegneem.  Die oorledene het nog steeds die glas in haar hand gehad.  Chrisna het getuig dat almal van hulle, insluitende die beskuldigde en Anene, tussen twee- en drieuur die oggend die pub verlaat het.

Mentoor het getuig dat sy die beskuldigde eers weer die volgende oggend gesien het, toe haar suster hom geroep het om sigarette te gaan koop en hy het toe saam met haar (Chrisna) werk toe gestap het.  Hy het toe weer aan haar genoem dat hy nie weet wie sy pet gevat het nie.  Sy het eers die volgende dag, Sondag, uitgevind omtrent die oorledene en is Maandag deur sersant Olivier gehaal om ʼn verklaring af te  lê en weer twee dae later.

Mentoor het verder getuig dat paragraaf 6 van haar eerste verklaring geneem op 4 Februarie 2013 nie die waarheid was nie.   Sy het getuig dat sy verkeerdelik daarin verklaar het dat die beskuldigde dié aand saam met haar huis toe gestap het.  Sy het dit gesê om hom te beskerm.  Die dag na sy haar eerste verklaring afgelê het (Dinsdag) het sy met die beskuldigde daaroor gepraat.  Hy het haar gevra wat sy in haar verklaring gesê het en toe gesê sy kan daarby hou of sê wat op haar hart is.  Sy het egter die waarheid vertel in haar tweede verklaring wat die polisie op 8 Februarie 2013 by haar afgeneem het.  Sy het besluit om die waarheid te praat, nadat die polisie haar herhaaldelik uitgevra het oor haar eerste verklaring, waarin sy verklaar het dat die beskuldigde die aand van die insident saam met haar huis toe gestap het. Sy het ook die bofbalpet, wat langs die oorledene opgetel is (Bewysstuk 1) uitgewys as die eiendom van die beskuldigde.

Daarna het die Hof ʼn inspeksie in loco by die toneel gaan hou by die kroeg, dit is Kallie se Pub, waar die beskuldigde en die oorledene die aand saam met hulle vriende was.  Die toneel waar die slagoffer, Anene, later die oorledene, gevind is, is ook besoek tydens die inspeksie.  Na die inspeksie het die getuie, Chrisna Mentoor, voortgegaan met haar getuienis. Sy het beskryf hoe hulle twee meter vanaf die kroeg se ingang voor die kroeg gestaan het, nadat hulle die perseel verlaat het, terwyl Anene so twee meter oos van hulle met haar ma staan en skel het omdat sy nie wou huis toe gaan nie.   Haar ma en die man, wat saam met haar was, het toe aan die westekant van die gebou om weggeloop huis toe.

Mentoor het getuig dat die beskuldigde en die oorledene toe ook saam begin loop het, maar dat hulle aan die oostekant van die gebou om is.   Die res van die groep het toe ook ooswaarts in Bastiaanstraat afgeloop en sy het gesien hoe die beskuldigde en die oorledene agter om die hoek van die pub loop.  Tydens kruisondervraging het sy bevestig dat sy nie agtergekom het dat die beskuldigde se pet weg was nie, maar sy het dit nie by hom gesien toe hy daarvoor soek buite die kroeg nie.  Sy het bevestig dat die beskuldigde die tipe man was wat vrouens beskerm het teen geweld en ander mans.  Toe sy die oorledene laas gesien het, het sy normaal voorgekom en met die beskuldigde gesels toe hulle om die hoek van die kroeg beweeg het.

Tydens ondervraging deur die Hof, het Mentoor gesê sy stem saam met ʼn skatting dat die afstand tussen die kroeg en die Asla-bougebied, waar die slagoffer gevind is, wel 233m is.  Sy het bevestig dat sy die beskuldigde en die oorledene ongeveer ewe lank geken het en dat sy ʼn leuen in haar eerste verklaring vertel het om die beskuldigde te beskerm, omdat hy haar vriend was en laaste saam met die oorledene gesien is.   Sy het bevestig dat die beskuldigde en die oorledene nie dronk was daardie nag toe hulle saam van die kroeg weg is nie en dat die oorledene in ʼn vrolike luim was.   Sy bevestig dat die beskuldigde vir haar gesê het sy kan hou by haar verklaring of sê wat op haar is.  Dit het haar egter gepla dat sy leuens vertel het.  Sy wou nie saamleef met ʼn leuen nie en vir haar kind se onthalwe wou sy nie in die moeilikheid kom by die gereg nie.  Sy het dus die waarheid in haar tweede verklaring vertel.

Patricia Leonard is Riaan Scheepers se meisie.  Sy is goed bekend met die beskuldigde en die oorledene.  Sy ken die beskuldigde vir ongeveer een jaar en vyf maande en hulle is goeie vriende.  Sy en die oorledene het saam grootgeword en op ʼn stadium saam op ʼn plaas gewoon vir meer as vyf jaar. Daarna het die oorledene na haar grootmaakma, Corlia, getrek.  Die oorledene het ook op ʼn stadium vanaf 2009 tot Desember 2012 by hulle (Patricia Leonard) gewoon toe hulle dorp toe getrek het en daarna het die oorledene terug na Corlia toe getrek.  Anene Booysen was vir haar soos ʼn suster.

Die naweek van 1 Februarie 2013, was Patricia Leonard ook by Kallie se Pub.  Sy, Beulah en Nadia het tussen tien- en elfuur die aand daar gekom. Anene was reeds daar toe hulle daar aankom.  Anene het by hulle aangesluit en hulle het saam gedrink.  Anene het ook gedans.  Anene se broek het geskeur en sy (Patricia) is saam met Anene weg na haar huis om ʼn ander sweetpakbroek aan te trek.  Hulle is daarna terug na die pub en het verder gedrink.  Patricia se kêrel, Riaan Scheepers, het een tot twee uur later met werkskollegas daar aangekom. Riaan was met Chrisna, beskuldigde, Ola en Lud. Hulle het by ʼn tafel langs haar aangesit.

Patricia Leonard bevestig Riaan Scheepers se getuienis dat hulle twee op twee geleenthede gestry het, waarna hulle die pub verlaat het.  Op die eerste geleentheid is sy terug in die pub in, nadat Riaan haar R50 gegee het.  Hulle het verder gesit en drink vir ʼn paar uur, toe sy en Riaan weer begin stry het.  Sy het die pub verlaat, Riaan het haar gevolg maar besluit om liewer terug pub toe te gaan. ʼn Rukkie daarna sien sy weer vir Riaan terug in haar rigting aangestap kom. Hulle het bymekaar aangesluit en is huis toe.  Sy kan nie onthou hoe laat hulle huis toe is nie, maar die pub was oop vir 24 uur.

Saterdagoggend, na tienuur, het sy by haar ma gehoor wat met Anene gebeur het.  Riaan het toe vir die beskuldigde gebel.  Beskuldigde kom toe na haar woning.  Riaan het toe vir die beskuldigde gevra of hy dan nie vir Anene huis toe geneem het nie. Volgens haar het beskuldigde gesê dat hy vir Anene halfpad huis toe geneem het.  Hy wou haar blykbaar huis toe neem, maar Anene het geweier.  Die beskuldigde sê toe vir hulle hy het toe omgedraai en terug pub toe gegaan.

Die volgende dag, Saterdag, was die beskuldigde die heeldag by haar woning. Hy was deel van ʼn groep wat saamgedrink het. Hulle het wel oor Anene gepraat en die beskuldigde het sy skok uitgespreek oor die voorval.

Sondag, 3 Februarie 2013, het die polisie vir haar, Beulah en Nadia kom haal en na die polisiestasie geneem. Sersant Olivier het op dié dag ʼn verklaring van haar afgeneem.  Die daaropvolgende Sondag, 10 Februarie 2013, was sy, Riaan en nog vriende, wie by die pub was, almal by die polisiestasie. 

Op 10 Februarie 2013 is ʼn tweede verklaring deur sersant Vermeulen van haar afgeneem.  Nadat sy haar verklaring afgelê het, het sy alleen in ʼn kantoor gesit.  Die beskuldigde het saam met die polisiebeamptes opgedaag en in haar rigting geloop.  Hy het aan haar gesê hy is jammer vir wat hy gedoen het en hy hoop hulle sal hom eendag kan vergewe.  Die beskuldigde het nie aangedui waarom hy jammer was nie.  Riaan Scheepers het ook op ʼn stadium ingekom en daar het ʼn gesprek tussen hom en die beskuldigde plaasgevind, maar sy kon nie hoor nie. Sy was op daardie stadium emosioneel en het gehuil.

Sy getuig dat daar geen verhouding tussen die beskuldigde en Anene was nie.  Anene het wel een maal aan haar genoem dat sy van die beskuldigde hou. Volgens haar, het Anene nie ʼn kêrel gehad nie.  Sy het nie veel opgelet die aand in die pub of Anene en die beskuldigde met mekaar gepraat het nie. Op vrae van die Hof bevestig sy dat Anene taamlik dronk was.  Sy is nie seker van die beskuldigde se toestand nie.

Corlia Olivier was Anene Booysen se pleegmoeder.  Sy het getuig dat die oorledene vanaf drie jaar oud in haar sorg was.  Die oorledene het ook ʼn ouer broer en suster, maar slegs oorledene en die broer was by haar.  Sy het getuig dat die oorledene se moeder oorlede is en haar pa êrens op ʼn plaas werksaam was.   Verder het sy verduidelik hoe die oorledene en haar broer in haar sorg beland het.  Hulle het aanvanklik op ʼn plaas in Melkbos gewoon, waar die oorledene skool gegaan het en later het sy die oorledene by ʼn skool in Bredasdorp ingeskryf, waar sy St.5 voltooi het.  Voor haar dood was die oorledene werksaam by Asla as ʼn skoonmaker.  Sy bevestig dat die oorledene vanaf 2009 tot 2013 by Patricia Leonard woonagtig was, maar dat sy gedurende Januarie 2013 teruggetrek het na haar huis.

Op 1 Februarie 2013 het Anene haar gevra of sy pub toe kan gaan en sy is ongeveer vyfuur die middag daar weg.  Anene het baie later weer by die huis opgedaag om haar driekwartbroek te vervang met ʼn vaal broek met wit strepe.  Anene is toe weer weg.  Sy self het toe by ʼn vriendin Elsie gaan drink en ongeveer twaalfuur middernag het sy besluit om vir Anene te gaan soek, aangesien haar spertyd tienuur die aand was.  Ryno, ʼn vriend van Elsie se kinders, het aangebied om saam met haar pub toe te gaan om vir Anene te gaan haal.

Corlia Olivier getuig dan verder dat toe sy by die ingang van die pub, by die glasdeur, kom, merk sy vir Anene wie besig was om uit te kom.  Sy het met Anene geraas en versoek dat sy huis toe moes kom aangesien haar inkomtyd tienuur die aand was. Hulle het saam uit die pub geloop en sy het voortgegaan om met Anene te skel.  Anene het haar nie daaraan gesteur nie en het geweier om huis toe te kom.  Anene het by die pub gebly en sy self het huis toe gegaan.  Ryno het saam met haar teruggeloop.  Sy het op Bewysstuk R verduidelik hoe sy links saam met Anene uit die pub beweeg het, waar hulle gestry het en waar sy agter om die pub beweeg het tot in ʼn voetpaadjie wat lei in die rigting van haar huis. Sy is nie seker hoe laat sy vir Anene daar agtergelaat het nie.

Corlia Olivier getuig verder dat daar wel mense in en uit die pub beweeg het, maar dit was stil waar sy huis toe gestap het.  Sy was deur niemand gestop of geroep nie. Sy bevestig dat Anene dronk was op die stadium toe sy met haar gepraat het.  Saterdag, voor seweuur die oggend, is sy wakker geklop deur ʼn man en vrou wat by haar verneem het of sy Corlia is en haar toe versoek het om saam met hulle Bredasdorp Hospitaal toe te gaan.  By die hospitaal sien sy ʼn ambulans en Anene se skoene op die dreingat.  Sy het onmiddellik die skoene uitgeken aan die veters.  Sy hoor toe ʼn gil waar iemand skree “Help my!”  Sy hardloop toe in die hospitaal, ruk die gordyn oop en sien ʼn derm wat uit Anene se vagina “uitkruip”.  Sy was uit die kamer verwyder en sy het buite gaan staan.  Later het ʼn suster haar versoek om in te kom nadat hulle besef het dat sy die moeder van die pasiënt is.

Sy is na Anene geneem waar sy op ʼn bed gelê het.  Sy het met haar gepraat en gevra wie haar so seergemaak het. Anene het toe aan haar ʼn mededeling gemaak.  Sy het aan Anene se hand gevoel, wat koud was.  Anene het haar versoek om haar toe te maak, wat sy toe gedoen het.  Sy is toe later weg van die hospitaal.  Sy het later verneem dat Anene oorgeplaas is na Worcester Hospitaal en van daar af na Tygerberg Hospitaal.  Daardie middag, 2 Februarie 2013, is sy deur speurder Marthinus na Tygerberg Hospitaal geneem.  Anene was reeds oorlede toe sy by die hospitaal opdaag.

Corlia Olivier getuig dat sy niemand bekend by die pub gesien het toe sy daar was nie. Anene het twee vriende gehad, Cheswin en Alfonso, wat bekend was aan haar.   Sy weet nie of Anene ʼn kêrel gehad het nie, want Anene was ʼn stil geheimsinnige persoon.  Sy was ook baie huisvas, het televisie gekyk en was nie ʼn gereelde besoeker by die pub nie, sy was eintlik verbaas toe Anene sê dat sy na die pub toe gaan.  Tydens kruisondervraging bevestig sy dat Anene die naam “Zwai en sy tjommies” aan haar genoem het, toe sy haar gevra het wie dit aan haar gedoen het.

Elryno Dimitri Jameson (ook bekend as Ryno) het getuig dat hy beide die oorledene sowel as die beskuldigde slegs van sien geken het.  Op die betrokke nag het hy by vriende gesit en drink, toe Corlia Olivier daar aangekom het.  Corlia het versoek dat iemand haar vergesel na die pub om vir Anene te gaan soek.  Aanvanklik wou niemand saam met haar gaan nie, later wou Jameson nog drank gaan koop en sy het saam met hom gestap tot by die pub om vir Anene te gaan haal om huis toe te kom. 

Hy sê dat Corlia vir Anene kry uitkom het by die pub, toe hulle daar kom.  Die twee van hulle het geredeneer en hy het solank aangestap.  Op ʼn stadium het hy teruggekyk na hulle waar hulle staan en praat. In die donker kon hy sien dat ʼn persoon van agter af vir Anene hand om die lyf vashou met sy kop in haar nek.  Die persoon het ʼn pet opgehad. Volgens hom was dit so 03h00 die oggend.  Na ʼn rukkie het Corlia vir Anene daar gelos en weer by hom aangesluit.  Hy het toe al die idee laat vaar om nog drank te gaan koop en het saam met Corlia tot by haar huis gestap.  Hulle het niemand op pad raakgeloop en niemand het vir hulle geroep of gefluit nie.  Jameson het aangedui dat dit by die kroeg gelyk het soos toemaaktyd en dat dit, volgens sy kennis, ten minste tussen 03h30 en 0h400 moes gewees het.

Onder kruisondervraging het Jameson toegegee dat as dit toemaaktyd was by die kroeg, dit dan later moes wees as sy aanvanklike skatting van so 03h00 die oggend. Hy het ook gesê dat hy nie werklik ooit tot by toemaaktyd by die kroeg gebly het nie. Hy het erken dat beide hy self en Corlia dronk was.  Toe hy gekonfronteer is met sy verklaring aan die polisie waarin hy gesê het dat dit ʼn manspersoon was wat Anene vasgehou het, het hy ontken dat hy die woord “mans”-persoon genoem het, volgens hom het hy bloot gesê ʼn persoon het by Anene gestaan.  Hy het bevestig dat hy in die donker net kon sien dat dit ʼn persoon was wat ʼn pet of kep opgehad het.

Elzine Fortuin, die negentienjarige meisie van beskuldigde, het getuig dat op Vrydagaand, 1 Februarie 2013, die beskuldigde (aan haar bekend as “Cooper”) haar kom haal het.  Hulle is na ene Steven se huis waar bier en Amarula gedrink is.  Omstreeks 01h00 die volgende oggend het die beskuldigde haar huis toe geneem.  Sy het eers die Sondag in die kerk verneem van wat met Anene Booysen gebeur het.  Na kerk het sy beskuldigde gesien en hy het gesê hy ken Anene.

Riaan Scheepers het die beskuldigde laat weet dat die polisie hom wil sien.  Na sy besoek aan die polisie, het die beskuldigde aan haar gesê dat sy pet en Scheepers se top is op die toneel gevind.   Fortuin het gesê dat sy die volgende Sondag versoek is om ʼn verklaring by die polisiestasie af te lê.   Terwyl sy daar was, is sy na buite geneem waar die beskuldigde was.  Die beskuldigde het toe vir haar gesê hy is jammer en sy moet ook dit vir haar familie en sy vriende oordra.  Dit het haar ontstel en sy het nie verder uitgevra nie.  Volgens haar het hy vrywilliglik met haar gekommunikeer.

Kolonel Van Zyl is verbonde aan die Mitchell's Plain Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid.  Op 21 Februarie 2013 is sy deur adjudant-offisier Abels gekontak en versoek om behulpsaam te wees met ʼn uitwysing in ʼn saak te Bredasdorp.  Op Vrydag, 22 Februarie 2013, het sy by die Bredasdorp polisiestasie vir die beskuldigde gewag, wie kort na elfuur die oggend na haar gebring is.  Sy het ʼn pro forma dokument ontvang vir doeleindes van die uitwysing.  Sy het haar voorgestel aan die beskuldigde en die rede verduidelik waarom sy daar was.  Die Staat het aangedui dat die Staat van voorneme is om getuienis te lei met betrekking tot die pro forma dokument en ʼn gepaardgaande uitwysing.   Die verdediging het beswaar aangeteken en aangedui dat die toelaatbaarheid van die getuienis met betrekking tot die uitwysing betwis word op grond daarvan dat die beskuldigde nie behoorlik van sy regte in terme van artikel 35 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 1996 (Wet 108 van 1996) ingelig is nie.

Dit is aangevoer dat hy (beskuldigde) nie ingevolge artikel 35(1)(a) en (b) ingelig is dat enigiets wat hy gaan sê of uitwys, teen hom in ʼn hof gebruik mag word nie.  Die verdediging het aangevoer dat dit die beskuldigde se reg tot ʼn regverdige verhoor sal aantas, indien die getuienis toegelaat word.  Die Hof het gelas dat ʼn binneverhoor gehou word  ten einde die toelaatbaarheid van die getuienis te bepaal. Die Hof het bevind dat die getuienis met betrekking tot die uitwysing ontoelaatbaar is.  Hier volg die Hof se redes:

Kolonel Van Zyl het getuig dat sy die beskuldigde die oggend alleen by die Bredasdorp polisiestasie gespreek het.   Sy het die pro forma vorm begin voltooi.  Sy het sekere regte aan die beskuldigde verduidelik, maar het egter nie verbatim die pro forma vorm gevolg nie. Sy het op ʼn informele wyse met die beskuldigde kommunikeer en alle aanduidings aan haar was dat die beskuldigde sy regte verstaan.  Sy gee egter toe dat sy op geen stadium vir die beskuldigde gesê het dat dit wat hy gaan sê of uitwys, teen hom in ʼn hof gebruik mag word nie.  Die onderhoud waar die beskuldigde se regte aan hom verduidelik word, is opgeneem in ʼn video-opname waarin dit duidelik blyk dat die beskuldigde nie dienooreenkomstig ingelig was nie.

Luitenant Moss is in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens sedert 1982.  Hy is verbonde aan die Sielkundige Ondersoekgerigte Misdaadeenheid sedert Januarie 2013.  Hy bevestig dat hy die beskuldigde vir die eerste keer gesien het op 9 Februarie 2013, waarop hy ʼn onderhoud met die beskuldigde gevoer het.  Hy het die beskuldigde behoorlik van sy regte ingelig voor die onderhoud.  Beskuldigde was gemaklik en het spontaan met hom gekommunikeer. Beskuldigde het hom op dié dag (9 Februarie 2013) ingelig dat hy bereid was om alles te vertel en te wys waar alles gebeur het.   Op 10 Februarie 2013 het die beskuldigde ʼn bekentenis afgelê.  Op 22 Februarie 2013 het hy die oggend agtuur weer met die beskuldigde gepraat, hom van sy regte ingelig, en ʼn gesprek met hom gevoer oor ʼn brief wat hy (beskuldigde) op 21 Februarie 2013 van die beskuldigde ontvang het.  Hy het met beskuldigde bevestig dat die polisie van voorneme is om ʼn uitwysing te reël.  Hy het met die beskuldigde se prokureur gepraat oor die uitwysing en vir hom ʼn afskrif van beskuldigde se brief en bekentenis gegee.  Hy was nie deel van die uitwysing nie, maar was bewus daarvan dat dit op 22 Februarie 2013 gedoen is.  Hy het verskeie aantekeninge in sy dagboek gemaak met betrekking tot sy kontak met die beskuldigde.

Adjudant-offisier Abels is die ondersoekbeampte in die saak, gestasioneer te Hermanus.  Op 21 Februarie 2013 het hy die nodige reëlings getref vir die uitwysing met kolonel Van Zyl.  Volgens hom het die beskuldigde reeds op 9 Februarie 2013 ʼn aanduiding gegee dat hy ʼn uitwysing wil doen en op 10 Februarie 2013 ʼn bekentenis gemaak.  Die uitwysing is gereël vir 22 Februarie 2013.

Hy self was nie betrokke by die onderhoud met betrekking tot die uitwysing nie.   Luitenant Moss het wel met beskuldigde oor ʼn uitwysing gepraat. Dit is aan Moss en Abels gestel dat die beskuldigde ontken dat hy op 9 Februarie 2013 aangedui het dat hy ʼn uitwysing wil doen.  Dit is aan luitenant Moss gestel dat die beskuldigde ontken dat hy die oggend van 22 Februarie 2013 met hom in gesprek was.  Dit is aan adjudant-offisier Abels gestel dat die beskuldigde ook ontken dat hy aan hom oorhandig was voor sy onderhoud met kolonel Van Zyl.

Die beskuldigde het getuig dat hy wel ʼn uitwysing gemaak het op 22 Februarie 2013.  Hy ontken dat hy reeds op 9 Februarie 2013 ʼn aanduiding gegee het dat hy ʼn uitwysing wou doen.  Hy voer aan dat die polisie die kwessie van ʼn uitwysing geïnisieer het.  Hy is vanaf die gevangenis na die hospitaal vir ʼn mediese ondersoek en daarna na die Bredasdorp polisiestasie, waar hy reguit na kolonel Van Zyl geneem is.  Hy bevestig dat hy nooit ingelig is dat dit wat hy sê teen hom in ʼn hof gebruik mag word nie.  Hy was gewillig om ʼn uitwysing te doen om die polisie te help in hul ondersoek.  Indien hy egter ingelig was dat dit wat hy sê teen hom gebruik mag word in die hof, sou hy nie die uitwysing gedoen het nie.

Die getuienis gelewer in die verhoor-binne-'n-verhoor het die volgende getoon:  Kolonel Van Zyl beweer dat die beskuldigde direk uit die vangwa na  haar gebring is, waar sy vir hom gewag het by die polisiestasie.  Abels sê egter die beskuldigde is aan hom oorhandig, waarop hy die beskuldigde aan kolonel Van Zyl oorhandig het.  Moss beweer dat hy wel die oggend van 22 Februarie 2013 die beskuldigde na aanleiding van ʼn brief gespreek het, waar hy sy regte aan hom verduidelik het. Abels dra nie kennis dat die beskuldigde vir Moss die oggend agtuur op 22 Februarie 2013 sou gesien het nie.  Die beskuldigde ontken dat hy vir Moss of Abels die oggend van 22 Februarie 2013 gesien het.  

Daar was dus duidelik teenstrydighede oor of Abels en Moss wel die oggend van 22 Februarie 2013 die beskuldigde gesien het.  Beide Moss en Abels het bevestig dat hulle niks met die uitwysing te doen gehad het nie.  Dit was dus duidelik dat kolonel Van Zyl die verantwoordelike beampte was vir die proses wat die uitwysing vooruitgegaan het.  Op haar eie weergawe het sy nooit die beskuldigde ingelig dat dit wat hy sê teen hom in ʼn hof gebruik mag word nie.

ʼn Uitwysing is niks anders as ʼn erkenning deur gedrag en moet as sulks, soos in die geval van ʼn mondelinge of geskrewe erkenning, deur die Staat bewys word as toelaatbare getuienis alvorens dit ontvang kan word as bewysmateriaal.  Sien S v January; Prokureur-Generaal, Natal v Khumalo 1994 (2) SASV 801 (A) op 806b-807d.

Die Staat het, met verwysing na Magmoed v Janse van Rensburg 1993 (1) SASV 67 (A) betoog dat die beskuldigde sedert sy inhegtenisname deurentyd van sy regte ingelig was.  Die Staat het aangevoer dat dit in die openbare belang is dat sy uitwysing as getuienis toegelaat word met verwysing na S v Makwanyane 1995 (2) SASV (CC).   Die Staat, met verwysing na Key v Attorney-General Cape of Good Hope Provincial Division [1996] ZACC 25; 1996 (4) SA 187 (CC) en S v Tshabala 1999 (1) SASV 412, het verder betoog dat die Hof steeds ʼn diskresie het om, na oorweging van alle faktore, wel getuienis wat op ongrondwetlike wyse verkry is, wel toelaatbaar kan bevind indien dit nie sal lei tot ʼn onbillike verhoor of die regspleging in diskrediet sal bring nie.  Die Staat het betoog dat die kumulatiewe feite in hierdie saak wel ʼn bevinding regverdig om die getuienis met betrekking tot die uitwysing  wel toe te laat.

Die verdediging het betoog dat die beskuldigde se grondwetlike regte geskend is toe hy die uitwysing aan die polisie gemaak het.   Die verdediging, met verwysing na S v Orrie and Another 2005 (1) SASV 63 (C) het betoog dat die versuim om die beskuldigde na behore van sy konstitusionele regte in te lig, fataal is en wel inbreuk maak op sy regte tot ʼn regverdige verhoor.

Die oorsig van kolonel Van Zyl het die effek gehad dat die beskuldigde nie na behore van sy reg teen self-inkriminasie ingelig is nie.  Die reg teen self-inkriminasie in kriminele sake is ʼn fundamentele voorvereiste van ʼn regverdige verhoor.  In S v Botha and Others 1995 (2) SASV 605 word ʼn noukeurige ondersoek gedoen na die beskerming teen self-inkriminering.  Van Zyl het dus erken dat die uitwysing gedoen is, nadat sy versuim het om die beskuldigde van sy konstitusionele reg ingevolge artikel 35(3)(j) in te lig.

Die bepalings van artikel 35 van die Grondwet maak voorsiening vir, onder andere, ʼn gearresteerde, aangehoudene of beskuldigde se reg op ʼn stilswye en beskuldigde se reg op ʼn billike verhoor.  Die Hof moet dus bepaal of die getuienis, wat verkry is strydig met die beskuldigde se konstitusionele regte, indien dit toegelaat sou word, die verhoor onregverdig maak. 

Die Hof het, na oorweging van die getuienis, die benadering in S v Orrie supra gevolg.  Die Hof was van mening dat daar wel op die beskuldigde se regte inbreuk gemaak was voor die uitwysing deurdat hy nie na behore sy regte verduidelik is nie.  Die Hof is tevrede dat daar inderdaad ʼn skending van beskuldigde se regte ingevolge die Grondwet was.  Die Hof was van mening dat, indien hierdie getuienis toegelaat word, dit die regverdigheid van die verhoor sou aantas en derhalwe die regspleging in diskrediet sou bring en het derhalwe bevind dat die getuienis met betrekking tot die uitwysing uitgesluit moet word.

Die hoofverhoor is hierna voortgesit en sersant Olivier is geroep as getuie. Sy is gestasioneer by die Geweldsmisdrywe, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe-eenheid te Hermanus en was die aanvanklike ondersoekbeampte in die saak.  Op 2 Februarie 2013 om sesuur die oggend, het sy ʼn rapport ontvang vanaf ʼn kollega terwyl sy op bystanddiens was.  Sy is toe na Bredasdorp Hospitaal.   Sy was eers nie tot die Ongevalle-eenheid toegelaat nie en het die ambulansman, Tommie Klaasen, gespreek.  Klaasen het aan haar ʼn kep gegee sowel as ʼn nota met ʼn naam en adresbesonderhede.  Sy het Bewysstuk 1 identifiseer as die kep wat aan haar oorhandig was.  Sy het intussen gereël vir ʼn fotograaf om haar by die hospitaal te ontmoet.

Sy is later wel toegelaat om ʼn pasiënt in Ongevalle te spreek.  Sy het die pasiënt se naam vasgestel. Die pasiënt het op die bed gelê en sy kon sien dat sy aangerand was. Daar was kneusplekke in haar gesig, droë bloed by albei ore, haar lippe en albei oë was toegeswel.   Die fotograaf het opgedaag en foto's van die pasiënt geneem terwyl sy in die ambulans was, wat haar na Worcester Hospitaal moes vervoer.  Sy het bevestig dat foto's in Bewysstuk B by die Bredasdorp Hospitaal geneem was.

Sy en die fotograaf, konstabel Douries, is daarna na die polisiestasie waar hulle vir konstabel Murtz gekontak het om aan hulle die toneel te gaan uitwys waar die slagoffer gevind was.   By die toneel het konstabel Douries foto's geneem. Sy het opgemerk dat daar ʼn glas op die grond lê tussen twee huise asook ook ʼn rooi kol op die grond en stukke weefsels.   Die items is in forensiese sakke geplaas. Sy het die perseel verder ondersoek en bloedspatsels op ʼn pyp gesien, sowel as spore op die toneel.

Sy het die Worcester polisiestasie gekontak en gereël dat ʼn fotograaf foto's van die pasiënt se privaatdele neem, aangesien konstabel Douries nie die geleentheid gehad het om dit te doen nie.  Sy en sersant Timmie, ʼn hondehanteerder, is dan weer Saterdagmiddag, 2 Februarie 2013, saam na die toneel met sy hond om ʼn liggaamsvloeistowwe-ondersoek te doen.  Sy bevestig dat die area deursoek was, waar bloedmerke op ʼn huis se punt gevind is. 

Sersant Olivier getuig verder dat sy die oorledene se moeder, Corlia Olivier, besoek het, wie aan haar ʼn afskrif van die oorledene se identiteitsboek gegee het.  Daarna het sy met haar ondersoek begin.  Sy was die Saterdag na getuies se wonings, maar hulle was onder die invloed van drank en sy het gereël om die getuies Sondag te spreek. 
Sy het Sondag met Patricia Leonard gepraat, aangesien sy inligting van Corlia Olivier opgevolg het dat Leonard laas saam met Anene by die huis was om haar broek te verander.  Sy het vasgestel dat ʼn groep mense die Saterdag by Kallie se
Pub was en sy en haar kollegas het hulle ondervra. Sy het gekonsulteer met Chrisna Mentoor en Riaan Scheepers en die persone wie sy verwys het na as die brandweerspan. Sy het ʼn verklaring van Chrisna Mentoor en Riaan Scheepers geneem.  Op Maandag, 4 Februarie 2013, het sy ʼn verklaring van Johannes Kana, die beskuldigde, geneem wat ontvang is as Bewysstuk AA.  Haar ondersoek is voortgesit rondom wie almal by die pub was en kontak met die oorledene gehad het.

Sy het toe gefokus op die kep wat aan haar by die hospitaal oorhandig was.  Chrisna Mentoor het bevestig dat beskuldigde die kep aan haar gegee het om te hou, maar dat dit in die pub vermis geraak het.  Die beskuldigde is gevra oor die kep, maar hy het ontken dat dit sy kep was.   Tydens ondervraging van die beskuldigde op 5 Februarie 2013, het sy opgelet dat daar merke op sy kneukels was, asook by sy oor.   Sy het hom uitgevra oor die beserings, maar hy kon nie vir haar ʼn verduideliking verskaf nie.  Sy het hom versoek om hom beskikbaar te maak vir ʼn mediese ondersoek op 6 Februarie 2013, sodat die beserings in ʼn J88 vorm genotuleer kan word.     Op 6 Februarie 2013 het sy hom by sy woning gaan haal en na die hospitaal geneem, waar hy medies ondersoek was.  Die J88 mediese verslag was ontvang as Bewysstuk T.

Sersant Olivier getuig verder dat sy al die verklarings wat sy bekom het, deurgewerk het en gereël dat die beskuldigde later die dag om 16h30 op 6 Februarie 2013 by die polisiestasie aanmeld.  Sy het hom by sy woning gaan haal en na die polisiestasie geneem, waar sy aan hom sy regte verduidelik het.  Op daardie stadium het die beskuldigde ʼn verdagte geword.  Hy het ingestem tot ondervraging.  Haar kollega, kaptein Kruger, het haar bygestaan tydens die ondervraging.  Na die ondervraging, is die beskuldigde gearresteer en sy artikel 14A regte aan hom verduidelik en deur hom geteken.

Op 8 Februarie 2013 het die Kaapstad taakspan die saak oorgeneem. Die ondersoek is voortgesit en getuies is gespreek.  Daar was geen aanduidings dat ander persone betrokke was by die saak nie.  Daar was verskeie gerugte wat opgevolg was.  Sy bevestig dat sy beide verklarings van Chrisna Mentoor geneem het.

Tydens kruisondervraging bevestig sersant Olivier dat daar drie rapporte was met betrekking tot moontlike verdagtes, maar die beskuldigde se naam was nie genoem nie.  Sy ontken dat sy Riaan Scheepers se eerste verklaring foutiewelik genotuleer het en voer aan dat Scheepers ʼn leuen vertel, aangesien sy die verklaring aan hom deurgelees het en hy dit self ook deurgelees het en bevestig het as korrek.  Sy getuig dat sy nie onmiddellik die merke op die beskuldigde gesien het nie omdat hy sy hande onder sy moue versteek het.

Op vrae van die Hof, bevestig sy dat op die stadium toe sy by Corlia Olivier kom, was Corlia reeds ingelig oor Anene.  Niemand anders, behalwe Chrisna Mentoor, het kennis gedra van die kep nie.  Ander getuienis het wel gesê dat ene Zwai was by die pub. Op vrae, na aanleiding van die Hof se vrae, bevestig sy dat Zwai wel gearresteer was, maar dat daar geen getuienis was om hom met die misdaad te verbind nie en hy is toe uiteindelik vrygelaat.  Sy bevestig dat volgens die getuienis, die beskuldigde die laaste persoon was wat saam met die oorledene gesien was toe hulle die pub verlaat.

Sersant Timmie van die K9 Honde-eenheid in die Paarl het getuig dat hy met sy hond, Ethan, wat opgelei is om liggaamsvloeistowwe, soos bloed en semen, uit te ruik, die toneel waar die slagoffer gekry was op 2 Februarie 2013, met sersant Olivier besoek het.  Hy het foto's geneem van sy waarnemings en van dit wat die hond opgespoor het. Hy het foto's geneem van die merke op die grond, wat vermoedelik bloed was tussen die twee huise, waar die slagoffer gekry lê is.  Sy ander foto's dui aan ʼn stok wat naby gevind is met bloed op, sowel as spatsels en ʼn bloedsmeermerk agterop die huis wat net suid is van waar die slagoffer gekry is.  Hy het ook verder om die toneel ondersoek ingestel, maar niks verder gevind nie.  Hy het voorlopige toetse vir bloed op die items uitgevoer en sy bevindinge aan die ondersoekbeampte uitgewys.

Onder kruisverhoor het sersant Timmie gesê dat hy meen die slagoffer is na die aanval na die toneel gebring, omdat daar te min bloed op die toneel is vir die beserings opgedoen. ʼn Moontlike sleepmerk en die bloedspatsels agter die een huis kon ook moontlik daarop dui.  Hy het ook bloed op die pet gekry wat op die toneel gevind is.  Hy het egter toegegee by herverhoor dat die enigste rede vir sy mening dat die slagoffer na die toneel gebring is, is die afwesigheid van baie bloed op die toneel.

Adjudant-offisier Abels het getuig dat hy as ondersoekbeampte oorgeneem het by sersant Olivier op 8 Februarie 2013.   Op daardie stadium was drie persone in aanhouding in hierdie saak.  Een van hulle is vrygelaat, wat geensins met die saak verbind kon word nie.  Saam met die huidige beskuldigde was die ander persoon bekend as Zwai aangehou.  Borgtog vir Zwai is teengestaan maar nadat alle leidrade opgevolg is, is die saak teen hom teruggetrek weens ʼn gebrek aan getuienis wat hom met die misdade verbind het.

Abels het verder getuig dat die resultate van die forensiese toetse geen getuienis opgelewer het nie.  Hy het ook gesê dat hy met die oorname van die saak nie bewus was van die bevindinge van sersant Timmie nie en dat hy nie weet wat met die items gebeur het wat sersant Timmie en sy uitruikhond op die toneel versamel het nie.

Abels het verder getuig dat die beskuldigde in sy teenwoordigheid aan sy (beskuldigde) meisie gesê het dat hy jammer is oor wat hy gedoen het.  Verder het hy bevestig dat alle gerugte wat die rondte gedoen het, opgevolg en ondersoek is maar daar was geen getuienis teen enigeen behalwe die beskuldigde nie.  Die bloed gevind op die drinkglas op die toneel was dié van die oorledene en vingerafdrukke op die glas was nie bruikbaar nie.

Tydens kruisondervraging het Abels bevestig dat behalwe vir die beskuldigde se vriende, daar nog ʼn getuie was wat iets oor die beskuldigde se pet te sê gehad het.  Hy het bevestig dat alle inligting opgevolg is en dat die saak teen Zwai teruggetrek is weens gebrek aan getuienis.  Van sersant Timmie se bevindinge het hy niks in die dossier gesien nie, alhoewel hy verneem het dat Timmie meen die slagoffer is na die insident op die toneel afgelaai (gedump).

Die inligting wat deur die verdediging aan hom verskaf is, het ook nie resultate opgelewer nie en die forensiese ondersoek van die slagoffer se buustelyfie het die beskuldigde uitgesluit as die oorsprong van die bloed daarop.  Abels het bevestig dat die beskuldigde in Zwai se aansoek om borgtog getuig het dat hy nie vir Zwai ken nie.  Dit was teenstrydig met sy verklaring wat hy tydens die ondersoek gemaak het.  Abels het ook bevestig dat geen van die forensiese monsters getuienis opgelewer het nie.

Die staatsaak is hierna gesluit.  Die beskuldigde het verkies om nie te getuig nie en sy saak is namens die verdediging gesluit.

Dit is geykte reg dat die Staat die staatsaak bo redelike twyfel moet bewys.  Daar is geen bewyslas op die beskuldigde om die Hof te oortuig dat sy weergawe waar is nie.  As hy ʼn weergawe gee, is die Hof nie geregtig om hom skuldig te bevind tensy die Hof oortuig is – nie alleen dat die uitleg onwaarskynlik is nie – maar dat dit bo redelike twyfel vals is. As daar ʼn redelike moontlikheid is dat die uitleg waar is, is die beskuldigde geregtig op vryspraak. (Sien S v Van As 1991 (2) SASV 74 (W) op 82-83)  Die Hof moet derhalwe kyk na die totaliteit van die getuienis.

Na oorweging van al die getuienis, moet die vraag gevra word of die beskuldigde se skuld bo redelike twyfel bewys is.  (Sien S v Trainor 2003 (1) SASV 35 (A); S v Van der Meyden 1999 (1) SASV 447 (W).)

In S v Chabalala 2003 (1) SASV 134 (A) op 139i-140a is die volgende gesê:

The correct approach is to weigh up all the elements which point towards the guilt of the accused against those which are indicative of his innocence, taking proper account of inherent strengths and weaknesses, probabilities and improbabilities on both sides and, having done so, to decide whether the balance weighs so heavily in favour of the State as to exclude any reasonable doubt about the accused’s guilt.”

In S v Mbuli 2003 (1) SASV 97 (HHA) para [57] en S v Hadebe and Others 1998 (1) SASV 422 (A) op 426f-h het die Appèlhof met goedkeuring die benadering gevolg in Moshepi and Others v R LAC (1980-1984) 57 op 59F-H waar die volgende gesê is:

The question for determination is whether, in the light of all the evidence adduced in the trial, the guilt of the appellants was established beyond reasonable doubt.  The breaking down of a body of evidence into its component parts is obviously a useful aid to a proper understanding and evaluation of it. But, in doing so, one must guard against a tendency to focus too intently on the separate and individual part of what is, after all a mosaic of proof.  Doubts about one aspect of the evidence led in a trial, may arise when that aspect is viewed in isolation.  Those doubts may be set at rest when it is evaluated again together with all the other available evidence.  That is not to say a broad and indulgent approach is appropriate when evaluating evidence.  Far from it. There is no substitute for a detailed and critical examination of each and every component in a body of evidence.   But, once that has been done, it is necessary to step back a pace and consider the mosaic as a whole.  If that is not done, one may fail to see the wood from the trees.”

(Sien ook S v Radebe 1991 (2) SASV 166 (T) op 183c-e; S v Ramulifho 2013 (1) SASV 388 (A) para [7].)

Op 10 Februarie 2013 het die beskuldigde ʼn bekentenis afgelê (Bewysstuk L) en op 3 Junie 2013 tydens pleitverrigtinge (Bewysstuk A2) het die beskuldigde die volgende erken:

(a) Dat hy op 2 Februarie 2013 ongeveer eenuur die oggend met sy vriende na Kallie se Pub is waar hulle biere gedrink het.  Die oorledene Anene Booysen het by hulle aangesluit.

(b) Later het hy die oorledene na haar grootmaakma se huis vergesel.  Op pad daarheen het hulle by die huisies begin vry.  Anene het hom weggestoot. Hy gryp haar vas, trek haar broek af, waarop sy geval het.

(c) Hy slaan haar toe met die vuis, waarop sy op die grond geval het.  Hy het haar toe geskop en daarna verkrag.

(d) Hy het van die perseel weggehardloop na sy woning toe.

(e) Die oorledene het nie haar bewussyn verloor nadat hy haar geslaan en geskop het nie, maar sy was baie deurmekaar.

(f) Beide van hulle was sterk onder die invloed van alkohol.

(g) Anene was lewendig toe hy haar verlaat het en sy het geen oop wonde gehad nie.

Die Staat het nie die pleit van skuldig aanvaar nie, aangesien die feite in die pleit nie in ooreenstemming is met inligting tot die Staat se beskikking nie.  Die pleit van skuldig is gevolglik verander na onskuldig ingevolge die bepalings van artikel 113 van Wet 51 van 1977 en is ʼn pleit van onskuldig op die aanklag van verkragting genotuleer.

Dit is gemeensaak dat die beskuldigde op sy eie weergawe erken dat hy die oorledene verkrag het.  Die hoofgeskilpunt in hierdie verhoor is dus of die beskuldigde wel die oorledene vermoor het.

Die beskuldigde het verkies om nie te getuig nie en sy saak is sonder die aflê van enige getuienis gesluit.   Die getuienis teen die beskuldigde berus grotendeels op omstandigheidsgetuienis en die Hof is genoodsaak om die riglyne, soos neergelê in R v Blom 1939 AD 188 op 202-203 toe te pas.   By die uiteindelike beoordeling van ʼn strafsaak, waar die bewyslas, soos normaalweg, op die Staat rus, kan ʼn feit in geskil deur omstandigheidsgetuienis bewys word, slegs indien:

(i) die afleiding wat die Staat bepleit met al die bewese feite versoenbaar is, en

(ii) geen ander redelike afleiding uit daardie feite gemaak kan word nie.

Dit is geykte reg dat die bewese feite sodanig moet wees dat dit alle redelike afleiding uitsluit, behalwe die een dat die beskuldigde die persoon is wie die misdaad gepleeg het.  Dit is belangrik om daarop te let dat ʼn afleiding slegs redelik is, as dit in ooreenstemming met die bewese feite is.  Die Staat moet dus nie elke moontlikheid wat daar mag bestaan, uitskakel nie. Wanneer daar met omstandigheidsgetuienis gewerk word, moet die Hof na die totaliteit van sodanige getuienis kyk by die oorweging van welke afleiding gemaak moet word.  Die Hof is dus verplig om die kumulatiewe effek van al die getuienis in ag te neem by die beoordeling van die bewysmaatstaf.   In S v Reddy 1996 (2) SASV 1 (A) op 8c-d is die volgende gesê:

In assessing circumstantial evidence one needs to be careful not to approach such evidence upon a piece-meal basis and to subject each individual piece of evidence to a consideration of whether it excludes the reasonable possibility that the explanation given by an accused is true.   The evidence needs to be considered in its totality.  It is only then that one can apply the off-quoted dictum in R v Blom 1939 AD 188 at 202-203, where reference is made to two cardinal rules of logic which cannot be ignored.”

In S v Ntsele 1998 (2) SASV 178 (A) op 182D-F is dit as volg gestel:

Ons reg vereis insgelyks nie dat ʼn hof slegs op absolute sekerheid sal handel nie, maar wel op geregverdige en redelike oortuigings – niks meer en niks minder nie. (S v Reddy and Others 1996 (2) SASV  1 (A) op 9d-e.)  Voorts, wanneer ʼn hof met omstandigheidsgetuienis werk, soos in die onderhawige geval, moet die hof nie elke brokkie getuienis afsonderlik betrag om te besluit hoeveel gewig daaraan geheg moet word nie.  Dit is die kumulatiewe indruk wat al die brokkies tesame het wat oorweeg moet word om te besluit of die aangeklaagde se skuld bo redelike twyfel bewys is (R v De Villiers AD 1944 Ad 493 op 508-509).  Dit is inderdaad wat die verhoorhof in hierdie geval gedoen het.”

(Sien ook S v Naude and Another [2011] All SA 517 (A); S v Cwele and Another 2013 (1) SASV 478 (A).)

Die regsproses waar ʼn beskuldigde versuim om te getuig waar die staatsaak grootliks op omstandigheidsgetuienis berus, is as volg opgesom deur Van Coller J in S v Makhubo 1990 (2) SASV 320 (O) op 322e-f:

Daar moet ook gewys word dat indien die Staat se saak teen ʼn beskuldigde slegs op omstandigheidsgetuienis berus, is die beskuldigde se versuim om te getuig ook ʼn faktor wat saam met ander faktore in ag geneem kan word om ʼn afleiding van skuld teen hom te maak.  Anders as by regstreekse getuienis teen die beskuldigde, sal by omstandigheidsgetuienis ʼn versuim om te getuig nie soveel gewig dra nie en kan dit ook aan iets te wyte wees wat nie ʼn aanduiding is dat hy skuldig is nie.”  (Sien S v Mthetwa 1972 (3) SA 766 op 769).

In S v Francis 1991 (1) SASV 198 (D) 203h-i is die volgende gesê deur Smalberger AR:

While an accused person’s failure to testify may in appropriate circumstances be a factor in deciding whether his guilt has been proved beyond all reasonable doubt, this will only be so where the State has prima facie discharged the onus upon it. A failure to testify will not remedy a deficiency in the State case such as the absence of apparently credible implication of the accused. (S v Masia 1962 (2) SA 541 (A) te 546E-F)

Die Hof moet dus aan die hand van bogenoemde gesag die saak beoordeel en gaan vervolgens oor na ʼn evaluasie van die getuienis.

Gedurende die vroegoggendure van 2 Februarie 2013, om ongeveer 04h05 is Anene Booysen, ʼn sewentienjarige jong dame in ʼn beseerde toestand by Asla Site B perseel gevind.  Sy was wreedaardig aangeval.  Haar oë was bebloed en opgeswel, lippe opgeswel, bloed het uit haar oor gekom en sy het verskeie kneuswonde op haar gesig en liggaam gehad.  Haar privaatdele, perineum en anus was verwoes.  Die mediese getuienis toon aan dat die beserings aan die kop en gesig deur die toepassing van stompgeweld toegepas was.  Die hoofoorsaak van dood was egter die verminking van die genitalia en die gevolge daarvan.   Die mees waarskynlike oorsaak van hierdie dodelike besering is ook as gevolg van erge stompgeweld.

Die mediese getuienis is, uit die aard van die saak, onbetwis en gee ʼn volledige beeld van wat die slagoffer deurgemaak het, na die aanval op haar.  Die patoloog se getuienis gee ʼn onbetwisbare beeld van wat die sigbare gevolge van die wrede aanval was en haar afleidings gee ʼn duidelike beeld vir die Hof oor wat presies met die oorledene gebeur het.  Die oorledene se toestand was van so ʼn kritieke aard dat sy inderhaas vanaf Bredasdorp Hospitaal na Worcester Hospitaal en daarna na Tygerberg Hospitaal oorgeplaas is vir behandeling.  Sy het uiteindelik weens haar beserings op 2 Februarie 2013 in die Tygerberg Hospitaal beswyk.

Dit is gemene saak dat die oorledene Saterdagoggend, 2 Februarie 2013, by Kallie se Pub was, waar sy gesellig met vriende verkeer het.  Die beskuldigde self noem in sy bekentenis dat hy om eenuur vroegoggend met sy vriende na die pub is waar Anene daar by hul groep aangesluit het.   Dit is ook gemeensaak dat die staatsgetuies Patricia Leonard, haar kêrel Riaan Scheepers, en Chrisna Mentoor ook almal by die pub was. Dit was dan ook Leonard wat op ʼn stadium die pub saam met Anene verlaat het en na Anene se woning is, sodat Anene ʼn ander broek kon aantrek.

Leonard is die persoon wie die naaste aan die oorledene was.  Hulle het saam op ʼn plaas grootgeword en later het die oorledene ook vanaf 2009 tot Desember 2012 by Leonard gewoon.  Leonard het het Anene as ʼn suster beskou.  Riaan Scheepers en Chrisna Mentoor is vriende van die beskuldigde.  Scheepers en die beskuldigde was baie goeie vriende, het gereeld saam gekuier en gedrink.  Hulle het ook op ʼn stadium saam gewerk by die brandweer “Working on Fire.  Chrisna Mentoor was ook bevriend met die beskuldigde vandat ook hulle ook saam werksaam was by “Working on Fire.  Sy het ook naweke saam met die beskuldigde gekuier.

Die eerste ondersoekbeampte, sersant Olivier, het getuig oor die proses hoe haar ondersoek in die saak verloop het.  Sy het met verskeie bronne en getuies gekonsulteer.   Dit was dus ʼn normale verloop van die ondersoek dat sy met persone moes konsulteer, wie die betrokke aand kontak met Anene in die pub gehad het.  Sy verwys na die groep jong mense wie sy gespreek het as die brandweergroep.   Die is blykbaar ʼn jolige groep vriende, wat almal by die brandweer werksaam was, wat baie na aan mekaar was en gereeld gesellig saam verkeer het.  Hulle het dan wel saam gekuier by ʼn vriend (Steven van der Merwe) se huis voordat hulle die Saterdagoggend na Kallie se Pub toe is.  Leonard het egter die groep by die pub ontmoet, aangesien sy voor hulle daar aangedoen het.

Indien na die verloop van die gebeure gekyk word, blyk dit dat Riaan Scheepers onmiddellik die behoefte gehad het om met die beskuldigde te praat, nadat hy gehoor het dat Anene aangerand was.  Leonard en Scheepers getuig beide dat Scheepers hom gebel het om vas te stel waar hy dan vir Anene die oggend sou gelos het.  Die beskuldigde betwis nie dat Scheepers hom dit gevra het nie.  Leonard en Scheepers gee verskillende verduidelikings wat beskuldigde sou gegee het op die vraag.   Volgens Leonard het die beskuldigde gesê dat hy vir Anene halfpad geneem het en dat Anene nie wou hê hy moes verder saamstap nie. Hy het toe omgedraai en is terug pub toe. Hy het aan Leonard genoem dat hy spyt is dat hy haar nie verder huis toe geneem het nie.

In Scheepers se eerste verklaring (Bewysstuk G) het hy gesê dat die beskuldigde gesê het dat hy saam met Anene vanaf die pub gestap het en vyftien minute later terug by die groep aangesluit het.  Die weergawe van Scheepers stem ooreen met beskuldigde se verklaring (Bewysstuk AA), wat geneem is op 4 Februarie 2013.  Scheepers het egter getuig dat die eerste verklaring foutief was waar dit aandui dat die beskuldigde na vyftien minute weer by hulle aangesluit het by die pub.

Scheepers het verder verduidelik dat hy in ʼn tweede verklaring ʼn regstelling wou maak oor hierdie aspek.  Hy verduidelik dat beskuldigde aan hom gesê het dat daar ʼn tannie en ʼn oom voor hom en Anene geloop het. Hy het hulle geroep om vir Anene te wag, maar hulle het aangeloop, toe los hy vir Anene daar ʼn entjie onderkant die pub in Asla Site B se rigting.  In die tweede regstellende verklaring sê Scheepers egter dat hy vir beskuldigde  en Anene laas buite die pub sien loop het in die rigting van Asla Site B.

Tydens getuienisaflegging in die hof het Scheepers getuig dat beskuldigde aan hom verduidelik het dat hy Anene agter die pub gelos het, waar hy vir haar grootmaakma en ʼn man gefluit het en gesê het “Wag vir haar sy is dronk”.   Ryno Jameson en Corlia Olivier het ontken dat so ʼn insident plaasgevind het.  Hierdie weergawe, wat beskuldigde na bewering aan Scheepers sou oorgedra het, is duidelik leuenagtig want Corlia Olivier het juis gekom om vir Anene by die pub te gaan haal.

Corlia Olivier het vir Anene self gevind naby die ingang van die pub en hulle twee is na buite waar die skellery plaasgevind het.   Dit was dus geensins nodig vir iemand anders om vir haar te roep of daarop attent te maak dat Anene dronk is en dat sy vir haar moes wag nie.  Anene het duidelik geweier om saam met haar te gaan.

Beskuldigde het in sy verklaring (Bewysstuk AA) genoem dat hy die oggend vir Anene, wie dronk was, na haar huis geneem het.  Hy het ʼn ent gestap en ʼn man en vrou gesien.  Anene het toe met die man en vrou gestap, hy het omgedraai en terug na Riaan hulle toe gegaan.  Almal is toe saam huis toe.  Scheepers sê egter in sy eerste verklaring dat hy en sy meisie, Patricia Leonard saam huis toe is en dat die beskuldigde, Chrisna en Bolla saam huis toe is, maar hy het dit verander in die regstellende verklaring, waarin hy sê Anene en die beskuldigde is saam weg.  Patricia Leonard het gesê sy en Scheepers is saam weg vanaf die pub.

Dit is duidelik dat Leonard, Scheepers en beskuldigde se verklarings verskil oor die verduideliking wat beskuldigde sou verskaf het oor die presiese omstandighede waaronder hy vir Anene gelos het, nadat hulle saam die pub verlaat het.  Die beskuldigde het nie ontken dat hy ʼn verduideliking verskaf het rondom Anene se grootmaakma en ʼn man vir wie hy sou gefluit het om vir Anene te wag nie. 

Wat hierdie tema rondom die man en vrou betref, is dit so dat Riaan Scheepers gekruisondervra is oor die korrektheid van sy eerste en twee verklarings en die regstellings in sy tweede verklaring.   Dit is egter opvallend dat Scheepers se weergawe oor die grootmaakma en die man wie die beskuldigde sou gewaar het toe hy Anene wou huis toe neem, is nooit deur die verdediging betwis nie.  Corlia Olivier, Anene se grootmaakma, en die man, Elryno Jameson, was inderdaad by die pub toe Corlia Olivier Anene wou kom haal.

Die enigste redelike afleiding is dus dat die beskuldigde, nes Chrisna Mentoor, teenwoordig was toe Corlia Olivier daar opgedaag het met Elryno Jameson.  Beskuldigde moes dus kennis gedra het dat Corlia Olivier daar was en dit het dan gelei tot sy verwysing na haar in sy verduideliking aan Scheepers.  Die afleiding wat die Hof dus maak, is dat hy teenwoordig was toe Corlia en Elryno Jameson vir Anene wou kom haal het.

Beskuldigde was die Saterdag, wat Anene gevind was, na Leonard se woning, waar daar duidelik, volgens Leonard, ʼn bespreking was oor Anene.  Leonard het getuig dat hulle die heeldag oor Anene gepraat het inteenstelling met Riaan Scheepers, wat getuig het dat hul aanvanklike gesprek met beskuldigde, nooit weer daardie dag daaroor gepraat het nie.   Die Hof is geneig om Leonard se weergawe te aanvaar, aangesien dit ʼn opspraakwekkende voorval was.  Dit blyk dus dat die verskillende verduidelikings voortspruit uit hierdie besprekings wat by Leonard se woning plaasgevind het.

Chrisna Mentoor het ook twee verklarings afgelê, een op 4 Februarie 2013, en een op 8 Februarie 2013.  Sy het erken dat sy ʼn leuen in haar eerste verklaring vertel het, toe sy gesê het dat beskuldigde saam met die groep weg is vanaf die pub.  Volgens haar het sy in haar tweede verklaring die waarheid vertel dat sy die beskuldigde laaste met Anene buite die pub gesien het.   Mentoor het getuig dat sy die beskuldigde Saterdagoggend gesien het toe hy haar werk toe geneem het en dit was ongeveer agtuur die oggend.
Die vraag moet gevra word waarom sou die beskuldigde, nadat hy so laat onder die invloed van drank vanaf die
pub gekom het, vroegoggend agtuur reeds by Mentoor wees om na bewering sigarette vir haar suster te koop.  Volgens Mentoor, het sy eers Sondag gehoor van Anene.  Dit is hoogs onwaarskynlik dat sy, as deel van die brandweergroep, eers Sondag van Anene sou gehoor het.  Mentoor het die beskuldigde dus die Saterdagoggend agtuur gesien, die Saterdagaand by Kallie se Pub en Sondag het sy hom weer gesien toe hy na bewering ʼn opmerking sou maak oor die kep wat weg was.

Sy getuig dat die beskuldigde haar Dinsdag, 5 Februarie 2013, uitgevra het oor wat sy in haar verklaring sou gesê het.  Die bespreking met Mentoor oor haar verklaring, kom verdag voor.  Nou die Hof weet dat  sy ʼn leuen vertel het dat die beskuldigde saam met die groep weg is van die pub.   Die gesprek was dus niks anders as om te bevestig dat sy wel by die leuen gehou het nie, daar is dus ʼn sterk suspisie dat beskuldigde en Mentoor wel voor Dinsdag al met mekaar afgespreek het dat Mentoor hom sal beskerm in hierdie opsig.  Sy het tog sekerlik nie uit eie beweging besluit om die leuen te vertel nie en hy moes dus daarvan geweet het, daarom het hy vir haar gesê “sy kan daarby hou of sê wat sy op haar hart het”.

Indien na die verklarings van beide Scheepers en Mentoor gekyk word, is daar ʼn sterk vermoede dat beide van hulle aanvanklik die beskuldigde wou beskerm het.  Scheepers se eerste verklaring stem ooreen met beskuldigde se verklaring dat hy Anene weggeneem het en weer by die groep aangesluit het.   Scheepers het ook aanvanklik genoem dat die beskuldigde met die groep weg is.  Dit blyk asof Scheepers aan die beskuldigde stawing wou verleen rondom ʼn beweerde man en vrou wie in die omgewing was toe hy Anene, na bewering, agtergelaat het.  Mentoor, aan die ander kant, het leuens vertel deur te bevestig dat beskuldigde met hulle groep daar weg is.  Die feit dat Scheepers aanvanklik vir die beskuldigde gebel het toe hy van Anene gehoor het, is aanduidend dat Scheepers bekommerd was omdat hy bewus was dat hy (die beskuldigde) laaste vir Anene saam met die beskuldigde gesien het.   Hierdie oproep aan die beskuldigde dien as ʼn waarborg dat Scheepers wel vir die beskuldigde laas met Anene gesien het en dat sy regstellende tweede verklaring inderdaad korrek is.  Die gemene deler tussen die tweede verklaring van Scheepers en die tweede verklaring van Mentoor is dat beide sê dat die beskuldigde die persoon is wie laaste met Anene buite die pub gesien is.

Elryno Jameson (Ryno) wie saam met Corlia Olivier na die pub was om Anene te gaan haal, is onafhanklik van die brandweergroep.  Hy bevestig dat hy vanaf ʼn afstand ʼn persoon met ʼn kep op sy kop sien vir Anene van agter af omhels.  Dit is so dat Corlia Olivier nie die persoon opgemerk het nie.  Dit moet egter in gedagte gehou word dat sy dronk was, ontsteld was en openlik erken het dat sy met Anene geskel het by die pub.  Hierdie omhelsing was vanaf ʼn afstand gesien deur Ryno Jameson terwyl hy vir Corlia gewag het en Corlia na hom toe gekom het.  Mentoor het gesien hoe Anene en Corlia Olivier stry en dat beskuldigde en Anene saam wegloop, na die stryery.  

Dit is hoogs onwaarskynlik dat Anene saam met ʼn ander persoon hand om die lyf sou gestaan het en onmiddellik daarna sou wegstap met die beskuldigde.  Die enigste redelike afleiding is dat die persoon met die kep, wie haar omhels het, wel die beskuldigde was.

Dit beteken dus dat die beskuldigde en Anene moes saamgeloop het op ʼn stadium toe Scheepers en Leonard besig was om te stry en Leonard weggeloop het, aangesien Scheepers op ʼn later stadium (wat na die stryery moes wees) gesien het hoe beskuldigde en Anene in die rigting van die Asla perseel geloop het.  Leonard en Scheepers het geensins die geskellery gehoor nie, maar Scheepers het wel toe omgedraai terug pub toe tydens sy stryery met Leonard, in Anene en beskuldigde vasgeloop het waar hulle in dieselfde rigting geloop het wat Leonard beweeg het in die rigting van Asla Site B.  

Verder erken die beskuldigde self in sy bekentenis dat hy saam met Anene die pub verlaat het.  Die Hof kan dus sonder enige twyfel aanvaar dat die beskuldigde wel die persoon is wie met Anene gesien is deur Mentoor, Scheepers en Elryno Jameson.

Chrisna Mentoor is die enigste getuie wie melding gemaak het van beskuldigde se kep wat weggeraak het.  Elzine Fortuin, die meisie van die beskuldigde, het genoem dat sy navraag by die beskuldigde gedoen het oor wat aangaan en hy het haar meegedeel dat sy kep en Riaan se top op die toneel was.  Dit was duidelik nie die geval nie, aangesien slegs ʼn kep op die toneel gevind was.  Riaan Scheepers self het in sy tweede verklaring, geneem op 10 Februarie 2013, melding gemaak van die kep.  Hy noem toe dat hy die beskuldigde ingelig het dat Anene verkrag en aangerand is, het die beskuldigde hom gevra waar is sy kep.  Hierdie aspek is nie deur die verdediging betwis nie.   

Dit val ietwat vreemd op dat beskuldigde aan Scheepers so ʼn vraag sou vra, nadat hy van ʼn verkragting en aanval op Anene ingelig is.  Dit is nie ontken dat die kep op die toneel gevind wel beskuldigde se kep is nie.   Chrisna Mentoor en Riaan Scheepers het bevestig dat Bewysstuk 1 wel die beskuldigde se kep is, wat hy die aand by hom gehad het. In sy verklaring het Scheepers gesê dat beskuldigde nie die kep opgehad het toe hy vir hom en Anene saam sien loop nie, maar tydens getuienisaflegging in die hof het hy egter gesê hy het nie opgelet of die beskuldigde ʼn kep opgehad het nie. 

Hierdie kep het groot inkriminerende waarde.  Die Hof moet dus met groot omsigtigheid na Chrisna Mentoor se weergawe rondom die kep kyk in die lig van haar erkenning dat sy wel leuens vertel het om beskuldigde te beskerm.  Haar bevestiging dat sy die toesighouer van die kep was en dat dit vermis geraak het, kan sonder twyfel nog ʼn poging wees om die beskuldigde te beskerm, veral in die lig van die feit dat dit op die gewraakte toneel gevind is.

Toe Olivier die beskuldigde ondervra oor die kep, het hy onomwonde ontken dat dit sy kep was.  Die ontkenning is nooit deur die verdediging betwis nie.  Waarom sal beskuldigde ontken dat dit sy kep was, indien dit werklik vermis geraak het?  Dit val ietwat vreemd op dat hy nie vir Olivier bevestig het dat dit wel sy kep is wat in Chrisna se sorg was wat vermis geraak het nie.  Hy het dan wel vir sy meisie, Elzine Fortuin, vertel dat sy kep op die toneel gevind was.  Die beskuldigde het dus ʼn blatante leuen aan Olivier vertel oor die kep.  Die beskuldigde se ontkenning dat dit sy kep was, is bloot ʼn poging om hom van die toneel, waar die oorledene gevind is, te distansieer.

Dit is ook so dat gerugte die rondtes gedoen het dat ene Zwai die skuldige persoon is.  Daar is ook aanduidings dat die oorledene blykbaar sou genoem het dat dit “Zwai en sy tjommies” was.  Alle aanduidings is dat die oorledene se toestand kritiek was na die aanval op haar.  Konstabel Murtz en Wikus Kiewiets het beide getuig dat die oorledene nie by haar volle bewussyn was nie.  Corlia Olivier was nie seker of Anene wel by haar volle positiewe was toe sy die naam “Zwai” genoem het nie.   Beskuldigde self noem in sy betekentenis dat die oorledene baie deurmekaar was, nadat hy haar aangeval het.   Die ondersoekbeamptes, Olivier en Abels, het beide getuig dat alhoewel Jonathan Davids, alias Zwai, gevind was met krapmerke op hom en wel gearresteer was, daar onvoldoende getuienis was om hom met die misdaad te verbind.  Zwai het tydens borgverrigtinge (Bewysstuk CC) getuig dat hy wel by die pub was en twaalfuur middernag die pub verlaat het.

Dit is insiggewend dat beskuldigde in sy verklaring (Bewysstuk AA) geneem op 4 Februarie 2013, die volgende noem: “Ek het later gesien dat Zwai saam met Anene praat. Ek het nie veel daaroor geworry nie.”   Die beskuldigde het getuig in Zwai se borgaansoek (Bewysstuk CC) en beweer dat hy nie vir Zwai ken nie, maar bloot by Chrisna Mentoor van hom gehoor het. Hy het getuig dat hy nie vir Zwai die aand by die pub gesien het nie.   Hierdie bewering is teenstrydig met sy verklaring waarin hy beweer dat hy wel vir Zwai by Anene in die pub gesien het.   Die moontlikheid kan dus nie uitgesluit word dat die naam Zwai in sy verklaring genoem het ten einde die gerugte rondom Zwai te versterk en sodoende die aandag van homself af te trek nie.  Dit is duidelik uit die borgoorkonde dat hy geen sinvolle verduideliking kon gee oor Zwai tydens die borgverrigtinge nie.   Hy was leuenagtig rondom die aspek en dit blyk asof sy weergawe oor Zwai en Anene ʼn versinsel is.  Chrisna Mentoor en die ander wie by die pub was, het nooit melding van Zwai gemaak nie.  Die beskuldigde het besluit om nie te getuig nie en het dus nie van die geleentheid gebruik gemaak om sy teenstrydige getuienis oor Zwai op te klaar nie.

Die beskuldigde het ʼn bekentenis afgelê op 10 Februarie 2013 tussen 10h25 en 11h32 die oggend. Patricia Leonard, Elzine Fortuin en Riaan Scheepers het almal getuig dat hy op die betrokke dag aan hulle gesê het dat hy is jammer vir wat hy gedoen het en om vergifnis gevra.  Hy het nie uitgebrei waaroor hy jammer is nie, maar uit die verloop van gebeure blyk dit dat hy dit gesê het nadat hy die bekentenis afgelê het.  Dit is nie betwis deur die verdediging nie.

Die beskuldigde erken dat hy die oorledene aangerand en verkrag het.  Alle aanduidings uit die bekentenis is dat hy erkennings maak van ernstige liggaamlike leed in die vorm van vuishoue en skoppe in die area van die oorledene se kop en gesig.  Die mediese getuienis op die kop en gesig dui op ʼn ernstige graad van liggaamlike leed en daar was bloeding in die temporale spiere.  Die beserings is versoenbaar met die beskuldigde se erkennings van stompgeweld met vuis en geskoende voet.  Beskuldigde erken dus ʼn misdaad van ‘n seksuele aard waarby sterk geweld ter sprake is.

Die uiteindelike oorsaak van dood is ook te wyte aan ʼn daad van ʼn seksuele aard waarby sterk geweld ter sprake is.  Die genitalia van die oorledene is vermink, wat uiteindelik gelei het tot haar dood.  Die beserings aan die oorledene se onderlyf moes uit die aard van die saak plaasgevind het gedurende of na die verkragtingsdaad.  Die oorledene was dus gedurende of na die verkragtingsdaad deur iemand aangeval met ʼn voorwerp wat geweldadige stompgeweld in die vaginale area veroorsaak het.  Daar het dus eers ʼn geweldadige verkragting plaasgevind en ʼn verminking van die vaginale area wat nie ʼn enkele aksie was nie, maar ʼn element van herhaling bevat het, volgens die patoloog.

Beskuldigde is wel ʼn persoon wie ʼn motief gehad het om hierdie tipe verminking toe te pas. Hy was kwaad en gefrustreerd omdat Anene na ʼn aanvanklike vryery hom toe weggedruk het. Hy het toe oorgegaan tot geweld en volgens eie erkennings haar verkrag.  ʼn Verwoesting van die genitalia area sal enige verkryging van DNA vanuit semen verongeluk.  Die grusaamheid van die verminking is aanduidend van iemand wat óf die bedoeling gehad het om die oorledene te dood óf ten minste voorsien het dat die aksies waarskynlik tot haar dood sou lei en hom met die moontlikheid versoen het.  Die verminking sou dit dus onmoontlik maak dat hy geïdentifiseer word deur ʼn lewendige klaagster.

Die beskuldigde daarenteen beweer dat die oorledene nog lewendig was toe hy haar verlaat het. Hy het ernstige geweld op haar toegedien en sy was dronk tydens die aanval.  Hy het haar aangeval om haar te immobiliseer en inderdaad daarin geslaag, waarna hy haar verkrag het.  Indien sy verduideliking aanvaar word dat die oorledene ongedeerd was na sy aanval, waarom het die oorledene nie huis toe geloop nie?  Die Hof kan dus sonder huiwering die afleiding maak dat die oorledene op ʼn stadium nie langer in staat was om te beweeg nie.

Die beskuldigde noem in sy betekenis dat die oorledene nie ʼn skerp voorwerp of glas in haar sak gehad het nie. Dit is onduidelik waarom die beskuldigde hierdie stelling gemaak het.  Die mediese getuienis het baie duidelik die moontlikheid uitgeskakel dat die dodelike beserings deur ʼn skerp voorwerp veroorsaak was.  Dit blyk dus ʼn berekende verontskuldiging van die beskuldigde te wees juis omdat hy presies geweet het hoe sy vermink is.

Op hierdie stadium is dit nodig om iets te sê oor die toneel waar die slagoffer, Anene Booysen, gevind is.  Die eerste aspek wat aandag verdien, is die vraag ontlok deur die getuienis van sersant Timmie.  Die vraag is of Anene Booysen gevind is op die toneel waar sy aangeval is en of – in die woorde van die getuie – of sy nie daar gedump is nie?  Die redes om nie te aanvaar dat sy geskuif is nie, is die volgende:

(a) Sy is daar gevind in ʼn redelike onbeweegbare toestand.

(b) Daar is geen getuienis op rekord geplaas wat op ʼn verskuiwing sou dui nie.

(c) Die bloeddruppels, merke en spatsels op die grond en huis sowel as die weefsel dui daarop dat die aanval op daardie toneel plaasgevind het; en

(d) Sersant Timmie het die omliggende areas van die toneel deeglik ondersoek en het niks verdag gevind nie.

Die redes om die teendeel te aanvaar, is hoofsaaklik te vinde in die getuienis van sersant Timmie.   Hy is die enigste getuie wat iets daaroor te sê gehad het.  Wat hy sê is egter sy opinie wat, volgens hom, slegs gegrond was op die feit dat  so min bloed op die toneel gevind is.  Sy getuienis is egter nie aangebied as dié van ʼn deskundige nie en, trouens, hy is geen deskundige nie.  Hy is ʼn hondemeester.  Sy opinie is dus nie toelaatbare getuienis nie.  Daarby was sy opinie gebaseer op gronde wat reeds deur die mediese getuienis anders interpreteer word, naamlik dat sodanige beserings nie noodwendig baie bloeding sou veroorsaak nie, aangesien die enige bloedvate of are van die oorledene beskadig was nie.

ʼn Tweede aspek wat betref die toneel wat aandag verdien, is die vraag of die verkragting, wat reeds deur die beskuldigde beken is, plaasgevind het op die toneel waar Anene gevind is.  Die redes wat daarop dui dat dit wel die geval is, is die volgende:

(a) Die slagoffer en beskuldigde se pet is op die toneel gevind.

(b) Daar is geen getuies van ʼn verskuiwing op enige stadium nie.

(c) Enige verskuiwing, dit wil sê tussen die verkragting en die verdere gebeure wat tot haar dood gelei het, sou baie riskant wees. Dit kon maklik aandag trek, want dit sou relatief naby de kroeg wees waar daar toe nog mense was.

(d) Daar is een logiese rede daarvoor nie.

(e) In sy bekentenis dui die beskuldigde aan dat toe hy en Anene by die huisies kom, het hulle begin vry. Die enigste afleiding is dat die verwysing na die Asla huisies is.

(f) In sy bekentenis dui die beskuldigde aan dat hy vanaf die perseel - nie toneel nie – weggehardloop het. Alle aanduidings is dat hierdie ook ʼn verwysing is na die Asla perseel en nie ʼn ander plek nie.

(g) Die deurslaggewende rede om nie die moontlikheid van ʼn verskuiwing te aanvaar nie, is egter die glas wat op die toneel naby haar liggaam gevind is met die bloed daarop.

Die getuie, Chrisna Mentoor, sê dat daardie glas, Bewysstuk B, foto 5, soortgelyk was as die glas wat die oorledene in haar hand gehad het toe sy saam met die beskuldigde vanaf die kroeg in die rigting weggestap het na die toneel se kant.   Die beskuldigde erken dat hy haar aangerand en verkrag het.  Indien daar dus ʼn aanranding was, gevolg deur ʼn verkragting, kan aanvaar word dat die slagoffer die glas sou laat val het met aanvang van enige aanval op haar.  Indien die aanranding en verkragting elders sou gebeur het, sou die glas elders gevind gewees het, maar die glas is egter by die oorledene gevind. 

As sy verkrag was op ʼn ander toneel en by die Asla perseel gedump was, sou die glas nie langs die oorledene gelê het nie. Dit is absurd om te probeer voorgee dat sy die glas eers op ʼn latere tydstip sou laat val het.  Die plek waar die glas lê, dui dus die toneel aan waar die aanval op haar begin het.  Die toeval dat ʼn soortgelyke glas, as wat sy in haar hand gehad het, op ʼn ander wyse langs haar sou beland, is te groot om hoegenaamd as ʼn moontlikheid geag te word.  Die enigste redelike afleiding is dus dat die oorledene by die verkragtingstoneel vermoor was.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat die verkragting op ʼn  ander plek was as daar waar die oorledene gevind was want beskuldigde se pet is op daardie toneel gevind.  Dit is onmoontlik dat dit daar geplaas was deur ʼn ander persoon of persone wat hom valslik sou impliseer.   Die rede hiervoor is omdat sy verkragting van die oorledene op die ingewing van die oomblik plaasgevind het.  Niemand kon dus vooraf besluit het om die pet te neem om later vir ʼn doel te gebruik wat nog nie toe eers bedink is nie.

Die kombinasie van die glas en die kep wat op die toneel gevind is, is dodelik.  Die glas, wat verbind word aan die oorledene, en die pet, wat verbind word aan die beskuldigde, is op een toneel gevind en dus vatbaar vir die afleiding dat beide die oorledene en die beskuldigde saam op die gewraakte toneel was.  Die beskuldigde en oorledene moes dus beide op die toneel gewees het vanaf die verkragtingsdaad tot en met die verminkingsdaad.  Die enigste redelike afleiding is dat die beskuldigde by beide dade teenwoordig moes gewees het.

Dit is hoogs onwaarskynlik dat ʼn enkeling of ʼn groep toevallig op ʼn verkragte en deurmekaar jong dame sou afkom en dan ʼn opportunistiese verkragting en/of erge aanranding van ʼn seksuele aard sou pleeg.   Die persoon/persone moes dan vir die beskuldigde agtervolg het of in die nabye omgewing gelê en wag het vir die beskuldigde om klaar te maak met die oorledene.  Die toneel was donker, verlate en nie op ʼn staproete nie.  Dit is ook byna onmoontlik dat ander persone betrokke was sonder beskuldigde se medewete.  Die oorledene was sterk onder die invloed van alkohol en was ʼn maklike prooi vir ʼn enkel dader of ʼn groep. Die beskuldigde self erken dat hy alleen haar met vuishoue en skoppe onder bedwang gebring het en toe verkrag het.

Die enigste rede om die moontlikheid van ʼn alternatiewe toneel vir die verkragting, in teenstelling tot die moord, te oorweeg, is die tersyde verwysing na “bosse” in beskuldigde se pleitverduideliking.  Daar is egter geen bosse gesien, uitgewys of daaroor getuig in die omtrek van die Asla perseel nie.  Al wat sigbaar was, was die onkruid in foto 2 van Bewysstuk B, geneem op die toneel.  Beskuldigde is die enigste persoon wat die Hof hieroor kon inlig, maar hy het die Hof ongelukkig nie in sy vertroue geneem nie.

Die afleiding wat die Hof dus maak, is dat alles wat daardie dag met die oorledene gebeur het met betrekking tot die twee aanklagtes waarop die beskuldigde teregstaan, wel op die toneel plaasgevind het waar Anene gekry lê is.  Dit het die implikasie dat dit wat aldus met haar gebeur het, geskied het tussen die getuie Frik Fourie se patrollie op die toneel om 03h35, toe alles in orde was, en Eben Murtz se vind van die slagoffer net na 04h00.

Die getuienis met betrekking tot die omstandighede waaronder die oorledene gevind is, word nie betwis nie.  Dit sluit in die getuienis van die sekuriteitspersoneel en ambulansbeampte.

Die getuienis met betrekking tot die daaropvolgende ondersoek van die saak deur sersant Olivier en adjudant-offisier Abels is ook nie ernstig aangeval nie. Die Hof is tevrede dat beide ondersoekbeamptes geloofwaardige getuies was, wie hul pligte na die beste van hul vermoë uitgevoer het.  Olivier was ʼn uitstekende getuie en, as persoon, het sy die Hof beïndruk.  Sy was kalm, het ʼn logiese uiteensetting van die ondersoek voorgehou en is die persoon wie uiteindelik die beskuldigde as ʼn verdagte uitgeken het.  Die Hof aanvaar ook dat sy wel korrek Riaan Scheepers se eerste verklaring genotuleer het.

Chrisna Mentoor en Riaan Scheepers se getuienis word grotendeels aanvaar, ten spyte van die Hof se standpunt dat hulle aanvanklik die beskuldigde wou beskerm. Hulle staaf mekaar in wesenlike opsigte oor die verloop van die gebeure voordat en nadat hulle na die pub toe is, gebeure binne die pub en waar die oorledene laas gesien is.  Hul gewysigde verklarings oor wat by die pub gebeur het, is versoenbaar met die beskuldigde se bekentenis en die bewese feite.   Chrisna Mentoor se tweede verklaring is op 8 Februarie 2013 geneem en was dus aangepas voor die beskuldigde se bekentenis. Riaan Scheepers se tweede verklaring is geneem op 10 Februarie 2013, maar nadat die beskuldigde die bekentenis afgelê het.

Patricia Leonard is ʼn persoon wie nie werklik veel kon sê oor die beskuldigde en Anene nie.  Sy staaf egter Riaan Scheepers se getuienis rondom hulle stryery en hoe hy uiteindelik op die beskuldigde en die oorledene afgekom het waar hulle saamgeloop het in die rigting van die Asla perseel.  Sy staaf Scheepers ook rondom die telefoonoproep wat Saterdag deur Scheepers aan die beskuldigde gemaak is sowel as die mededelings wat die beskuldigde sou gemaak het wat nie deur die beskuldigde betwis is nie. Haar weergawe word deur die Hof aanvaar as geloofwaardig.

Colia Olivier se getuienis was in die algemeen aanvaarbaar, indien in gedagte gehou word dat sy emosioneel, ontsteld en dronk was.  Haar fokus was op die oorledene en sy het nie veel ag geslaan op wie in die omgewing was nie.   Die feit dat sy en Jameson mekaar weerspreek oor die rigting waarin hulle sou geloop het, is nie wesenlik nie. Dit blyk gemene saak te wees dat hulle wel by die pub was en daarna huis toe is. Daar is geen rede om haar getuienis te verwerp nie.

Elrynmo Jameson was basies ʼn onafhanklike getuie.  Hy het ʼn goeie indruk op die Hof gemaak.  Sy getuienis het hy op ʼn spontane en eerlike wyse afgelê.  Hy het geensins die saak teen die beskuldigde probeer aandik nie.  Hy gee toe dat hy bloot ʼn persoon met ʼn kep op, wie hy nie kon identifiseer nie, by die oorledene gesien het.

Wanneer die Hof dus na die bewese feite en die getuienis oorweeg, is die geheelbeeld van die mosaïek as volg:

A. Die oorledene en beskuldigde was saam by Kalie se Pub in die vroeë oggendure van 2 Februarie 2013. Beide die oorledene en die beskuldigde was onder die invloed van drank.

B. Die beskuldigde en die oorledene is deur Chrisna Mentoor, langs die pub gesien nadat Anene geweier het om saam met Corlia Olivier huis toe te gaan.  Chrisna Mentoor het gesien dat Anene ʼn glas in haar hand gehad het toe hulle saam wegloop.  Riaan Scheepers het hulle ʼn ent verder van die pub gesien waar hulle in die rigting van die Asla perseel beweeg het.

C. Elryno Jameson het opgemerk dat ʼn persoon met ʼn kep op vir Anene van agteraf omhels nadat Corlia Olivier nie daarin kon slaag om Anene te oorreed om huis toe te kom nie.

D. Alle aanduidings is dat die beskuldigde, die oorledene, en die ander brandweergroep die pub min of meer dieselfde tyd verlaat het tussen drie- en vieruur die oggend.

E. Die beskuldigde erken dat nadat hy en Anene die pub verlaat het, het hulle gevry.  Sy het hom verwerp en hy het haar toe aangeval en verkrag.  Die beskuldigde erken dat hy na die verkragting vanaf die perseel weggehardloop het.

F. Mnr Frik Fourie het die Asla perseel om 03h35 gepatrolleer en alles was in orde.   Die oorledene was in ʼn beseerde toestand deur mnr Murtz gevind 04h05.  Die aanval op die oorledene moes dus plaasgevind het tussen 03h35 en 04h05.  Dit beteken dat beide die verkragting en verminking binne ʼn venstertydperk van 30 minute plaasgevind het.

G. Op die toneel is ʼn glas en pet gevind.

H. Die beskuldigde moes dus gedurende die venstertydperk die oorledene na die toneel geneem het en die venstertydperk is 30 minute.  By implikasie, erken die beskuldigde dus dat hy gedurende hierdie venstertydperk reeds ʼn daad van ʼn seksuele aanval waarby ernstige geweld ter sprake was, teen dieselfde slagoffer gepleeg het. Die beskuldigde het dus binne die venstertydperk reeds die grens tussen onskuld en misdaad oorgesteek.

I. Die beskuldigde vertel leuens aan die polisie oor sy kep en maak ʼn verklaring op 4 Februarie 2013, waarin hy aandui dat hy vir die oorledene en Zwai saam gesien het.  Hierdie verklaring blyk leuenagtig en ʼn versinsel te wees.

J. Tydens ondervraging merk Olivier krapmerke op die beskuldigde. Hy kon geen verduideliking gee vir die krapmerke nie en op 6 Februarie 2013 is hy geneem vir ʼn mediese ondersoek.

K. Op 10 Februarie 2013 maak beskuldigde ʼn bekentenis waarin hy erken dat hy die oorledene aangerand en verkrag het. Hy dra sy spyt oor aan sy vriende en vra om vergifnis.

L. Dr Quarrie bevestig dat daar wel penetrasie deur stompgeweld met een of ander voorwerp plaasgevind het.

Wie het vir Anene Booysen verkrag en vermoor? Die totaliteit van die getuienis dui daarop dat die beskuldigde die persoon is wie saam met haar die pub verlaat het; dat die persoon by haar inderdaad ʼn kep opgehad het en dat die beskuldigde die persoon is wie saam met haar na Asla B perseel gestap het, terwyl sy nog ʼn glas in haar hand gehad het.  Die beskuldigde het op hierdie toneel met haar begin vry waarna hy haar gewelddadig aangerand het. Die glas het uit haar hand geval en beskuldigde se kep moes op ʼn stadium op die grond beland het.

Die beskuldigde het Anene met geweld onder dwang gebring en geslagsgemeenskap met haar teen haar wil gehou.  Daar is duidelike tekens van ʼn gewelddadige aanval in die area, soos bloedspatsels en bloed op die huis en pyp in die area.  Terwyl of nadat hy klaar met haar gemeenskap gehou het, het hy haar in die vaginale area grusaam aangerand.  In sy haas om vanaf die toneel weg te kom, het hy sy kep op die toneel agtergelaat.  Beskuldigde moes bewus gewees het dat hy sy kep daar kon agtergelaat het, aangesien die kep die enigste item in sy gedagte was toe Riaan Scheepers hom van Anene vertel het.

Hy het daarna die Saterdag heeldag by Patricia Leonard se huis aangedoen, waar hy met sy vriende sit en drink het.  Hy was deur Scheepers gekonfronteer oor waar hy vir Anene laas gelos het, aangesien almal op die stadium bewus was dat sy aangerand was.  Hy het aan hulle ʼn leuenagtige verduideliking verskaf, wat nie versoenbaar is met sy bekentenis nie.

Maandag, 4 Februarie 2013, het hy ʼn verklaring by die polisie afgelê wat later blyk leuenagtig te wees en wat ook nie versoenbaar is met sy bekentenis nie, ten einde sy aandadigheid aan die misdaad te verbloem. Sersant Olivier het krampmerke op hom gewaar op 5 Februarie 2013 en onraad gemerk.   Dit is nie betwis dat hy geen verduideliking kon verskaf vir die krapmerke nie en is hy medies ondersoek op 6 Februarie 2013.

Chrisna Mentoor het besef dat sy hom nie langer met ʼn leuen kan beskerm nie en het op 6 Februarie 2013 besluit om die waarheid te praat.  Die ondersoek het ʼn ander wending ingeneem nadat dit op die lappe gekom het dat hy inderdaad die persoon is wie die laaste met Anene uit die pub is.  Riaan Scheepers het op 6 Februarie 2013 verneem dat die beskuldigde gearresteer is.

Op 10 Februarie 2013 het Riaan Scheepers ook besluit om die waarheid te vertel dat hy die beskuldigde wel laaste saam met Anene gesien het.  Teen hierdie tyd het die beskuldigde alreeds die oggend van 10 Februarie 2013 ʼn bekentenis afgelê.  Die beskuldigde vra om verskoning en vergifnis vir sy meisie en vriende. Alhoewel hy nie gesê het waaroor hy jammer was nie, wil dit voorkom of hy wil hê die Hof moet spekuleer dat hy bloot gesê het hy is jammer omdat hy Anene Booysen verkrag het.

Die beskuldigde het verkies om nie te getuig nie.  In Osman and Another v Attorney General Transvaal 1998 (4) 1224 (CC) in para [22] is die volgende gesê:

Our legal system is an adversarial one.  Once the prosecution has produced evidence sufficient to establish a prima facie case, an accused who fails to produce evidence to rebut that case is at risk.  The failure to testify does not relieve the prosecution of its duty to prove guilt beyond reasonable doubt. An accused, however, always runs the risk that absent any rebuttal the prosecution’s case may be sufficient to prove the elements of the offence.  The fact that the accused has to make such an election is not a breach of the right to silence.  If the right to silence were to be so interpreted, it would destroy the fundamental nature of our adversarial system of criminal justice.”

Die benadering is goedgekeur in S v Boesak 2001 (1) SASV 1 (CC) waar Langa DP die volgende gesê het in para [24]:

The right to remain silent has application at different stages of criminal prosecution.  An arrested person is entitled to remain silent and may not be compelled to make any confession or admission that could be used in evidence against that person. It arises again at the trial stage when an accused has the right to be presumed innocent, to remain silent, and not to testify during proceedings. The fact that an accused person is under no obligation to testify does not mean that there are no consequences attaching to a decision to remain silent during the trial.  If there is evidence calling for an answer, and an accused person chooses to remain silent in the face of such evidence, a court may well be entitled to conclude that the evidence is sufficient in the absence of an explanation, to prove the guilt of the accused.  Whether such conclusion is justified will depend on the weight of the evidence.”

Die vraag ontstaan of die getuienis gelewer op die oorblywende klagte van moord so oorweldigend was dat daar van die beskuldigde verwag sou kon word om wel sy weergawe aan die Hof voor te lê.  In S v Chabalala 2003 (1) SASV 134 (A) het Heher WnAR op 142 in para [20] die volgende gesê:

As pointed out in S v Mthetwa 1972 (3) SA 766 (A) at 769D:

Where…there is direct prima facie evidence implicating the accused in the commission of the offence, his failure to give evidence, whatever his reason may be for such failure, in general ipso facto tends to strengthen the State case, because there is nothing to gainsay it, and therefore less reason for doubting its credibility or reliability.’  See S V Nkombani and Another 1963 (4) SA 877 (A) at 893G and S v Snyman 1968 (2) SA 582 (A) at 588G.”

The dictum is entirely consistent with the constitutional position which was elucidated in Osman and Another v Attorney General, Transvaal 1998(2) SACR 493 (CC) (1998 (4) SA 1224; 1998 (11) BCLR 1362) at para [22] and S v Boesak [2000] ZACC 25; 2001 SACR 1 (CC) (2001 (1) SA 912, 2001 (1) BCLR 36) at para [24].”

Moseneke R het in para [56] in S v Thebus 2003 (2) ZACC 12; 2003 (10) BCLR 1100 (CC) die volgende gesê:

There is no obligation. The fact that he or she is not obliged to testify does not mean that no consequences arise as a result.  If there is evidence that requires a response and if no response is forthcoming, that is, if the accused chooses to exercise his or her right to remain silent in the face of such evidence, the Court may, in the circumstances, be justified in concluding that the evidence is sufficient, in the absence of an explanation, to prove the guilt of the accused.  This will of course depend on the quality of the evidence and weight given to that evidence by the Court.”

Die beskuldigde se weergawe in sy bekentenis en pleitverrigtinge impliseer dat daar ʼn ander dader(s) op die toneel opgedaag het wat die aksie uitgevoer het wat klagte 2, die moord, omvat.  Hy was nie bereid om vir die Hof te openbaar hoe dit moontlik was dat ander dader(s) moontlik Anene kon bygekom het in omstandighede waar hy nie daarvan sou kennis dra nie.  Die beskuldigde het nie die Hof in sy vertroue geneem en presies verduidelik hoe lank hy en Anene saamgestap het, alleen op die perseel was en die tydsverloop vandat hulle gevry het totdat hy van die toneel weggehardloop het nie.  Beskuldigde het nie die Hof in sy vertroue geneem oor hoe hy die oorledene gepenetreer het nie. Hy kon ook verduidelik het presies waar hy Anene aangerand en verkrag het ten einde die sterk omstandigheidsgetuienis te weerlê wat daarop dui dat die verkragting en moord wel op dieselfde plek plaasgevind het.

Nog ʼn groot vraagstuk is hoe het sy kep op die toneel gekom, want, soos reeds genoem, is dit onmoontlik dat iemand anders dit daar kon geplant het.  Niemand kon vooraf geweet het van die impulsiewe verkragtingsdaad wat hy op Anene sou uitvoer nie.  Dit is hoogs onwaarskynlik dat dit blote toeval was dat sy pet by die toneel gevind was in die kort tydsbestek.  Hierdie aspekte is van wesenlike belang, veral indien in ag geneem word dat die verkragting en moord in ʼn venstertydperk van 30 minute plaasgevind het en sy erkende bedrywighede met Anene ʼn aansienlike deel van daardie tyd moes geneem het.

Volgens die beskuldigde se weergawe, moet voorsiening gemaak word vir looptyd na die toneel, tyd vir hulle vryery en die verkragting.  Op sy weergawe in sy bekentenis, bly daar dus baie min tyd oor vir die pleging van die moord as ʼn aparte insident met ander deelnemers.  Dit is hoogs onwaarskynlik dat iemand anders die verminkingsdaad gepleeg het in die kort tydsbestek.   Dit is duidelik dat die beskuldigde nie die Hof in sy vertroue wou neem oor dade wat op die oorledene uitgevoer is met ʼn voorwerp, anders as die manlike geslagsdeel, nie.

Terwyl hy leuenagtige inligting aan Leonard, Scheepers, sy meisie Elzine Fortuin en sersant Olivier oor die eienaarskap van sy kep asook in sy verklaring aan die polisie op 4 Februarie 2013 gegee het, waarom moet die Hof sy ontkenning dat hy Anene vermoor het, aanvaar? Die omstandigheidsgetuienis en beskuldigde se bekentenis toon aan dat hy inderdaad die persoon is wie die meeste voordeel sou trek uit die dood en die verminking van die vaginale area van die oorledene.  Hy sou immers nie verbind wou word met DNA in die vorm van semen nie of wou hê dat sy moes lewe en hom van verkragting moet beskuldig nie.

Artikel 209 van Wet 51 van 1977 bepaal dat:

ʼn Beskuldigde kan aan ʼn misdryf skuldig bevind word op die enkele bewys van ʼn bekentenis deur daardie beskuldigde dat hy die betrokke misdryf gepleeg het, indien bedoelde bekentenis in ʼn wesenlike opsig bevestig word of, waar die bekentenis nie so bevestig word nie, indien dit deur ander getuienis as bedoelde bekentenis bewys word dat die misdryf inderdaad gepleeg is.

Daar moet dus aan een van die twee vereistes voldoen word voordat die Hof die beskuldigde op grond van die bekentenis skuldig kan bevind, naamlik:

(i) Bevestiging van die bekentenis in ʼn weselike opsig; of

(ii) Bewys deur middel van ander getuienis, buite die bekentenis, dat die misdaad gepleeg is.

Die Hof is tevrede dat daar wesenlike bevestiging vir die beskuldigde se bekentenis gevind word in die sterk omstandigheidsgetuienis.  Die beskuldigde het tydens pleitverrigtinge erken dat hy die oorledene verkrag het.  Die oorledene is op ʼn grusame wyse aangerand.  Dit is bevestig dat penetrasie in haar vaginale area wel plaasgevind het.  Die beskuldigde se pet is op die toneel gevind.  Die glas wat vroeër in die oorledene se hand gesien was, is op die toneel gevind.  Die beskuldigde is die persoon wie laaste met die oorledene saam gesien was ongeveer 30 minute voordat sy in ʼn verminkte toestand gevind is.  Verder moet daarop ag geslaan word dat die forensiese getuienis wat deur dr Quarrie aangebied is, wel ook die pleging van die misdaad bewys.  Sy het getuig dat die oorledene se geslagsdele gepenetreer is op sodanige wyse en met sodanige geweld dat die skeiding tussen haar geslagsdele en buikholte deurboor is.  Dit voldoen aan die misdaadsomskrywing van “verkragting” ingevolge artikel 3 van Wet 32 van 2007 waarop die beskuldigde teregstaan.

In die afwesigheid van ʼn verduideliking van die beskuldigde is daar geen gevaar dat die bekentenis vals of onbetroubaar is nie.  Die Hof is dus tevrede dat daar wel voldoende getuienis is wat as stawing dien vir beskuldigde se bekentenis.  Daar is geen rede voor die Hof om die juistheid van die bekentenis te betwyfel nie.  Die Hof is tevrede dat dit wat hy sê wel waar is. (Sien S v Kumalo 1983 (3) SA 379 (A) op 383G-384A.)

Die besluit om nie te getuig nie, is nie sonder risiko nie en hou gevolge in vir die beskuldigde.  Die beskuldigde word deur sterk omstandigheidsgetuienis en sy bekentenis onlosmaakbaar met die omstandighede rondom die oorledene se toestand toe sy gevind is, verbind.  Indien hy slegs die oorledene verkrag het en geen aandadigheid aan die moord het nie, moes hy redelikerwys vorendag gekom het om sy onskuld aan die moord te verduidelik.  Om stil te bly onder sulke omstandighede, is verdoemend.  Die beskuldigde kan nie van die Hof verwag om te spekuleer oor wat gebeur het, terwyl die omstandigheidsgetuienis en sy bekentenis hom daadwerklik by die oorledene plaas minute voordat sy in ʼn verminkte toestand gevind is nie.

Die mosaïek van getuienis dui onteenseglik aan dat die beskuldigde die persoon is wie die oorledene beseer het en daarna verkrag het en dat hy dus daadwerklik die laaste persoon by die oorledene minute voordat sy by die perseel gevind was.  Die beskuldigde was die laaste persoon met wie die oorledene ongeskonde saam gesien was.  Volgens sy eie weergawe het hulle saamgestap, waarna hy haar verkrag het.

Die objektiewe beeld van die bewese feite weerlê enige moontlikheid dat die beskuldigde nie kennis sou dra van wat met die oorledene sou gebeur het nie. Hy is die enigste persoon wat die Hof kon bystaan en vertel wat tussen hom en Anene gebeur het.  Hy is  die enigste persoon wie die omstandighede waaronder hy vir Anene verkrag het en agtergelaat het aan die Hof kon verduidelik.  Hy is die enigste persoon wat die ware feite kon oordra.  Nieteenstaande dit het hy besluit om nie die Hof in sy vertroue te neem en te getuig nie.

Die Staat het ʼn sterk prima facie saak bewys wat onweerspreek gelaat is deur beskuldigde se versuim om te getuig.  Sy versuim om sy weergawe onder eed aan te bied, regverdig ʼn ongunstige afleiding wat in die weegskaal geplaas kan word as die Hof die besluit maak of sy skuld bo redelike twyfel bewys is. (Sien S v Mavinini 2009 (1) SASV 523 (A) para [23]; S v Boesak (supra).)

Die Hof is tevrede dat die totaliteit van die getuienis, gekoppel aan die beskuldigde se bekentenis en stilswye, enige redelike twyfel oor sy skuld uitskakel.  Die beskuldigde erken dat hy die oorledene verkrag het  Die vaginale verminking is veroorsaak deur ʼn handeling van penetrasie toegedien deur stompgeweld.  Met verwysing na die mediese getuienis is die Hof oortuig dat die verkragting op die oorledene gepaard gegaan het met die toediening van ernstige liggaamlike leed.  Die Hof is tevrede dat die beskuldigde hierdie verminkingsbeserings toegedien het.  Die Hof is verder tevrede dat die beskuldigde moes voorsien het dat die toediening van so ʼn besering wel tot die dood van die oorledene kon lei, maar nieteenstaande hom met so ʼn gevolg versoen het.

Die Hof is dus tevrede dat die Staat bo redelike twyfel bewys het dat die oorledene inderdaad verkrag was.  Die hoofoorsaak van dood was as gevolg van die verminking van die vaginale area en die gevolge daarvan  Die Hof is tevrede dat die enigste redelike afleiding uit die bewese feite is dat die beskuldigde die persoon is wie die oorledene verkrag, sowel as vermoor, het.

Die Hof is gevolglik tevrede dat die Staat wel daarin geslaag het om die skuld van die beskuldigde bo redelike twyfel te bewys en dat die beskuldigde wel SKULDIG IS AAN BEIDE KLAGTES HOM TEN LASTE GELÊ.

GOLIATH, R