South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2015 >>
[2015] ZAWCHC 110
| Noteup
| LawCite
Du Toit v S (A381//2014) [2015] ZAWCHC 110 (17 August 2015)
Download original files |
REPUBLIEK VAND SUID-AFRIKA
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)
Saak No: A381//2014
DATE: 17 AUGUST 2015
In die saak tussen:
DANIêL GERHARDUS DU TOIT..........................................................................................Appellant
En
DIE STAAT.............................................................................................................................Respondent
UITSPRAAK GELEWER OP 17 AUGUSTUS 2015
RILEY, WnR
[1] Die appellant het in die landdros te Riversdal tereg gestaan op ‘n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die staat het beweer dat appellant op 20 Desember 2010 te Vet-Rivier Plaas in die distrik van Riversdal wederegtelik en met die opset om vir Heloise Stefanus ernstig te beseer haar aangerand het deur haar verskeie keer met ‘n dropper te slaan en haar met die oop hand te klap as gevolg waarvan die klaagster sekere wonde, letsels en/of beserings opgedoen het.
[2] Die appellant wie ten alle tye regsverteenwoording geniet het in die hof a quo, het onskuldig gepleit. Behalwe dat hy erken het dat hy op 20 Desember 2010 op Vet-River Plaas teenwoordig was, het hy ontken dat hy die klaagster aangerand het.
[3] Na aanhoor van die getuienis was appellant op 7 April 2014 skuldig bevind aan die ten laste gelegde aanklag en is hy gevonnis tot agtien (18) maande gevangenisstraf ingevolge artikel 276(1)(i) van Wet 51 van 1977.
[4] Die appellant kom nou in hoër beroep slegs teen sy skuldigbevinding.
[5] Die gronde van appèl soos uiteengesit in die kennnisgewing van appèl en saamgelees met appellant se hoofde van betoog is dat die verhoorlanddros gefouteer het:
1. Deur te bevind dat die klaagster, Heloise Stefanus, ‘n geloofwaardige getuie is;
2. Wesenlike getuienis buite rekening te laat in die evalueering van die klaagster se getuienis;
3. Deur te bevind dat die klaagster se beserings veroorsaak was deur die dropper;
4. Deur nie die algemene optrede van Wayne Jacobs (‘Jacobs’) te oorweeg in die beoordeling van die vraag of die klaagster deur Jacobs aangerand was of nie;
5. Deur te bevind dat Millie Josephs (‘Josephs’) die weergawe van die klaagster staaf;
6. Deur die getuienis van Paul Hendrik Stefan Truter (‘Truter’) te aanvaar; en
7. Deur die appellant se getuienis te verwerp.
[6] In sy argument in diè hof het Mnr Lourens, wie namens die appellant opgetree het, in hoof sy betoë toegespits op of die verhoorhof inderdaad kon bevind dat die klaagster ‘n geloofwaardige getuie was, of haar getuienis dat sy inderdaad aangerand is gestaaf is deur enige van die ander staatsgetuies en of die hof bo redelike twyfel op die mediese getuienis kon bevind dat die klaagster se beserings deur die dropper veroorsaak is. Hy het aangevoer dat die moontlikheid van ‘n sameswering deur die getuies teen die appellant nie uitgesluit kan word nie.
[7] Alhoewel die geskilpunt in die saak baie nou is, is die getuienis oor ‘n periode van amper twee (2) jaar aangehoor. Die staat het altesaam vyf getuies geroep. Appellant het self getuig en ook drie getuies geroep om in sy verdediging te getuig, naamlik Jacobus Kannemeyer, Johannes Pretorius en Dr Jacob Dempers.
[8] Dit is gemene saak dat die appellant ‘n algemene gemengde boerdery te Vet-Rivier Plaas, in die Riversdal distrik bedryf en dat die klaagster sowel as meeste van die getuies wat in die saak getuig het ten tye van die voorval vir appellant gewerk het. Dit is verder gemene saak dat appellant met vakansie was te Witsand en dat Truter in sy afwesigheid, as bestuurder na dinge op die plaas omgesien het. Volgens die getuienis, het Jacobs op die Saterdag voor die Maandag, die dag waarop die aanranding plaasgevind het, ‘n rapport aan Truter gemaak het dat hy nou moeg is dat mense hom beskuldig dat hy ‘n skaap gesteel het.Jacobs het toe beweer dat dit klaagster, wie sy meisie is, wat die skaap gesteel het. Dit is verder gemenesaak dat Truter en Jacobs toe na die klaagster se woning daar op die plaas is, waar Jacobs en die klaagster mekaar oor en weer beskuldig het oor die steel van die skaap. Appellant is telefonies deur Truter meegedeel oor die diefstal van die skaap en die Maandag, agt uur voormiddag, het die appellant by die plaas aangekom.
[9] Dit is verder gemenesaak dat die appellant wou vasstel wie die skaap gesteel het en dat hy kwaad was oor die diefstal van sy skaap toe hy die klaagster en Jacobs daaroor ondervra het. Dit is ook so dat tydens die ondervraging, wat in die kombuis in die plaashuis plaasgevind het, dat Jacobs, terwyl hy alleen deur appellant ondervra is, die klaagster daarvan beskuldig het dat sy die skaap gesteel het. Dit is nie in geskil dat nadat appellant Jacobs ondervra het, dat hy Jacobs aangesê het om ‘n dropper vir hom te gaan sny.
[10] Terwyl Jacobs weg was om die dropper te sny, het appellant die klaagster begin ondervra oor die diefstal van die skaap. Dit is duidelik dat hy nie tevrede was met die veronskuldigende verduideliking wat sy aan hom gegee het nie. Nadat Jacobs met die tweede dropper teruggekeer het, is hy deur appellant aangesê om uit die plaashuis te gaan. Die tweede dropper is beskryf as ‘n hout paal, 600mm in lengte en 30mm in dikte.
[11] Na Jacobs uit die kombuis is, het appellant weereens die klaagster ondervra. Hy was heel duidelik nie tevrede met die klaagster se verontskuldigende verduideliking dat sy niks weet van die gesteelde skaap nie. Gedurende die ondervraging van die klaagster, het die appellant al hoe kwater geword en volgens sy eie getuienis vir klaagster in kru taal gesê dat hy nie haar weergawe aanvaar nie. Volgens die getuienis wat deur die hof aanvaar is, het appellant haar toe in die teenwoordigheid van Stefanus Truter (‘Truter’) verskeie kere met die dropper geslaan en ook vir haar geklap. Klaagster het daarin geslaag om uit die kombuis te vlug en in die rigting van haar huis op die land gehardloop. Appellant het haar op sy motorfiets agterna gesit met die dropper in sy hand en vir haar aangesê om na die plaashuis terug te gaan. Sy het toe omgedraai en by die slaghuis wat naby aan die plaas geleë is, ingegaan.
[12] Appellant het die slaghuis binne gegaan en in die teenwoordigheid van Truter die klaagster weereens aangerand met die dropper. Gedurende die aanranding in die slaghuis, het die klaagster op die vloer van die slaghuis te lande gekom, en in ‘n poging om weg van appellant te kom, het sy onder die wasbak weggekruip. Dit is gedurende hierdie aanranding deur appellant op die klaagster dat sy getuig dat toe appellant na haar slaan met die dropper, sy haar arm opgehou het om ‘n hou af te weer, wat haar arm gebreek is.
[13] Klaagster is daarna deur appellant op ‘n kru wyse gesê dat sy vanaf die plaas moes gaan. Eers later die aand het die polisie by haar huis aangekom en is sy na die hospitaal geneem waar haar arm in in ‘n slinger geplaas is en is sy aangesê om die volgende dag terug te kom. Dit blyk nie in geskil te wees dat die klaagster op 20 Desember 2010 om 19h00 by die Rivierdal SAPD ‘n rapport aan Sersant Saretha Rossouw (‘Rossouw’) gemaak het dat sy aangerand was nie en dat Rossouw die volgende waarnemings in haar verklaring oor die klaagster se beserings gemaak het nie:
‘Kop is baie opgeswel; linkeroog is blou; skaafwond links bo kop; linkerarm opgeswel en kan nie beweeg; liggaam en linkerbeen seer’.
[14] Die J88 of mediese verslag, wat deur Dr Van As voltooi is op 21 Desember 2010 om 11h30 oor die ondersoek van die klaagster, wat as ‘n bewysstuk ingehandig is, dui aan dat klaagster die volgende beserings gehad het:
“swelling en hematoom (L) oog soos per skets;
swelling en hematoom agter (L) oor en in die nek (L) soos per skets;
swelling en hematoom (L) voorarm soos per skets;
fraktuur van distale ulna (L).
[15] Dr van As het die inhoud van die J88 mediese verslag wat sy voltooi het in haar getuienis herhaal en bevestig. Ten opsigte van die laserasies op die klaagster se kop, het Dr van As getuig dat dit ‘n oppervlakkige laserasie was waar die vel oopgebars is. Na haar mening is die beserings op die klaagster se kop en die fraktuur van die linkerarm veroorsaak deur ‘n stomp voorwerp.
[16] Die verhoorlanddros het die getuienis vir die staat opgesom en in ‘n volledige en weldeurdagte uitspraak, na ‘n kritiese evaluering van die klaagster se getuienis, tot die slotsom gekom dat die klaagster ‘n goeie en eerlike getuie was. Ek is tevrede dat die verhoorlanddros bedag was op die weersprekings wat in klaagster se getuienis in hoof en in kruisverhoor na vore gekom het, sowel as die weersprekings tussen die klaagster se getuienis en die van Jacobs. Ek stem saam met die verhoorlanddros se bevinding dat die weersprekings nie wesenlik is nie en dat dit glad nie afbreuk doen aan haar geloofwaardigheid as ‘n getuie nie.
[17] Dit word in elk geval algemeen aanvaar dat waar twee of drie getuienis mekaar oor ‘n bepaalde aspek weerspreek, maak dit nie altwee of al drie van hierdie getuienis ook leuenaars of die aspek onbestaanbaar nie. Sien S v Mokoena 1978(1) SA 229 (O.P.A.) op bl. 232F. Dit is verder ook so dat weersprekings per se nie noodwendig tot die verwerping van ‘n getuie se getuienis lei nie. Sien S v Oosthuizen 1982(3) SA 571(TPD) op bl. 576.
[18] Ek stem saam met Juffrou Marshall wie namens die respondent verskyn het dat die klaagster ‘n baie eenvoudige relaas aan die verhoorhof voorgelê het en dat indien sy wou, sy maklik die getuienis oor die aanranding deur die appellant op haar kon aangedik het.
[19] Ek stem verder saam met die verhoorlanddros dat die klaagster se getuienis deur die getuienis van Jacobs gestaaf is, in die opsig dat, alhoewel hy nie die aanranding op die klaagster gesien het nie, hy klaagster se weergawe staaf dat:-
- appellant hom gestuur het om klaagster te gaan roep;
- hy gestuur was om ‘n dropper te gaan haal;
- die klaagster eers uitgestuur was en dat appellant eers met hom gepraat het in die teenwoordigheid van Truter;
- hy weer uitgestuur is na hy die tweede dropper aan appellant oorhandig het;
- appellant en Truter toe alleen agter gebly het in die kombuis met klaagster;
- klaagster daarna huilend uitgekom het en dat sy ‘n besering aan haar kop gehad het; en
- sy later gekla het oor haar arm wat seer was toe hy haar by die huis kry.
[20] In haar uitspraak het die verhoorlanddros bevind dat Josephs ‘n goeie en uitstekende getuie is en dat hy geen motief gehad het om enigsins leuens te vertel nie. Die landdros het bevind dat Josephs se getuienis belangrik is in die volgende opsigte:
‘… Hy getuig dat die klaagster verby hom geloop het, na hom toe gekom het, sy sê: “Kyk of daar nie ‘n knop op my kop is nie”. Hy getuig dat hy gekyk het en hy sê vir haar: “Daar is ‘n knop aan die linkerkant van jou kop”. Hy het nie bloed gesien nie, hy het nie gesien dis velaf nie. Met ander woorder hierdie getuie het ‘n waarneming gemaak. Hy staaf Heloise Stefanus se getuienis 100% …’. en verder: ‘… Hy vra haar nie uit nie. Hy sê vir haar: “Ek dink dit is beter dat jy huis toe gaan”. Hierdie is ‘n getuie wat nie betrokke wil raak om die beskuldigde in ‘n negatiewe lig te plaas nie’.
[21] Mnr Lourens het sterk betoog dat hierdie hof moes bevind dat die verhoorlanddros fouteer het deur te bevind dat Josephs se getuienis van kardinale belang is vir die staat. Voorts het hy aangevoer dat Josephs se getuienis geen stawing bied vir die klaagster se weergawe dat sy op twee afsonderlike geleenthede in die kombuis en later in die slaghuis aangerand is nie. Alhoewel Josephs nie gesien het hoe die appellant die klaagster aangerand het nie, stem ek saam met die verhoorlanddros, dat Josephs inderdaard ‘n objektiewe getuie is wat slegs getuig het oor sy waarnemings op die dag van die voorval.
[22] Ek is tevrede dat Josephs se getuienis inderdaad stawing bied aan die klaagster se weergawe in die sin dat hy getuig oor die feit dat die klaagster ‘n besering aan haar kop gehad het en wat die klaagster se gemoedstoestand was na die aanranding op haar. Die feit dat hy self nie die aanranding sien plaasvind het nie, doen nie afbreuk aan die feit dat hy stawing bied aan die klaagster se weergawe nie. Die feit dat die klaagster nie presies kon onthou wat presies tussen haar en Josephs plaasgevind het onmiddelik na die aanranding op haar, is te verstane, gesien die trauma wat sy op die dag beleef het. Dit maak ook nie haar of Josephs se getuienis minder aanvaarbaar of ongeloofwaardig nie. Die kritiek teen die verhoorlanddros se bevindings oor die getuienis van Josephs is gevolglik ongegrond en word dit verwerp.
[23] Alhoewel die landdros se aanvaarding van die getuienis van Truter gekritiseer is op die basis dat hy aanvanklik ‘n verdedigings getuie was en aanvanklik appellant se weergawe bevestig het, is ek tevrede dat die verhoorlanddros terdeë bewus was dat sy getuienis met versigtigheid benader moes word voordat die verhoorlanddros daarop kon staatmaak en tot ‘n geloofwaardigheids bevinding kon kom.
[24] Na my mening het die verhoorlanddros tereg bevind dat die waarborge vir die betroubaarheid van Truter se getuienins gevind kan word in die stawing wat aan sy getuienis gebied word in die getuienis van die klaagster, Jacobs en Josephs. Op die geheel gesien, is ek tevrede dat die verhoorlanddros, nieteenstaande die kritiek teen Truter se getuienis, sy getuienis korrek geevalueer het en tot die korrekte bevinding gekom het ten opsigte van die gewig wat sy daarop kon plaas.
[25] Appellant het getuig dat hy op 20 Desember 2010 met verlof was te Witsand toe Truter hom op die Saterdag oggend bel en hom sê dat Jacobs aan hom genoem het dat die klaagster die skaap gesteel het. Hy bevestig dat hy die Maandag vanaf Witsand na die plaas teruggekeer het en dat hy die mense bymekaar geroep het. Hy was ontsteld dat Jacobs die naweek onder die invloed was en het op hom gevloek. Hy was kwaad oor die steel van die skaap. Hy het getuig dat nadat die klaagster deur Jacobs geroep is, het hulle mekaar oor en weer beskuldig oor wie die skaap gesteel het. Hy bevestig dat hy Jacobs aangesê het om ‘n dropper te gaan sny want hy wou Jacobs uit die huis uitkry sodat hy alleen met klaagster kon praat. Volgens hom het hy klaagster in Jacobs se afwesigheid en in die teenwoordigheid van Truter ondervra. Klaagster het volgehou dat sy nie die skaap gesteel het nie en dat dit Jacobs was.
[26] Toe Jacobs met die dropper daar aankom, was hy nie tevrede daarmee nie en het hy Jacobs weer gestuur om ‘n beter dropper te gaan sny. Na Jacobs weg is, het appellant weer die klaagster ondervra maar sy het weereens ontken dat sy die skaap gesteel het en het aan hom verduidelik hoe Jacobs te werk gegaan het om die skaap te steel. Hy het getuig dat hy nie klaagster se storie geglo het nie en het in sy getuienis sy gevoelens oor wat hy van haar storie gedink het op ‘n kru manier uitgedruk. Volgens hom het hy klaagster aangesê om in die stoor te gaan wag aangesien hy eers Jacobs se storie wil hoor. Dit is duidelik dat appellant op die stadium kwaad was.
[27] Hy het daarna met Jacobs in die kombuis gepraat in die teenwoordigheid van Truter op welke geleentheid Jacobs weer die klaagster beskuldig het dat sy die skaap sou gesteel het. Volgens appellant het hy Jacobs se weergawe meer aanvaarbaar gevind en het hy Jacobs gestuur om klaagster in die stoor te gaan roep. Toe die klaagster weer in die kombuis is, het hy aan haar gesê wat Jacobs gesê het, en haar aangesê om die waarheid te praat. Hierop het die klaagster gehuil en het sy uit die kombuis uitgehardloop en deur die land geloop. Hy is met die motorfiets agter die klaagster aan en het vir haar gesê sy moet terugkom omdat hulle nog nie klaar gepraat het nie, want hy wil die waarheid hoor.
[28] Klaagster het teruggekom en hulle het na die slaghuis gegaan. In die teenwoordigheid van Truter het hy die klaagster verder uitgeskel en sy het toe erken dat sy die skaap gesteel het. Appellant het hierop toe ‘n vyf honderd rand (R500-00) aan die klaagster gegee en gesê sy moet vanaf sy plaas padgee. Volgens die appellant het die klaagster baie gehuil en aan hom gesê dat dat hy weer van haar sou hoor. Hy het gesien hoe sy in die rigting van haar huis loop. Hy het weer vir Jacobs ingeroep en aan hom gesê dat hy die klaagster weggejaag het waarop Jacobs toe vir hom gevra het of hy sy motorfiets kon leen want hy wou na sy huis gaan om te kyk dat klaagster nie van sy goed inpak nie. Appellant het ontken dat hy die klaagster op enige stadium aangerand het.
[29] By die evaluering van die getuienis in geheel, het die verhoorhof bevind dat appellant ‘n leuenagtige getuie is en dat sy weergawe onwaarskynlik is. Ek aanvaar dat die feit dat die hof bevind dat die staat se weergawe betroubaar is, nie beteken dat appellant se weergawe sonder meer verwerp moet word nie. Na my mening het die verhoorhof tereg bevind dat die appellant se verduideliking oor waarom hy Jacobs uitgestuur het om die dropper te gaan sny, onwaar is gebaseer op die stellings wat appellant se regsverteenwoordiger aan Truter gemaak het dat appellant die dropper laat sny het omdat hy ‘gedink het hy kan die waarheid uit hulle, die mense uitkry en dat hulle - en dat as hy nou klaar is wil hy die stokkie gebruik as hy na die volstruise toe gaan’. Appellant se weergawe dat hy die dropper laat sny het slegs vir die volstruise moet derhalwe verwerp word as vals.
[30] Op die appellant se weergawe is dit duidelik dat nadat hy met die klaagster in die kombuis gepraat het, hy kwaad was. Hy was nie tevrede met die klaagster se ontkenning nie. Hy het Jacobs se verduideliking aanvaar. Dit is duidelik dat hy reeds besluit het dat die klaagster skuldig was. Dit is verder duidelik dat toe klaagster volgens hom huilend uit die kombuis hardloop, hy steeds nie tevrede was met haar verduideliking nie en dat hy haar toe agterna gesit het omdat hy die waarheid wou weet.
[31] Na my mening was daar geen rede om die klaagster agterna te sit nie. Hy het teen daardie tyd reeds besluit dat hy haar nie glo nie. Daar was ook geen rede waarom hy die dropper saam met hom moes neem nie, behalwe as om dit te gebruik om die klaagster te dreig, soos die verhoorlanddros tereg bevind het.
[32] Die appellant se weergawe dat klaagster die hele storie oor die aanranding op haar opgemaak het, deurdat sy appellant gedreig het dat hy weer van haar sal hoor, is na mening tereg deur die landdros verwerp as ongegrond. In elk geval is hierdie weergawe nooit aan klaagster gestel in kruisverhoor nie en is dit redelik om te bevind dat appellant die weergawe gefabriseer het. Die bewering dat Jacobs die klaagster se beserings veroorsaak het, is na my mening, ‘n verdere wanhopige poging aan die kant van die appellant om homself te verontskuldig in omstandighede waar die geheel van getuienis oorweldigend daarop dui dat hy die klaagster aangerand het . In die geheel gesien is daar na my mening geen basis vir die bewering dat enige van die staatsgetuies teen appellant saam gesweer het nie. Indien dit so was dan kon die getuies baie maklik die saak teen appellant aangedik het en die aanranding op die klaagster baie meer ernstiger gemaak het. Met deurlees van die rekord is dit na my mening duidelik dat die getuies slegs getuig het oor wat hulle op diè dag ervaar en waargeneem het.
[33] Appellant se ontkenning dat die klaagster geen beserings opgedoen het, is tereg deur die hof verwerp in die lig van die klaagster se getuienis wat in wesenslike opsigte deur ander getuies gestaaf is, die observasies van Rossouw sowel as die mediese getuienies wat aan die verhoorhof voorgelê is.
[34] Na my mening het die verhoorlanddros die mediese getuienis van Dr van As oor haar bevindings tydens die ondersoek van klaagster en die getuienis van Dr Dempers (appellant se deskundige) volledig in die uitspraak hanteer en die getuienis krities geevalueer. Die verhoorlanddros het verder, na my mening, tereg bevind dat daar nie van die klaagster verwag kon word om presies te kon verduidelik hoe en op watter wyse die verskillende beserings wat sy gehad het, opgedoen is nie, inaggenome die manier en wyse waarop sy aangerand was nie. Na my mening bied die mediese getuienis van Dr Van As en Dr Dempers voldoende stawing vir die bevinding dat die beserings wat klaagster opgedoen het veroorsaak is deur ‘n stomp voorwerp wat die dropper nie kan uitsluit nie. Die kritiek teen die verhoorlanddros se evaluasie en bevinding oor die mediese getuienis is derhalwe ongegrond en word verwerp.
[35] Ek stem saam met die verhoorhof se bevinding dat die getuienis van Jacobus Kannemeyer en Johannes Pretorius nie van enige noemenswaardige hulp was by die beoordeling van die appellant se skuld al dan nie en gevolglik het die verhoorhof tereg geen gewig op hulle getuienis geplaas nie.
[36] Dit is geykte reg dat ‘n hof van appèl nie maklik sal inmeng met die bevindinge van die verhoorhof nie. Sien R v Dhlumayo en ‘n Ander 1948(2) SA 677A op 695. In R v Dhlumayo (supra) het die Appèl Hof bevind dat ‘n Hof van Appèl ook nie maklik inmeng met die geloofwaardigheids bevindinge van die verhoorhof nie omdat die verhoorhof die getuienis gehoor en gesien getuig het en is die verhoorhof ‘steeped in the atmosphere of the trial’. Die Hof van Appèl het ook in S v Malumbi en ‘n Ander 1991(1) SASV 235(A) op 247 F-G.bevind dat dit lank reeds gevestigde reg is ‘dat indien daar geen wanvoorligting op die feite is nie, die vermoede bestaan dat die verhoorhof se evaluering van die getuienis aangaande die feite korrek is, en dat ‘n Hof van Appèl alleenlik daarmee sal inmeng indien dit oortuig is dat daardie evaluasie verkeerd is’. Sien ook S v Mafaladiso en Andere 2003[1] SASV 583 (HHA) 595b-d. In die onderhawige saak is ek is oortuig dat die verhoorlanddros die getuienis korrek opgesom en geevalueer het.
[37] Dit is gepas om op die stadium te noem dat wanneer ‘n hof bepaal of the staat die skuld van die beskuldigde bo redelike twyfel bewys het al dan nie, kyk ‘n hof nie na die getuienis wat die beskuldigde impliseer, in isolasie om te bepaal of sy skuld bo redelike twyfel bewys is nie. Net so kyk die hof nie na die verontskuldigende getuienis in isolasie om te bepaal of dit redelike moontlik waar mag wees nie. Sien S v Van der Meyden 1999(1) SASV 447(W) op 448(i). In S v Govender en Andere 2004(2) SASV 381 (HHA) op 388 het die Hoër Hof van Appèl met goedkeuring verwys na die aanhaling in S v Hadebe en Andere 1998(1) SASV (HHA) 422 waar daar op 426 e – h by para 25 bevind is dat:
“The breaking down of a body of evidence into its component parts is obviously a useful aid to a proper understanding and evaluation of it. But, in doing so, one must guard against a tendency to focus too intently upon the separate and individual part of what is, after all, a mosaic of proof. Doubts about one aspect of the evidence led in a trial may arise when that aspect is viewed in isolation. Those doubts may be set at rest when it is evaluated against together with all the other available evidence. That is not to say that a broad and indulgent approach is appropriate when evaluating evidence. Far from it. There is no substitute for a detailed and critical examination of each and every component in a body of evidence. But, once that has been done, it is necessary to step back a pace and consider the mosaic as a whole. If that is not done, one may fail to see the wood for the trees.”
Sien ook S v Chabalala 2003(1) SASV 134 (HHA) op 139i – 140a.
[38] Indien die suiwere beginsels soos in die bovermelde gesag uiteengesit, by die feite van hierdie saak toegepas word, dan is ek tevrede dat die verhoorlanddros op die totaliteit van die getuienis tot die korrekte slotsom gekom het. Daar is gevolglik geen twyfel by my dat die verhoorhof tereg appellant se weergawe as leuenagtig en onwaarskynlik verwerp het en derhalwe korrek bevind het dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat die appellant die klaagster aangerand het deur haar te klap en met die dropper te slaan, met die opset om haar ernstig te beseer.
[39] Dit volg dat die appèl teen die skuldigbevinding nie kan slaag nie.
In die gevolg sal ek die volgende bevel voorstel:
Die appèl teen die skuldigbevinding word van die hand gewys.
RILEY, WnR
Ek stem saam en dit word so beveel.
LE GRANGE, R