South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2016 >>
[2016] ZAWCHC 85
| Noteup
| LawCite
Van Gijsen v Van Der Merwe (14860/13) [2016] ZAWCHC 85 (24 June 2016)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAPSE AFDELING, KAAPSTAD)
Saak No: 14860/13
DATE: 24 JUNE 2016
In die saak tussen:
NICOLAS RENIER VAN GIJSEN..................................................................................................Eiser
En
FRED VAN DER MERWE...................................................................................................Verweerder
UITSPRAAK GELEWER OP 24 JUNIE 2016
RILEY, WnR
[1] Die eiser in die aksie is ‘n gesertifiseerde finansieële beplanner met die professionele titel CFP. Volgens die aangebode getuienis het hy die grade BA; B.A. Hons MA verwerf, asook die Nagraadse Diploma in Finansieële Beplanning en ‘n Gevorderde Nagraadse Diploma in Finansieële Beplanning behaal.
[2] Eiser is ‘n spesialis in finansieële risiko bestuur en boedelbeplanning en is die besturende direkteur van Finlac Risk and Legal Mangement (EDMS) Bpk, die entiteit waarmee die eiser sy sake bedrywighede bestuur. Die finansieële dienste wat eiser aanbied, sluit onder andere die volgende in, bv advies rakende boedels, belasting, testament en bestorwe boedels.
[3] Op 10 September 2013 het eiser ‘n aksie teen verweerder ingestel gebaseer op twee e-posse wat verweerder onderskeidelik op 20 Junie 2013 en 16 Julie 2013 aan eiser en aan verskeie persone en of instansies aangestuur het.
[4] Die verweerder, ‘n neurochirurg van beroep, was aanvanklik verdedig deur prokureurs Edward Nathan Sonnenberg (“ENS”), welke prokureurs op 30 Maart 2015 onttrek het as sy prokureur van rekord. Dit is gemeensaak dat ENS onttrek het op ‘n stadium nadat hulle verweerder reeds bygestaan het met die opstel en liasseer van sy pleit in die geding. Op 28 May 2015 gee prokureurs Knowles Husain Lindsay Ingelyf kennis dat hulle aangestel is as prokureurs van rekord. Op 12 Oktober 2015 onttrek laasgenoemde prokureurs as verweerder se prokureur van rekord. Verweerder behartig sedert die datum sy eie verdediging.
[5] Dit is nodig om te meld dat alhoewel die saak neergeplaas is vir die verhoor om binne twee dae afgehandel te word en alhoewel slegs eiser en verweerder in die saak getuig het, die geallokeerde dae total onrealisties en te min was vanweë die feit dat die verweerder onverdedig was en die feit dat sy gebrek aan kennis van die reg en die regsproses tot ‘n groot mate veroorsaak het dat die afhandeling van die saak vertraag is.
AGTERGROND EN GESKIEDENIS
[6] Dit is nodig om die agtergrond en geskiedenis tot die saak te skets sodat die laster aksie in konteks gesien kan word. Die agtergrond en geskiedenis word volledig in Mnr Marais se hoofde van betoog uiteengesit en is tot in groot mate gemeensaak. Gerieflikheidshalwe sal ek gevolglik na die hoofde van betoog verwys en gee ek toe dat ek, veral waar die aspekte waarna verwys word, gemeensaak is, sal ek verbatim daarvan aanhaal. Ek maak ook op die stadium van die geleentheid gebruik om Mnr Marais te bedank vir sy baie volledige en goeie hoofde van betoog wat van groot hulp was om die geskilpunte uit te kristalliseer.
[7] Die verweerder is die middelkind van vyf kinders. Sy vader was ‘n onderwyser van beroep voor sy aftrede en sy moeder was ‘n tuisteskepper. Die verweerder se oorlede vader en moeder het op die plaas Onder Ongeluk gewoon en verweerder se pa het ook geboer op die plaas. Die verweerder het een jonger broer, Dr Ian van der Merwe (“Ian”) en drie susters. Een van die susters, Dr Lente van der Merwe (“Lente”) het die verweerder moreel bygestaan in die saak. Alhoewel verweerder aanvanklik aangedui het dat hy haar sou roep as ‘n getuie het hy haar egter nie geroep nie. Die verweerder se ander twee susters Almerie en Anina was nie direk betrokke in die aangeleentheid nie, maar is daar wel in die getuienis na hulle verwys.
[8] Uit die aangebode getuienis blyk dit dat verweerder op die plaas groot geword het en daarvandaan die plaaslike hoërskool te Posmasburg bygewoon het, terwyl sy jonger broer Ian, sy hoërskool loopbaan te Grey Kollege, Bloemfontein voltooi het. Soos blyk uit die getuienis het die verweerder die feit teen sy jonger broer gehou.
[9] Dit is gemeensaak dat in en gedurende 2007 die verweerder se vader die eiser genader het vir finansieële advies en in besonder raad gesoek oor die beplanning van sy boedel. Tydens die konsultasie tussen verweerder se vader en moeder, is sekere testamentere wense deur die vader met die eiser bespreek. Hierdie konsultasie is opgevolg met ‘n vertroulike verslag wat eiser op 12 April 2007 vir verweerder se pa voorberei het waarin ‘n opsomming van sy wense behandel is en die eiser formeel advies gegee het.
[10] Op 30 Mei 2007 het die eiser geantwoord op ‘n reeks vrae wat die verweerder en sy broer Ian aan hom gestel het. Die vrae handel grotendeels oor die toekoms van die plaas. Soos blyk uit die inhoud van eiser se e-pos aan die broers, het hy onder andere aspekte soos belasting en die voortsetting van die boerdery op die plaas aangespreek.
[11] Op versoek van die verweerder se ouers het die eiser ‘n gesamentlike testament laat opstel, welke testament deur die ouers geteken is. In die testament word voorsiening gemaak vir die skep van ‘n trust aan wie die plaas Onder Ongeluk, insluitend al die boerdery toerusting en boerdery gereedskap asook die losgoedere bemaak is. In terme van die testament het die verweerder se moeder lewenslange vruggebruik van die plaas en die bates daarop verkry en het die verweerder en sy broer Ian, die vruggebruik van die plaas verkry vir ‘n periode van twee jaar na die afsterwe van hul moeder. Die restant van die vader se boedel is in terme van die testament aan sy vrou nagelaat. Ingevolge klousule 13 van die testament word Finlac Trust as eksekuteur van die afsonderlike boedels aangestel asook as trustee van die testamentere trust.
[12] Op 19 Julie 2007 sterf die verweerder se vader en op 21 November 2007 word Louise Danielz (“Danielz”) aangestel as eksekuteur van die pase boedel as genomineerde van Finlac Trust. Die verweerder het getuig dat feitlik onmiddelik na hul pa se dood, het Ian en sy moeder begin vassit oor die plaas en die boerdery in die algemeen. Volgens hom was daar ernstige verskille en probleme tussen sy broer aan die eenkant, en sy moeder en hom aan die anderkant, oor die toekoms van die plaas en die voortsetting van die boerdery.
[13] In sy getuienis het die eiser die verskille en probleme bevestig en het hy getuig dat hy op verskeie geleenthede probeer het om die geskille by te lê. Hy het ook van sy kant gepoog om die verweerder se moeder se swak finansieële situasie aan te spreek met voorstelle wat hy aan haar en haar seuns gemaak het.
[14] Op 14 Januarie 2008 het eiser ‘n e-pos aan verweerder gestuur oor ‘n brief van sy broer se prokureurs oor die verweerder se moeder. Op 22 April 2008 het die eiser weer ‘n e-pos aan die verweerder, sy broer Ian en hul moeder gestuur, waarin hy na sekere gesprekke wat hy met hulle gehad het oor die vorige paar maande na die afsterwe van hulle vader, verwys.
[15] In die e-pos verwys hy na “die pad vorentoe” insluitend hul moeder se finansieële situasie, die plaas en die trust.
[16] Volgens die getuienis het die eksekuteur en aangestelde amptenare in diens van Finlac Trust, naamlik Me Celeste Fourie (“Fourie”) en Mnr Shayne Randhani, (“Randhani”), begin met stappe om die boedel te beredder en is pogings aangewend om die plaas aan die trust oor te dra.
[17] Op 30 Julie 2009 stuur Randhani ‘n e-pos aan verweerder waarin hy aan die verweerder ‘n konsep likwidasie en distribusie rekening voorlê vir sy oorweging en insette. Randhani wys ook in hierdie e-pos daarop dat daar ‘n kontant tekort in die boedel ontstaan het en dat daar voorsiening gemaak moet word vir belasting en ander uitgawes.
[18] Op 9 Augustus 2009 rig VGV Inc. prokureurs ‘n skrywe aan die verweerder, sy broer en suster Lente, en aan die eiser waarin daar na ‘n konsep huurooreenkoms verwys word en waarin gemeld word dat: “Hierdie huurooreenkoms tree eers in werking wanneer die plaas in die naam van die trust oorgedra word. Tot op daardie stadium huur Dr Ian Van der Merwe streng gesproke die plaas van die boedel. U is welkom om ooreen te kom dat dit op dieselfde basis geskied.”
[19] Ek is tevrede dat op die getuienis die voortslepende twis tussen die verweerder en sy broer egter verhoed het, dat daar konstruktiewe vooruitgang met die oordrag van die plaas en ander aspekte van die boedel bereik kon word. Van sy kant was eiser op daardie stadium nog gewillig om in sy persoonlike hoedanigheid die partye by te staan in ‘n poging om die situasie te help beredder.
[20] Die eiser het getuig dat die onderlinge twis tussen die broers egter nie deur hom bygelê kon word nie en gevolglik het hy op 4 September 2009 ‘n e-pos gerig aan die verweerder en sy prokureur Theuns Steyn (van ENS), sy broer Ian en die eksekuteur. In die e-pos sê die eiser onder andere dat:
“Na 2 jaar se kleinlike gekibbel, oor en weer beskuldigings, dreigemente en prokureursbriewe, versoek ek een en almal om my van jul verspreidingslys af te haal. My enigste betrokkenheid was om ‘n sterwende man te help om vir sy vrou voorsiening te maak.”
[21] Op 8 Oktober 2009 het Ian’s se prokureur ‘n brief aan Randhani gerig waarin onder andere duidelik gestel word dat Ian onder geen omstandighede sal toe stem tot die verkoop van die plaas nie.
[22] Op 6 April 2010 rig Theuns Steyn ‘n skrywe aan die verweerder waarin hy onder andere die verweerder raad gee aangaande die trust.
[23] Op 5 September 2012 stuur verweerder ‘n e-pos aan die Meester van die Hoogeregshof, Mnr Craig Davids (“Davids”) en verskeie ander persone insluitend sy broer en sy suster Lente, die eiser en die boedelbeamptes, met verwysing na sy vader se boedel. In hierdie e-pos verwys verweerder onder andere na die belasting registrasie en die moontlike onderverdeling van die plaas. In die e-pos sê verweerder:
“Ek verlang asb afskrifte van registrasie dokumente en aanslagte om verdere onderduimse bedrywighede te monitor.”
[24] Verweerder gaan voort en beweer dan dat sy broer agteraf konkel en besig is met ‘n slenterslag. Hy maak dan die volgende aantyging teen sy broer:
“Dr Ian het van die begin af geweier om saam te werk en soos telkemale uitgewys is, hom skuldig gemaak aan unilaterale besluite, optredes en vervreemding van boedelbates (steel), onwettige besigheidspraktyke soos alreeds uitgewys aan alle partye.”
[25] Op 5 September 2012 en in ‘n e-pos gerig aan dieselfde partye as sy broer se e-pos antwoord die verweerder se broer op die aantyging en noem hy onder ander die verweerder ‘n huigelaar. Hy noem voorts dat as gevolg van die verweerder, hul moeder en hul suster Lente se “konkelry” sit hulle nou met ‘n gemors. Hy eindig die e-pos deur te sê:
“Hou op om jou opgekropte emosies op my uit te haal aangesien ons weet dat jy en Pappa nooit langs dieselfde vuur kon sit nie.”
[26] Op 12 November 2012 rig die verweerder ‘n e-pos aan sy broer en rig dit ook aan verskeie ander persone asook Davids en die eiser. Die e-pos verwys na die onafgehandelde boedels van sy ouers en uitstaande belastingregistrasie / klaringsbewys, as ook die uitstaande besigheidsdokumente van die boerderybedrywighede. Hy sê onder andere:
“Ek wil dan weereens my ontevredenheid uitspreek met wyse waarop daar met boedelbates en boerderybesigheid omgegaan word en ek distansieer my van die onwettige optredes / besigheidsprake van die nie-aanvaarbare besigheidspraktyke soos deur Dr Ian gepleeg word.”
[27] In die skrywe beklemtoon verweerder verder dat hy geensins toestem tot ‘n publieke veiling van die plaas nie en dat hy dit sal teenstaan met “gevolge”.
[28] Op 13 November 2012 antwoord Ian met ‘n e-pos aan die verweerder (wat ook aan Davids en die boedelbeamptes gerig is) waarin hy noem dat die “boedelsake is tans in die beste hande en die proses is aan die gang. Nie ek of jy gaan enige iets regkry deur net eindelose eise te stel nie. Hy sluit af deur te sê: “Ek is seker almal tans betrokke is nou al keelvol vir jou aanhoudende ‘demands’.”
[29] In opvolg van hierdie e-pos stuur verweerder op 14 November 2012 ‘n e-pos aan Davids, ‘n beampte by SARS en verskeie ander persone insluitend die eiser. Hy verwys na die onafgehandelde boedel van sy vader en na vorige korrespondensie tussen hom en sy broer. Hy noem dat hy saamstem dat die “saak in die regte hande is en ek hoop dat die proses ASAP afgehandel kan word. Hy versoek die Ontvanger van Inkomste om volledig ondersoek in te stel na “werkingswyse, belastingregistrasies en weiering van registrasie deur verantwoordelike partye (eksekuteurs / trustee / Dr Ian as besigheidsman, boer, dokter, transportryer).”
[30] Verweerder noem verder dat hy hom nie vereenselwig met sy broer se onwettige optredes en praktyke nie en dat die eiser (by name genoem), as “opsteller van testament, direkteur van Finlac Trust maatskappy, asook en wat dan Finlac Trust as eksekuteur en ook trustees van Testamentêre Trust benoem het” kan bevestig dat hy hard probeer het om samewerking van die begunstigdes te probeer verkry.
[31] Verweerder sluit die e-pos af deur te sê dat, “Dit is my opinie dat daar nie enige vordering in die boedel gemaak word nie aangesien Eksekuteurs / trustees nie administrasie / beheer / kontrole kan of wil uitoefen nie.” Verweerder versoek dan laastens die Meester om indringend te kyk na die werkingswyse van die eksekuteurs. Op dieselfde dag stuur die verweerder ‘n brief aan VGV prokureurs waarin hy onder andere sê:
“Ek wil U graag inlig dat U kliënt, Mnr Nico Van Gijsen, nie eerlik is met U nie of andersins bewys [maak] van swak kommunikasie by Finlac Trust.”
[32] Op 27 Mei 2013 stuur die verweerder ‘n e-pos aan Davids en ander persone, insluitend persone by die department van justisie, die boedelbeamptes en die eiser, met verwysing na onder andere die onafgehandelde boedels en “kwaadwillige boerderypraktyke”. Hy maak dit duidelik dat hy weier om enige volmagte te onderteken en persoonlike besonderhede te verskaf aan Finlac Trust en VGV prokureurs “met duistere motiewe” en weier hy ondubbelsinnig om enige toestemming te gee vir enige oordragte.
[33] In die e-pos beskuldig die verweerder verder dat VGV prokureurs die sessievorms ten opsigte van ‘n voorgestelde sessie van die vruggebruik wat hulle aan verweerder verskaf het “misleidend, kwaadwilliglik, foutief en onaanvaarbaar en duidelik ‘n slenterslag van Finlac Trust en nomineerdes in samespanning met sekere VGV prokureurs om verantwoordelikheid af te skuif en te ontduik. Ek versoek dat MoHC dit moet verwerp met die minagting wat dit verdien.”
[34] Op 29 Mei 2013 rig die eksekuteur Danielz ‘n lang e-pos aan die verweerder en sy broer wat ook aan ander boedelbeamptes gerig word. In hierdie e-pos sit sy volledig die situasie uiteen ten opsigte van die redes waarom die boedel nog nie afgehandel is nie en waar sy die broers vra om hulle samewerking te gee sodat sy die boedel kan probeer afhandel.
[35] Ten spyte van die eksekuteur se verduidelikings en haar beroep op samewerking deur die verweerder en sy broer, rig die verweerder op 2 Junie 2013 ‘n e-pos aan die eiser en die eksekuteur wat ook gerig word aan Davids en verskeie ander staatsamptenare rakende die onafgehandelde boedels. Die verweerder maak dit duidelik dat: “Let wel, afskrifte word aan MoHC en SARS / SAID deurgegee.” In die e-pos sê die verweerder onder andere dat: “Dit is duidelik dat ek nie hierdie gemanupulasie, ‘cooking of books’ en haastig opstel van onvolledige inkomstestate sal aanvaar nie.”
[36] Op 17 Junie 2013 rig die verweerder se broer ‘n e-pos aan Fourie (een van die boedelbeamptes wat met die boedel se bereddering gemoeid is), waarin hy toestemming vra om speenkalwers te verkoop om uitgawes op die plaas te dek aangesien daar nie genoegsame fondse in die rekening is nie. Fourie versoek hierna skriftelike toestemming van die verweerder vir die verkoop van die speenkalwers. Die verweerder antwoord hierdie versoek op 20 Junie 2013 in ‘n e-pos wat spesifiek gerig is aan Davids. Ander persone en instansies waarna die e-pos ook gerig word is: Mnre Van Rensburg en Walters (altwee verbonde aan die Meesterskantoor); die sentrale kantoor van SARS; PWC ouditure en ‘n sekere Mnr Engelbrecht (‘n prokureur en trustee van die trust).
[37] Die onderwerp van die e-pos is “Verkoop van speenkalwers; Onafgehandelde boedels en Herverdelingsooreenkoms.” Die e-pos verwys eerstens na die feit dat daar “Geen geld meer oor [is] in besigheidsrekening!!!” Verweerder gaan voort en maak dan die volgende stellings:
“Gelukwense aan mede-begunstigde Dr Ian (jnr) Van Der Merwe… en Eksekuteurs: Finlac Trust Ltd … met suksesvolle plundering van die Boerdery-Besigheidsrekening en vervreemding van boedel en trustbates voordat enige belasting betaal is.” Verweerder beweer dan dat: “Hierdie was ‘n goed ge-orkestreerde poging tot samespanning maar soos telke male uitgewys aan alle partye moet en sal die ‘law must take its course’ en ‘justice will prevail’.”
“Wat ‘n ‘suksesvolle’ boer is Dr Ian nie. Sy ‘inflated’ boerderyuitgawes, verberging van inkomstes, misbruik van VAT en vruggebruik deur oa kontantverkope wat nie verklaar word nie, sal nie aanvaar word nie. Hierdie is ooglopend toegelaat deur Finlac direkteur, Nico Van Gijsen en genomineerdes asook trustees tsv ernstige besware.” Die bewering word voorts gemaak dat “Dr Ian se plundering, soos toegelaat deur Finlac Trust direkteure, nomineerdes en trustees…”
“Die feit is dat dr Ian as ‘suksesvolle’ boer /vervoerkontrakteur/mediese praktisyn meer as ‘n miljoen rand se inkomste weggesteel het… soos ooglopend goedgekeur deur Finlac, trustees.”
“Wie gaan aanspreeklikheid aanvaar vir hierdie ooglopende bedrog, stelery, samespanning tot VAT en Belastingontduiking en verduistering soos toegelaat deur professionele persone.”
[38] Die verweerder verwys dan pertinent na die eiser wanneer hy sȇ:
“Ek is seker dat SARS en MoHC graag die volle prentjie sal wil verkry… Dit wil voorkom asof wettige testament selektief gebruik word vir finansieële gewin van Eksekuteur / Finlac Trust met direkteur, mnr Nico Van Gijsen en mede begunstigde, Dr Ian.”
[39] ‘n Versoek word gerig aan die Ontvanger van Inkomste (SAID) dat “’n volle audit en leefstylondersoek” gedoen moet word “… aangesien hier duidelike bewyse van bedrog, samespanning tot belastingontduiking en totale roekelose en nalatige optredes deur aangestelde beamptes is…”
[40] Hierna het die verweerder op 17 Julie 2013 ‘n e-pos aan Davids en andere, insluitend beamptes van SARS gerig waarin hy verwys na die “onwettige besigheidspraktyke en wanadministrasie en nalatige wyses van Finlac eksekuteurs / trustees.” Die e-pos sluit af met die volgende stelling:
“…Louise is genomineerde van Finlac, met direkteur Nico Van Gijsen wat aangestel is as eksekuteur. Geen kontrole en beheer is uitgeoefen nie vanaf begin met bedrieglike modus operandi van Nico Van Gijsen.”
[41] Op 22 Julie 2013 het eiser se prokureurs ‘n brief gestuur aan die verweerder waarin hy daarop gewys word dat sy uitlatings in die twee laas genoemde e-posse lasterlik was ten opsigte van die eiser en hy gevra word om skriftelik apologie aan te teken en hom te weerhou om verdere lasterlike bewerings jeens die eiser te maak.
[42] Op 8 August 2013 rig die verweerder ‘n brief aan eiser se prokureurs waarin hy ontken dat die bewerings in die gemelde e-posse lasterlik was. Verweerder is verder nie bereid om ‘n apologie te maak nie en is hy ook nie bereid om ‘n onderneming te gee dat hy nie die eiser sal belaster nie. Dit is gemeensaak dat die eiser daarna die dagvaarding teen die verweerder uitgereik het.
[43] Dit is belangrik om ook die gebeure wat na die uitreiking en bediening van die dagvaarding op die verweerder in oënskou te neem aangesien dit na my mening aanduidend is van die verweerder se verdere onregmatige lasterlike optrede, veral teenoor die eiser.
[44] Op 10 Februarie 2014 stuur verweerder ‘n e-pos aan Davids, en ander personeel van die Meesterskantoor in Kimberley, en beamptes van SARS asook boedelbeamptes van Finlac Trust. In die e-pos stel hy Finlac Trust gelyk met die eksekuteurs van die boedel en voer hy aan dat sy broer se eis nr 1 teen die boedel is, wat sy vermoedens dat dit “hoogs verdag en onreelmatig is”, versterk. Hy noem dan die eiser by name as direkteur, boedelbeplanner en opsteller van die testament. Hy eindig die e-pos af deur die volgende te stel:
“Ek versoek dat die MoHC en SARS asb ingryp en verdere stappe doen aangesien hierdie Eksekuteurs nie in staat is nie en ek hulle bevoegdheid, kundigheid en werkingswyse ernstig betwyfel en ek geen vertroue in Eksekuteurs (Finlac Trust Ltd volgens testament, met mnr Nico Van Gijsen as direkteur / testamentopsteller / boedelbeplanner van beide ouers se testamente) en hulle genomineerdes het nie.”
[45] Op 13 Februarie 2014 skryf eiser se prokureurs aan verweerder se prokureurs en verwys na die lasterlike bewerings in laasgemelde e-pos en versoek dat verweerder skriftelik onderneem om hom te weerhou van verdere lasterlike bewerings en dat tensy die onderneming nie gegee word nie dat ‘n aansoek om ‘n interdik teen verweerder aangevra sal word.
[46] Verweerder ontken deurmiddel van ‘n skrywe van sy prokureurs dat hy enige lasterlike bewerings gemaak het, maar gee nietemin ‘n onderneming dat hy nie lasterlike bewerings teenoor eiser sal maak nie.
[47] Op 28 Mei 2014 lȇ verweerder ‘n klag teen die eiser by FISA. Die klag bevat ‘n aantal ernstige lasterlike bewerings sodanig dat eiser hom skuldig gemaak het aan verskeie stafregtelike oortredings insluitende bedrog en belastingontduiking.
[48] Op 27 Augustus 2014 rig verweerder ‘n e-pos aan die Hoofmeester, Adv Basson, en ander personeel by die Meesterskantoor te Kimberley. Die e-pos word ook aangestuur aan beamptes van SARS, lede van FSB asook verskeie ander persone wat betrokke is by die boedel. Die opskrif is “Ernstige besware deur Dr Fred Van Der Merwe …” In die e-pos maak die verweerder onder andere die volgende stellings:
“Dit bevestig weereens die BEDRIEGLIKE WYSES van FINLAC TRUST/NEDGROUP TRUST se NASIONALE BOEDELSHOOF. Hierdie groep wil hulle VERANTWOORDELIKHEDE en BELASTINGAANSPREEKLIKHEID as Public Officer afskuif.” en verder “Let wel hierdie samespanning tussen Eksekuteursgroep en Dr Ian is alreeds uitgewys aan Meesterkantore en SARS…
GEEN LASTEREIS van mnr NICO van Gijsen sal aanvaar word nie asook geen verdere dreigende interdikte deur sy prokureurgroep VGV – prokureurs, met Franscois Van Gijsen wat ook direkteur van Finlac Trust is asook konsultant by VGV prokureurs) om my stilswye te verseker NIE.”
[49] Verweerder gaan verder en stel dit dat:
“Mnr Nico Van Gijsen (Finansieële[sic] adviseur en beplanner van beide ouers en deskundige beplanner, boedelbeplanner, testamentopsteller, direkteur en sleutelpersoon van Finlac Trust) se rol en misleiding van oorlede ouers oa rakende trusteeskap (Finlac trust is tweeledig aangestel volgens testament) is bekend en versoek ek hom om soos hy in aangehegde persberig van afgelope week in “RAPPORT” om ook in sy eie FINLAC TRUST – spieeltjie te kyk na “Geldhyiena”. Let ook op dat klagtes alreeds ingedien is by FSB en FISA waarvan betrokkenes (Mnr van Gijsen en Louise Danielz) lede is.”
Verweerder vra verder “Wanneer gaan hierdie BEDRIEGLIKE WERKINGSWYSES van FINLAC en NEDGROUPTRUST be-eindig word?”
[50] Die verweerder voer verder ook aan dat “VATBEDROG (sic) is uitgewys aan owerhede insluitende SARS”
“Dr Fred het GEEN TOESTEMMING gegee wat … hierdie KLUG / BEDROGSPUL direk of indirek magtig nie.”
“EK versoek HOOFMEESTER, MEESTERSKANTORE EN SA INKOMSTEDIENS OM ERNSTIG en DRINGEND aandag te gee aan hierdie BESWARE van myself en leiding te gee ter regverdige afhandeling van hierdie boedels.”
[51] Op 1 September 2014 rig die verweerder ‘n e-pos aan Davids en verskeie ander persone in die staatsdiens en boedelbeamptes waarin hy verwys na die direkteure van Finlac Trust (N van Gijsen en J Gibson) en sê dan:
“Dit bevestig slegs die TOTALE GEEN BEHEER EN KONTROLE asook die KORRUPTE verhouding en samespanning met Dr Ian”
Verweerder voer dan voorts aan dat:
“Hierdie kom neer op beplande doelbewuste bedrieglike ‘Steel’ van boedelinkomste. FINLAC TRUST en sy genomineerde (FINLAC TRUST en NEDGROUP TRUST) nasionale hoof van boedels se werkingswyse is Korrupt, ondeursigtig, deurspek met bedrieglike werkingswyses en sal publiek moet beskerm word teen hierdie Eksekuteursgroepe.”
[52] Twee weke later, op 15 September 2014, stuur die verweerder ‘n e-pos aan ‘n reeks persone, insluitend die Hoofmeester en ander beamptes in die Meesterskantoor, asook SARS en persone wat betrokke is by die bereddering van die boedel. In die e-pos doen die verweerder ‘n beroep op die “Eksekuteursgroep” en voeg dan by:
“U volgehoue Wanvoorstellings, Verdraaings, Oogverblindery en suiwere leuns is Onaanvaarbaar...”
“Ek staan by die feite hierdie sg. ‘Openbare Veiling’ ‘n bedrieglike Slenterslag is om U Verantwoordelikhede, Belasting aanspreeklikheid en andere te probeer (sic) vermy en af te skuif.”
“Die KORRUPTE VERHOUDING met dr Ian is verder bewys met indiening van aanbiedinge tydens Private veiling...”
“Klagtes by FISA is in hierdie stadium van DISSIPLINERE ONDERSOEK (sien aangeheg maw wie (Eksekuteursgroep bestaan uit mense?) word ondersoek wat al hierdie verrykende besluite en vorms so vernuftig indien, na my vele besware en versoeke tot TOTALE EKSEKUTEURSGROEP, maw van Boedelbeampte tot genomineerdes tot direkteure ASOOK Meesterkantoor.”
[53] Verweerder sluit die lang tirade af met die uiteensetting van sy “STANDPUNT”:
“1. Bedrieglike Werkingswyses en EKSEKUTEURSGROEP op alle vlakke met totale faling van ‘Fiduciary Duties’ met ernstige gepaardgaande belastingprobleme.
2. Bedrieglike wyses alreeds ontbloot met verkryging van Eksekuteursfooie sonder toestemming, neem van NEASEA fooie, wanvoorstellings met Versekeringspolisse, etc... ook waardasiemanipulasies
3. Samespanning en Korrupte VERHOUDING MET DR Ian ...
4. Hou VAN Openbare Veiling wat niks anders was a KLUGSPEL nie, soos bo verduidelik.
5. Intimidasie met sg Lastereise en dreigende interdikte deur ‘oordragprokureursgroep’ wat direkteure verteenwwordig wat ook as Konsultant optree.
6. Wanvoorstellings en Voorsiening van MEESTERKANTOOR met valse inligting...
7. Bedrieglike wyses ter verkryging van sg Endossering...”
[54] Op 29 September 2014 het eiser ‘n dringende aansoek gebring in hierdie Hof onder saaknommer 17249/14 vir ‘n interim interdik, hangende die afhandeling van die aksie in hierdie saak, om verweerder te verbied om die goeie naam en reputasie van eiser op enige wyse, direk of indirek, aan te tas deur publikasie op enige wyse van lasterlike beweings teen eiser.
[55] Op 7 Oktober 2014 het verweerder sy opponerende eedsverklaring geliaseer. Hy het in wese erken dat hy die e-posse waarna verwys word in die aansoek gestuur het maar het ontken dat hy die eiser belaster het en dat die eiser derhalwe nie ‘n behoorlike saak uitgemaak het vir ‘n interim interdik nie.
[56] In sy opponerende eedsverklaring het verweerder aangevoer dat hy op 1 Oktober 2014 (dws na die dringende aansoek geloods is), op ‘n dringende basis aansoek gedoen het in die Hooggeregshof, Noord-Kaapse Afdeling, ingevolge waarvan hy ‘n interim interdik aangevra het teen die Eksekuteur van sy vader se boedel, hangende die beregting van ‘n aansoek om die verkoop van die plaas aan sy broer ter syde te laat stel en nietig te verklaar. In die omstandighede het verweerder die stukke van sy dringende aansoekstukke in die Hoogeregshof te Kimberley ingelyf by die eiser se dringende aansoek.
[57] Op 14 Okober 2014 het Salie-Samuels WNR (soos sy toe was), ‘n hofbevel uitgereik by ooreenkoms tussen eiser en verweerder ingevolge waarvan verweerder onderneem het om nie enige lasterlike bewerings teenoor die eiser te maak nie. ‘n Bevel dat die koste van die dringende aansoek sal oorstaan vir beregting by die aanhoor van hierdie aksie is ook gemaak.
GEBEURE NA DIE TOESTAAN VAN DIE HOFBEVEL TEEN VERWEERDER
[58] Op 12 Maart 2015 rig die verweerder ‘n e-pos aan prokureurs C&A Friedlander (die eksekuteur se prokureurs) asook verskeie ander persone. Hy stel onder andere dat: “Hierdie is die kern van my probleem agv totale beplande faling van Eksekuteurs en / of trustees wat u Kliente geprobeer regstel het met bedrieglike wyses”.
[59] Op 11 Mei 2015 stuur verweerder ‘n e-pos aan verskeie persone, onder andere die Hoofmeester en beamptes by SARS, waarin hy spesifiek na die eiser verwys. Die algemene strekking van die e-pos is dat die eiser, gesamentlik met die ander persone in die “’Eksekuteursgroep’, skuldig is aan nalatige en onprofessionele optredes, bedrieglike wyses van optrede, faling van ‘fudiciary duties’ en ‘deelnemers is van hierde bedrogspul’.
[60] Op 18 Augustus 2015 rig verweerder weereens’n e-pos aan verskeie persone onder andere die Hoofmeester Adv Basson, en ‘n beampte by SARS. Verweerder verwys hierin spesifiek na ‘n klagte wat teen eiser ingedien is by FISA en sê hy die volgende:
“Soos U verder bewus behoort te wees was daar klagte ingedien rakende optrede van FINLAC FISA-LEDE wat alreeds verwys is na Dissiplinre komitee vir ‘n Dissiplinere ‘process’ volgens die Voorsittende beampte, mnr Jacobs. Tsv vele versoek kon ons egter NIE die amptelike brief wat mnr PA Venter (VGV Prokureurs namens sy kliënt, Nico van Gijsen, ook toevallig ‘n direkteur by Finlac Trust Ltd en Finlac Risk and Legal Private Company) geskryf het, Verkry NIE as deel van die dissiplinere proses. Dit is egter steurend dat FISA, met Fisa lid, mnr van Gijsen, weier om hierdie brief beskikbaar te stel in lig daarvan dat ook SAIT wel hierdie misleidende brief van PA Venter aan SAIT, beskikbaar gestel het.”
[61] Op 21 Augustus 2015 (om 06h21) rig verweerder ‘n e-pos aan sy prokureur Terrence Matzdorf en mnr Venter (eiser se prokureur van rekord). Hierin voer verweerder onder andere aan:
“Soos bekend is die hofuitspraak van die DRINGENDE HOFAANSOEK (SAAK 1637/2014) te Kimberley binnekort te wagte nadat hierdie SAAK uiteindelik, wel volledig in die hof gedien het. Hierdie volg op die bedrieglike Finale Verkoopkontrak (“DUIDELIK MET SLEGS EEN DOEL VOOR OE GEDOEN EN DIT IS OM DIE ONTVANGER VAN INKOMSTE TE BEDRIEG”) soos verkry vanaf Eksekuteurs. Duidelik is mnr Nico van Gijsen betrokke as direkteur, sleutelpersoon, finansiele adviseur, testamentopsteller, FISA/FPI/SAIT-lid”
[62] Later op dieselfde dag gee die Hoogeregshof Kimberley by monde van Olivier R uitpraak in die saak. Verweerder se aansoek word van die hand gewys met koste. In sy uitspraak sê die geleerde regter die volgende oor die verweerder:
“... dalk gelukkig vir die applikant [het vierde respondent nie die aansoek opponeer nie] en gevolglik is daar nie sprake van koste aan sy kant nie. Ek sê dat dit dalk gelukkig vir die applikant is, want veral nadat vierde respondent ...’n eedsverklaring geliaseer het, en dit duidelik nie was wat applikant wou hoor nie, het die vierdie respondent ook nie die applikant se skerp tong gespaar gebly nie.”
Dit is belangrik om hier aan te dui dat die geleerde regter die volgende opmerking in die volgende voetnota maak:
“Die applikant se verklarings en korrespondensie is oor die algemeen gekenmerk deur vernyn, beledigings en ernstige beskuldigings.”
[63] In sy uitspraak sê Olivier R verder die volgende oor verweerder persoonlik:
“Ek vind die applikant se beledigende opmerking tot die effek dat die vierde respondent [‘n prokureur en trustee van die trust] nie geskik is om te dien ‘as trustee van trust met begunstigdes wat oor akademiese kwalifikasies beskik nie’ verwaand en aanmatigend. Dit is ‘n opmerking wat geen bydrae kan lewer tot die beregting van hierdie aansoek nie en waarvan die doel noodwendig slegs kon gewees het om te beledig en te kwets.”
[64] Nieteenstaande die uitspraak van Olivier R en veral in die lig van die persoonlike opmerkings van Olivier R, rig verweerder op 7 September 2015 ‘n lang e-pos aan verskeie persone, insluitend die Hoofmeester en SARS. Hierin verwys verweerder in die verbygaan na Olivier R se uitspraak en maak hy opmerkings oor sekere aspekte daarvan. In die brief noem hy weereens eiser by name. Hy verwys afkeurend na eiser se “Lastersaak” en interdik en beklemtoon dat FISA “alreeds aangedui het dat daar ‘n ‘disciplinary process’ teen ene mnr Nico van Gijsen in proses is deur Dissiplinere Komitee.” Verweerder voeg onder andere by dat FINLAC TRUST is “NOT to be TRUSTED”
[65] Op 2 November 2015 stuur verweerder ‘n e-pos aan verskeie persone. Die aanhef van die skrywe is: “MET SLEGS RESPEK aan die UITSONDERLIKE REGSGELEERDES”. Verweerder verwys ter opsomming na die “onreelmatige en bedrieglike veiling gehou ... in samewerking met Finlac...” Verweerder maak dit ook duidelik dat hy “hierdie skrywe ook aan owerhede deurgegee gaan word asook dat ek, [die] Owerhede en SA Polisie graag sal bystaan met die ontrafeling.”
[66] Hierna het verweerder ‘n string e-posse gestuur (9 November 2015; 15 November 2015; 17 November 2015; 22 November 2015; 30 November 2015) aan verskeie persone insluitend beamptes van die Meesterskantoor en SARS waarin hy eiser onder andere beskuldig van bedrog. Hy beklemtoon dat: “die eksekuteurs is dus NIE net deelnemers nie maar die ARGITEKTE van die BEDROG”
RELEVANTE REGSBEGINSELS
[67] Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (108 van 1996), bepaal in artikel 10 dat elkeen die ingebore waardigheid en die reg het dat daardie waardigheid gerespekteer en beskerm word. In terme van artikel 7 (2) van die Grondwet, moet die Staat hierdie regte eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik. Voor die inwerkingtreding van die Grondwet het die corpus van ons gemenereg (wat nog steeds van toepassing is) die goeie naam of fama as ‘n selfstandige persoonlikheidsgoed in die Suid-Afrikaanse reg erken en beskerm.
[68] Die actio iniuriarum van die Romeinse en Romeins-Hollandse reg is in ons reg oorgeneem as die enigste aksie waarmee genoegdoening op grond van opsetlike persoonlikheidskrenking verhaal kan word. Die voorvereiste vir die onregmatige daad iniuria, en derhalwe vir ‘n geslaagde beroep op die actio iniuriarum, is die onregmatige en opsetlike persoonlikheidskrenking deur die verweerder. Die onderskeidende funksie van die actio iniuriarum is daarin geleë dat dit gerig is op beskerming van die persoonlikheid in sy fisiese en geestelike integriteit. Die ontstaansrede en aanleiding tot die gemeenregtike en kontemporêre uitbreiding van die actio iniuriarum is juis te vind in sy funksie as enigste aksie wat direk op die beskerming van die persoonlikheid teen onregmatige en opsetlike aantasting gemik is. Die actio iniuriarum was van meet af aan ‘n private strafaksie, ‘n actio vindictam spirans – “... dit is gerig nie op vergoeding van ‘n materiële waardeerbare nadeel nie, maar op wraak, genoegdoening, vir krenking van die persoonlikheid”. Sien Van der Merwe en Olivier; Die onregmatige daad in die Suid Afrikaanse reg; 3rde uitg. bl 223. Die skending van ‘n person se reg op goeie naam of fama word in die Suid Afrikaanse reg beskryf as “Laster” en gedefinieër as die onregmatige, opsetlike publikasie van woorde of gedrag aangaande ‘n bepaalde person waardeur sy goeie naam, reputasie of aansien in die gemeenskap aangetas word. Sien Van der Merwe en Olivier supra bl. 369. Neethling beskryf dit as die onregmatige, opsetlike publikasie van woorde of gedrag aangaande ‘n ander wat die strekking het om sy aansien, goeie naam en reputasie te ondermyn. Neethling: Persoonlikheidsreg, 3rde uit. bl. 125.
[69] Indien na die skrywers sowel as die gewysigdes gekyk word dan is die elemente van die injuria, laster die volgende:
1. Die handeling – publikasie van woorde of gedrag;
2. ‘n Persoonlikheidskrenking – lasterlikheid van die woorde of gedrag;
3. Onregmatige aantasting van die persoonlikheidsreg op die goeie naam;
4. Opset – animus iniuriandi.
PUBLIKASIE
[70] In die algemeen word aan die publikasie vereiste voldoen indien die gewraakte woorde of gedrag aan minstens een ander persoon as die belasterde self openbaar gemaak word. Sien Neethling supra bl. 126. Aangesien publikasie ‘n aanspreeklikheidsvereiste vir laster is, moet die eiser uidruklik beweer en bewys dat publikasie van die beweerde laster inderdaad geskied het. Staan die publikasie vas, moet die eiser voorts aantoon dat die verweerder vir die publikasie verantwoordelik was. Aangesien die verweerder in die onderhawige saak in sy getuienis erken en toegegee het dat die persone genoem in die e-posse waarop eiser steun in hierdie laster aksie, wel die e-posse ontvang het, en dat hy inderdaad die afsender van die e-posse was, is dit nie nodig om hierdie element van laster verder in besonderhede te bespreek nie.
LASTERLIKHEID VAN DIE WOORDE EN ONREGMATIGHEID
[71] Volgens die howe is die publikasie van enige woorde of gedrag wat volgens die oordeel van die redelike man met normale verstand en ontwikkeling die strekking het om ‘n persoon se goeie naam, reputasie, aansien of agting in die gemeenskap te ondermyn, te ondergrawe of aan te tas, lasterlik van, en in beginsel onregmatig jeens hom.
[72] Die onus is op die eiser om die lasterlik (prima facie onregmatigheid) van die publikasie te bewys.
[73] Die maatstaf by die toepassing van die redelike man toets is ‘die fiktiewe, normale, ewewigtige, regsinnige en redelike mens’. Die toepassing van die maatstaf van die redelike man is uit die aard van die saak afhanklik van die omstandighede van die besondere geval. Daarom moet die gewraakte bewerings vertolk word in die samehang waarin dit verskyn.
[74] Woorde is gewoonweg prima facie (op gesigwaarde) per se of volgens hulle primêre betekenis wat deur die redelike man in hulle samehang daaraan geheg word, lasterlik. Bewerings wat ‘n persoon se morele en sedelike karakter en lewe in ‘n slegte lig stel, soos dat hy hom aan kriminele gedrag skuldig gemaak het, oneerlik is of andersins onbehoorlik teenoor andere opgetree het of onkuis of immoreel is, is per se lasterlik. Stellings wat ‘n persoon se beroepsvermoë, bekwaamhied verdag maak is ook per se lasterlik. Sien Neethling supra bl. 138 vn 112.
[75] Indien die eiser bewys dat volgens die toets van die redelike man die gewraakte publikasie lasterlik is en op hom van toepassing is, lewer hy prima facie bewys van onregmatigheid. ‘n Regsvermoede bestaan dat die publikasie onregmatig is en plaas dit ‘n volle bewyslas op die verweerder om die vermoede te weerlê.
[76] Die verweerder kan dit doen deur die aanwesigheid van ‘n regverdigingsgrond soos priviligie, billike kommentaar of waarheid en openbare belang vir sy optrede aan te toon. Slaag hy nie daarin nie, staan die onregmatigheid van die publikasie vas.
OPSET
[77] Animus iniuriandi of die opset om te belaster, wat vanselfsprekend enige van die bekende drie vorme van opset, naamlik dolus directus, dolus indirectus en dolus evantualis insluit, beteken “die geestesgesteldheid” om die bepaalde gevolg te wil, met die wete dat die gevolg onregmatig sal wees.
[78] Die eiser hoef nie die bestaan van animus iniuriandi te bewys nie. Staan dit vas dat die publikasie lasterlik is en op die eiser betrekking het, dan ontstaan daar ‘n verder regsvermoede dat die belastering met opset geskied het.
[79] Die verweerder kan hierdie bewyslas kwyt deur enige getuienis voor te lê wat aantoon dat of wilsgerigtheid of onregmatigheidsbewussyn of beide, as wesentlike elemente van opset, by hom ontbreek het en dat daar met ander woorde ‘n skulduitsluitingsgrond aanwesig is.
[80] Ons howe en akademiese skrywers het oor die jare basies twee skulduitsluitings gronde uitgelig (daar mag egter ook ander wees, soos totale gebrek aan animus weens geestesversteuring ens.), naamlik “dwaling”; en “skerts”.
[81] Dwaling sal teenwoordig wees indien ‘n person nie bewus is van die onregmatigheid van sy lasterlike bewering omdat hy dink of glo dat sy optrede regmatig is en gevolglik ontbreek onregmatigheidsbewussyn weens die dwaling by hom. Die vraag of die verweerder gedwaal het moet soos in alle gevalle waar opset ter sprake kom, subjektief beoordeel word.
[82] Indien ‘n persoon lasterlike woorde as ‘n grap publiseer, is sy wil nie gerig op die krenking van die benadeelde se reg op goeie naam nie en sou dit neerkom op skerts. Die gevolg is dat wilsgerigtheid as wesentlike element van opset ontbreek en bygevolg animus iniuriandi. Dit blyk egter asof hierdie beskouing nie in die regspraak geld nie. Vir ‘n suksevolle beroep op skerts sal ‘n verweerder moet bewys dat die redelike omstanders of lesers of aanhoorders ook die woorde as ‘n grap opgeneem het.
[83] Die Konstitusionele Hof het die algemene beginsels van laster in die Suid-Afrikaanse reg as soos volg bevestig in Le Roux and Others v Dey (Freedom of Expression Institute and Restorative Justice Centre as Amici Curiae) 2011 (3) SA 274 (CC) op bl. 304:
“[84] ... In Khumalo v Others v Holomisa [2002] ZACC 12; [2002 (5) SA 401 (CC)] this court stated that the elements of defamation are ‘(a) the wrongful and (b) intentional (c) publication of (d) a defamatory statement (e) concerning the plaintiff’.
[85] Yet the plaintiff does not have to establish every one of these elements in order to succeed. All the plaintiff has to prove at the outset is the publication of defamatory matter concerning himself or herself. Once the plaintiff has accomplished this, it is presumed that the statement was both wrongful and intentional. A defendant wishing to avoid liability for defamation must then raise a defence which excludes either wrongfulness or intent. Until recently there was doubt as to the exact nature of the onus. But now it is settled that the onus on the defendant to rebut one or the other presumption is not only a duty to adduce evidence, but a full onus, that is, it must be discharged on a preponderance of probabilities. A bare denial by the defendant will therefore not be enough. Facts must be pleaded and proved that will be sufficient to establish the defence.
[84] Met betrekking tot die vraag op die woorde per se lasterlik is het die Konstitusionele Hof beslis dat dit ‘n tweeledige ondersoek behels.
“[89] … The first is to establish the ordinary meaning of the statement. The second is whether that meaning is defamatory. In establishing the ordinary meaning, the court is not concerned with the meaning which the maker of the statement intended to convey. Nor is it concerned with the meaning given to it by the persons to whom it was published, whether or not they believe it to be true, or whether or not they then thought less of plaintiff. The test to be applied is an objective one. In accordance with this objective test the criterion is what meaning the reasonable reader of ordinary intelligence would attribute to the statement. In applying this test it is accepted that the reasonable reader would understand the statement in its context and that he or she would have had regard not only to what is expressly stated but also to what is implied”
[85] Ten opsigte van die tweede deel van die ondersoek, naamlik of die woorde lasterlik is het die Konstitusionele Hof te para [91] beslis dat:
“At the second stage, that is whether the meaning established is defamatory, our courts accept that a statement is defamatory of a plaintiff if it is likely to injure the good esteem in which he or she is held by the reasonable or average person to whom it has been published.”
[86] Die Konstitusionnele Hof het ook te para [91] (c) voorbeelde van woorde wat per se lasterlik is bevestig, soos voorheen deur ons howe bevind is:
“Examples of defamatory statements that normally spring to mind are those attributing to the plaintiff that he or she has been guilty of dishonest, immoral or otherwise dishonourable conduct. It also includes statements which are likely to humiliate or belittle the plaintiff; which tend to make him or her look foolish, ridiculous or absurd; and which expose the plaintiff to contempt or ridicule that renders the plaintiff less worthy of respect by his or her peers. […]”
BESPREKING
[87] By die toepassing van die regsbeginsels soos hierbo uiteengesit is ek tevrede dat die eiser bewys het dat die lasterlike bewerings wat betrekking het op hom deur die verweerder gepubliseer is. Na my mening is die woorde soos vervat in die gewraakte e-posse waarop die eiser steun per se lasterlik; en kan dit nie ontken word nie. Ek is tevrede dat wanneer die woorde op hul eie en in die konteks van die inhoud van die e-posse en die gebeure wat dit vooraf gegaan het, beskou word is dit duidelik dat die eiser van die ergste oneerlike gedrag en kriminele dade beskuldig word.
[88] In die e-posse beskryf die verweerder die eiser as oneerlik en beskuldig hy die eiser van onder andere, diefstal, bedrog, verduisteing van inkomste, plundering van sy vader se boedel, belasting ontduiking, misbruik van BTW en oortredings van die relevante wetgewing en onbehoorlike verkryging van finansieële gewin vir homself.
[89] Volgens die bestaande regsbeginsels en die uitsprake van die Konstitusionele Hof is dit duidelik dat die verweerder die volle bewyslas dra om feite en omstandighede in sy getuienis aan te bied om die onafwendbare gevolg van die aanspreeklikheid weens laster vry te spring.
[90] Dit is gemeensaak dat verweerder beide die dienste van ‘n ervare prokureur sowel as ‘n advokaat gehad het toe sy pleit opgestel is. Volgens sy eie getuienis was hy nou betrokke met die opstel en voorbereiding van sy pleit en het hyself aktief bygedra en insette gegee in die verband. Hy het ook getuig dat hy tevrede was met die inhoud van sy pleit voordat dit geliaseer is.
[91] Indien daar na verweerder se pleit gekyk word dan is dit onmiddelik waarneembaar dat hy in sy pleit geen verweer opper ten opsigte van enige van die elemente van die actio iniuriarum nie. Behalwe om te ontken dat die bewerings wat in die e-posse vervat is lasterlik is en dat die persone aan wie hy die e-posse aangestuur het, soos na verwys in die dagvaardiging, dit ontvang het, opper hy geen verweer nie. So ontken verweerder dan ook in paragraaf 7 van sy pleit dat hy die bewerings in “NGV1” gemaak het met die doel om die eiser te belaster en dat die bewerings lasterlik is. In paragraaf 16 van die pleit ontken verweerder ook dat hy enige bewerings met betrekking tot die eiser gemaak het met die doel om die eiser te belaster.
[92] Soos hierbo aangetoon, het die verweerder in sy getuienis toegegee dat die persone wie in die e-posse genoem word, wel die e-posse ontvang het en dat die publikasie daarvan wel geskied het. Ons reg is duidelik, dat die blote ontkenning deur ‘n verweerder dat die bewerings lasterlik is, nie voldoende is, vir ‘n verweerder om die bewyslas te kwyt nie. Soos gemeld is die woorde in die e-posse soos vervat in die besonderhede van vordering, en die effek daarvan per se lasterlik en rus die bewyslas gevolglik op die verweerder om te bewys dat publikasie daarvan nie onregmatig was nie en dat hy nie die opset gehad het om die eiser te belaster nie.
[93] In sy getuienis het verweerder verduidelik dat die rede waarom hy die e-posse aangestuur het was omdat hy gefrustreerd was met die wyse waarop die boedel(s) van sy ouer(s) beredder is en dat wat in die e-posse vervat is eintlik aan Finlac Trust, en nie die eiser in persoon, gerig is nie. Hy het verder getuig dat na sy mening eiser en of Finlac Trust teenstrydig met die Licences Act No. 44 of 1962 (“Licences Act”) opgetree het en het hy ook dit as ‘n regverdigingsgrond probeer gee vir die bewerings wat hy gemaak het.
[94] Hy het egter toegegee dat oor die jare daar verskeie geleenthede vir hom was om die eksekuteurs uit hulle posisie te laat verwyder indien hy nie tevrede was met hulle werkswyse nie. Hy kon egter nie ‘n bevredigende verduideliking gee waarom hy die situasie waaroor hy so ontevrede was laat voortgaan het nie. Ek noem dit omdat, alhoewel die verweerder nie ‘n regsgeleerde is nie, dit duidelik is dat hy presies geweet het wat sy regte was en veral omdat hy op ‘n vroeë stadium en deurentyd toegang gehad het, en geadviseer is deur senior regslui. Dit is ook insiggewend dat nêrens in die verweerder se pleit daar melding gemaak word van die feit dat die uitlatings wat hy in die e-posse gemaak het, was as gevolg van die wyse waarop sy ouer(s) se boedel(s) beredder is deur Finlac Trust nie en of dat die inhoud van die e-posse aan Finlac gerig is. Dit staan verder vas dat die Hoofmeester en beamptes in daardie kantoor tevrede was met die wyse waarop die boedel(s) beredder is. Dit is nie onredelik om te bevind dat beide verweerder en sy broer Ian tot ‘n groot mate deur hulle onderskeie optredes die afhandeling van die boedels vertraag het.
[95] Ek noem ook hier dat verweerder vaag en ontwykend was toe hy gevra word om te verduidelik waarom al die bewerings in die e-posse veral gemik is na eiser, veral omdat dit heel duidelik was uit ‘n vroeë stadium dat Danielz, en nie die eiser, die eksekuteur van die boedel was.
[96] Wat die kwessie oor die Licences Act betref is dit gemeensaak dat die aspek nooit deur die verweerder gepleit is nie. Verweerder het dit ook nooit voor die verhoor in aanvang geneem nie, of aansoek gedoen dat sy pleit gewysig moet word, om dit in te sluit nie. Op sy eie weergawe het die verweerder die kwessie van die Licences Act op ‘n baie laat stadium geopper nadat hy lank reeds die lasterlike bewerings teen die eiser gemaak het. Ek is tevrede dat op die stadium waar die verweerder die lasterlike bewerings gemaak het, die kwessie van die Licence Act glad nie by hom opgekom het nie en dus nie ter sprake was nie.
[97] In elk geval, sou dit wees dat Finlac Trust en of enige ander maatskappy wat by die boedel bereddering betrokke was, teenstrydig met die Licences Act opgetree het, dan sou dit betrekking op het Finlac Trust en of die maatskappy, en nie die eiser in persoon nie. Ek meld in die verband dat die Meesterskantoor in elk geval lank reeds die verweerder in kennis gestel het dat Finlac Trust inderdaad boedels kan beredder. Indien verweerder inderdaad so ‘n groot probleem gehad het met die feit dat Finlac Trust teenstrydig met die Licences Act optree, is daar niks wat verhoed het dat hy die hof kon nader vir ‘n verklarende bevel in die verband nie. Na my mening is verweerder se verwysing na die Licences Act ‘n wanhopige poging aan sy kant, om soos daar tereg deur Mnr Marais betoog is, ‘n verweer te probeer saamflans in omstandighede waar daar geen verweer bestaan nie.
[98] Indien na die inhoud van die verweerder se e-posse gekyk word, dan kan ek nie anders as om my te vereenselwig met die persoonlike opmerkings van Olivier R oor verweerder nie. In die onderhawige saak net soos in die aansoek voor Olivier R, is die inhoud van verweerder se e-posse ook gekenmerk deur vernyn, beledigings en ernstige beskuldigings. Ek sou verder gaan deur te sê dat daar tekens van onverskilligheid en of roekeloosheid teenwoordig is in die manier waarop verweerder die e-posse geskryf het.
[99] Op ‘n konspektus van die getuienis is ek tevrede dat die verweerder geen getuienis aangebied het om te bewys dat die publikasie nie onregmatig was nie, of dat hy nie die opset gehad het om die eiser te belaster nie. In die geheel gesien, en in aggenome die agtergrond, geskiedenis en meer in besonder die verweerder se gedrag, is dit duidelik dat die verweerder beide die opset gehad het om die eiser te belaster en dat daar geen regverdigingsgronde vir die publikasie is nie.
[100] Ek is gevolglik tevrede dat op sy eie weergawe daar geen sprake kan wees dat enige van die skulduitsluitingsgronde, wat opset sou uitskakel, teenwoordig is nie.
[101] Die getuienis dui oorweldigend daarop dat die verweerder die bedoeling gehad het om die eiser se goeie naam en reputasie by die instansies en persone na wie hy die e-posse aangestuur het, aan te tas.
[102] Bygevolg, bevind ek dat daar geen regverdigingsgronde bestaan vir die verweerder se onregmatige optrede teenoor die eiser nie. Ek bevind verder dat die publikasie van die e-posse nie beskerm word deur enige priviligie nie, en dat die bewerings wat verweerder oor die eiser daarin maak nie waar is nie, nie in die openbare belang is nie, en dat dit nie neerkom op billike kommentaar nie.
[103] In al die omstandighede is ek tevrede dat by die toepassing van die geldende regsbeginsels soos hierbo uiteengesit dat die eiser inderdaad skade gely het as gevolg van die optrede van die verweerder.
SKADEVERGOEDING
[104] Dit is geykte reg dat met die actio iniuriarium word genoegdoening vir persoonlikheidsbenadeling geëis. In ‘n aksie om genoegdoening op grond van die iniuria laster moet die hof ex aequo et bona ‘n bedrag geld aan die suksesvolle eiser toestaan. Die omvang van die genoegdoening kan natuurlik nie, soos in ander gevalle van skadevergoeding, met presiesheid bereken word nie. Sien Van der Merwe supra bl. 418.
[105] In Media 24 Ltd and Others v SA Taxi Securitisation (Pty) Ltd (Avusa Media Ltd and Others as Amici Curiae) 2011 (5) SA 329 (HHA) op bl. 341 te para [36] bevind Brand AR dat:
“Our action for defamation derives from the actio iniuriarium, which in Roman and Roman-Dutch law was confined to the protection of personality rights. It provided a solatium for wounded feelings and was not available for the recovery of patrimonial damages.”
Brand AR bevind verder te para [38] dat: “It will be no defence for the defendant to show that the statement did not in fact cause the plaintiff any personal distress.” En te para [40.3] dat: “Apart from not having to show any general damages, the defamation action affords the plaintiff several advantages. All that he, she or it has to prove is publication of a defamatory statement. This gives rise to rebuttable presumptions of both wrongfulness and iniuriandi.”
[106] Dit word nou algemeen aanvaar dat die bepaling van die omvang van algemene skade in ‘n laster aksie uitsluitlik binne die diskresie van die verhoorregter val. In die verband verklaar Nugent AR as volg in Tsedu and Others v Lekota and Another 2009 (4) SA 372 (SCA) te para [25]:
“Monetary compensation for harm of this nature is not capable of being determined by any empirical measure. Awards made in other cases might provide a measure of guidance but only in a generalised form and I do not think it would be helpful to recite other awards.”
[107] Wat die omvang of quantum van die skadevergoeding aanbetref is die faktore wat hierdie aspek kan beinvloed wyd uitlopend. Ons howe let op beide versagtende en verswarende faktore.
[108] In die algemeen stel ‘n onbehoorlike motief of “malice” aan die kant van die verweerder, soos in die geval waar hy bewus was van die onwaarheid van sy lasterlike bewerings, verswarende omstandigheid daar. Sien Pont v Geyser en ‘n Ander 1968 (2) SA 545 (A) op 554H. Ander verswarende faktore is die besondere krasheid of beledigende aard van die laster. Sien SA Associated Newspapers Ltd en ‘n Ander v Samuels 1980 (1) SA 24 (A) op 42 – 43. Neethling sê verder dat: “Roekelose of onverantwoordelike gedrag aan die kant van die verweerder, die omvangryke verspreiding van die publikasie, die posisie en aansien van die eiser, die feite dat die lasterlike bewerings herhaal is, die krenkende of benadelende gevolge van die laster en die volharding in ontkenning van aanspreeklikheid word ook as verswarend bestempel.” Sien ook Buthelezi v Poorter and Others 1975 (4) SA 608 (W) te 615-616; Moolman v Slovo 1964 (1) SA 760 (W) te 762-763; Smith v Die Republiekein (EDMS) Bpk en ‘n Ander 1989 (3) SA 872 (SWA) te 879.
[109] Ek is tevrede dat die verweerder in hierdie saak homself skuldig gemaak het aan ‘n erge graad van laster en dat hy dit met uiterste vernyn en kwaadwilligheid gepleeg het.
[110] Die getuienis dui daarop dat hy oor ‘n lang periode van tyd aanhoudend en met toenemende krasheid die verweerder belaster het. Daar kan geen sprake wees van enige versagtende faktore nie. Feite en omstandighede wat aanduidend is van die afwesigheid van versagtende omstandighed is onder andere dat, hy telkens geweier het om die laster terug te trek en verskoning aan te bied; hy het volgehou met sy onwettige optrede selfs na prokureurs briewe aan hom gerig is; en sy volgehoue optrede het die eiser geen keuse gelaat as om ‘n aksie teen hom in te stel nie. Dit is ook so dat na die instel van die aksie die verweerder sy aanvalle met feller vernyn voortgesit het en die eiser gedwing het om ‘n aansoek om ‘n interdik te loods. Verweerder het die aansoek teengestaan en die ooglopende onregmatigheid sonder enige basis probeer ontken.
[111] Selfs na ‘n bevel van hierdie hof teen hom uitgereik is, het verweerder met totale minagting die hofbevel meermalle oortree met nog meer lasterlike aanvalle op die eiser.
[112] Ten spyte van die twee geleenthede tydens die verhoor, voor enige getuienis aangebied is, en later, voor verweerder met sy saak begin het, toe die verweerder ‘n kans gegun is om die saak te skik, het die verweerder hardkoppig en beslis geweier om pogings aan te gaan om die saak, op uitnodiging van die eiser, te probeer skik. Dit is nie onredelik om te bevind dat sy reaksie op rekord aanduidend is van wat deur Mnr Marais bedryf is as sy “onbeteulde roekeloosheid” om die aksie te verdedig en sy verantwoordelikheid te probeer ontduik.
[113] Gedurende die verhoor, en in sy kruisondervraging van die eiser en in sy eie getuienis, het die verweerder nie gehuiwer om die waarheid te verdraai en om die hof te probeer mislei nie. Aanduidings van sy roekelose optrede en ongegronde stellings wat verweerder maak word uitgebeeld gedurende die verhoor toe hy verskeie ander persone behalwe die eiser, insluitende die regslui (oa eiser se prokureur en advokaat) belaster.
[114] In die omstandighede is dit nie onredelik om te bevind dat die verweerder absoluut geen berou toon vir sy onregmatige optrede nie. Die verweerder was vasberade om voort te gaan met sy ontwettige gedrag en was dit duidelik dat hy geen respek het vir die grondwetlike regte van die eiser en andere nie.
[115] Mnr Marais het betoog dat weens die verswarende faktore, hierdie Hof die eis moet toestaan en die skadevergoedings bedrag moet vasstel soos geeis is in die besonderhede van vordering.
[116] Wat koste betref het Mnr Marais betoog dat die gedrag van die verweerder - voor, tydens en na die uitreik van die dagvaarding - daarop dui dat ‘n bestraffende kostebevel geregverdig is. Hy het verder betoog dat die verweerder nie net voortdurend smalend en beledigend was nie, maar hy ook deurgaans kwaadwillig en vernynig was, en dat sy gedrag in die hof en in die getuie bank totaal minagtend van aard was.
[117] Met verwysing na A C Cillier, Law of Costs 2de uitg. bl. 54-57 waar die skrywer verklaar dat: “A court awards attorney and client costs where a litigant’s conduct has been unworthy, reprehensible or blameworthy, or where his conduct has been actuated by malice or he has been guilty of grave misconduct in the transaction and / or in the conduct of his case”, het Mnr Marais betoog dat verweerder eenvoudig tyd gemors het en die hofproses misbruik het. Hy het in die omstandighede versoek dat die hof die eise van die eiser toe staan met ‘n bevel dat die kostes betaal moet word op die skaal soos tussen prokureur en eie kliënt.
[118] Vir die redes soos hierbo uiteengesit is ek tevrede dat die laster in die saak uiters ernstig is en derhalwe is ek van mening dat dit ‘n substansieële bedrag skadevergoeding regverdig. In die lig van al die omstandighede en gebaseer op die suiwere regsbeginsels soos hierbo uiteengesit bevind ek dat die bedrag van R250 000,00 op elke afsonderlike eis gepas is en geregtigheid sal laat geskied in die saak.
[119] Alhoewel ‘n bestraffende koste bevel nie onvanpas sou wees in die saak nie, het ek nietemin besluit om my diskresie in die verweerder se guns uit te oefen en het ek daarteen besluit.
[120] ‘n Verdere aspek waaraan aandag geskenk moet word is die feit dat volgens die bevel van Salie-Samuels WNR (toe sy toe was), wat hierbo na verwys is, het die koste van die aansoek onder saak nommer 17249/14 (die interdik aansoek) oor gestaan vir beregting by die aksie van hierdie saak. In die lig van my bevindings in die saak oor die verweerder se optrede, en omdat dit duidelik is dat verweerder die eiser inderdaad geforseer het om die dringende interdik teen verweerder te bring, is ek tevrede dat dit billik en regverdig is om te gelas dat verweerder aanspreeklik moet wees vir die koste onder saak nommer 17249/14.
[121] Gevolglik maak ek die volgende bevel:
1. Die eiser slaag in sy eise op beide eis 1 en eis 2;
2. Die verweerder word beveel om die eiser die bedrag van R250 000,00 te betaal ten opsigte van die eerste eis met 15.5% rente per jaar daarop a tempore morae;
3. Die verweerder word beveel om die eiser die bedrag van R250 000,00 te betaal ten opsigte van die tweede eis met 15.5% rente per jaar daarop a tempore morae;
4. Die verweerder word beveel om die koste van die geding te betaal;
5. Die verweerder word beveel om die koste van die aansoek onder saak nommer 17249/14 te betaal.
RILEY, WnR