South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: North Gauteng High Court, Pretoria >>
2014 >>
[2014] ZAGPPHC 922
| Noteup
| LawCite
C.M v C.J.M (40853/2013) [2014] ZAGPPHC 922 (23 October 2014)
Download original files |
SAFLII Note: Certain personal/private details of parties or witnesses have been redacted from this document in compliance with the law and SAFLII Policy |
IN DIE HOë HOF VAN SUID-AFRIKA
(GAUTENG AFDELING, PRETORIA)
SAAK NO: 40853/2013
DATUM: 23/10/2014
IN DIE SAAK TUSSEN:
C[…] M[…]................................................................................................................................EISERES
EN
C[…] J[…] M[…]..........................................................................................................VERWEERDER
UITSPRAAK
TOLMAY, R:
[1] Die eiseres en verweerder is getroud binne gemeenskap van goed op 26 April 2002. Daar is geen kinders uit die huwelik gebore nie. Die partye is dit eens dat die huwelik onherstelbaar verbrokkel het. Die enigste geskilpunt is dat die eiseres vra vir verdeling van die gemeenskaplike boedel en dat die verweerder vra dat eiseres enige voordeel uit die gemeenskaplike boedel moet verbeur. Daar is by die aanvang van die verhoor aangedui dat eiseres net sal vra vir rehabiliterende onderhoud indien die Hof nie ‘n verdeling sou gelas nie. Ek moet onmiddelik sê dat ten spyte van hierdie aanduiding eiseres geen getuienis aangebied het ten aansien hiervan nie en gevolglik het sy nie bewys dat sy in geval dat ‘n verbeurdverklaringsbevel toegestaan word geregtig is op rehabiliterede onderhoud nie.By die aanvang van die verhoor is ook deur eiseres se advokaat op rekord geplaas dat verweerder nog nie ‘n versoek om nadere besonderhede wat klaarblyklik met die aard en omvang van die boedel handel geantwoord het nie, daar is ‘n bestrede aansoek ten aansien van hierdie aspek ter rolle geplaas ten spyte hiervan het eiseres besluit om voort te gaan. Die rede hiervoor is dat eiseres van mening is dat aangesien verweerder die bewyslas dra om ‘n onbehoorlike voordeel te bewys, daar geen benadeling vir eiseres kan wees indien saak aangaan nie. Verweerder wou ook voortgaan met die verhoor ten spyte van die ooglopende risiko vir hom.
[2] Aangesien die partye dit eens was dat verweerder die bewyslas dra het hulle ooreengekom dat verweerder ook die beginlas dra. Alvorens ek met die getuienis handel, handel ek eers met wat die verweerder moet bewys alvorens hy kan slaag met sy eis om verbeurdverklaring van die vermoënsregtelike voordele van die huwelik binne gemeenskap van goed.
[3] Artikel 9(1) van die Egskeidingswet 70 van 1979 wat voorsiening vir ‘n verbeuringsbevel maak lees soos volg:
“Wanneer ‘n egskeidingsbevel op grond van die onherstelbare verbrokkeling van ‘n huwelik verleen word, kan die Hof ‘n bevel gee dat die vermoënsregtelike voordele van die huwelik in die geheel of gedeeltelik deur die een party ten gunste van die ander verbeur kan word, indien die Hof, met inagneming van die duur van die huwelik, die omstandighede wat tot die verbrokkeling daarvan aanleiding gegee het en enige wensenlike wangedrag aan die kant van enigeen van die partye, oortuig is dat, as die verbeuringsbevel nie gegee word nie, die een party met betrekking tot die ander onbehoorlik bevoordeel sal word.”
[4] Uit voormelde is dit duidelik dat drietal faktore in aggeneem moet word, naamlik die duur van die huwelik, die omstandighede wat tot die verbrokkeling gely het en wesenlike wangedrag.
[5] Wanneer persone ‘n huwelik binne gemeenskap van goed sluit het dit sekere regsgevolge waarvan die belangrikste is dat hulle gelyk gaan deel in die boedel by ontbinding ongeag wat hulle onderskeie bydraes tot die boedel mag wees. In Engelbrecht v Engelbrecht 1989(1) SA 597 KPA word op 601 F- H die volgende gesê:
“Die Hof se uitgangspunt moet wees dat partye aan hulle voorhuwelikse afsprake gebonde gehou moet word. Toe die appellante en respondent in die huwelik getree het, was dit op die grondslag dat hulle uitdruklik of stilswyende ooreenkom dat elkeen mede-eienaar van die ander se goed word. Mede- eienaarskap van die ander gade se goed is ‘n reg wat elk van die egliede by die huweliksluiting verwerf. Tensy die partye (hetsy voor of tydens die huwelik) presies gelyke bydraes tot die boedel gemaak het, sal die een wat minder bygedra het by ontbinding van die huwelik bo die ander bevoordeel word as verbeuring nie beveel word nie. Dit is ‘n onafwendbare gevolg van die partye se huweliksgoederegbedeling. Die Wetgewer gee dan ook nie aan die groter bydraer die geleentheid om hom hieroor te bekla nie. Hy kan hom slegs oor onbehoorike bevoordeling bekla. Tensy bewys word – en dit is myns insien duidelik dat die bewyslas rus op die gade wat die verbeuringsbevel aanvra – wat die aard en omvang van die bevoordeling was, kan ‘n Hof nie beslis of die bevoordeling onbehoorlik was of nie. Eers as die aard en omvang van die bevoordeling bewys is, word dit nodig om te kyk na die faktore wat by beoordeling van die onbehoorlikheid daarvan in aanmerking geneem moet word.” (eie onderstreping)
Sien ook JW v SWW 2011(1) SA 545 (NGHH).
[6] Dit is dus belangrik om in ag te neem dat partye as ‘n algemene beginsel aan hulle voorhuwelikse afsprake gebonde gehou moet word en dit is verder voor die hand liggend dat ‘n huwelik binne gemeenskap van goed sekere gevolge het wat op die oog af, veral wanneer die huweliksboot sink, nie billik mag voorkom vir die party wat die groter bydrae tot die boedel gemaak het nie. Dit is egter nie ‘n grond vir verbeuring nie. Die party wat beweer dat daar ‘n onbehoorlike voordeel is moet dit bewys. Die blote feit dat ‘n party gaan deel in ‘n boedel waartoe hy/sy nie bygedra het nie of nie in gelyke mate bygedra het nie stel nie ‘n onbehoorlike voordeel in ‘n juridiese sin daar nie. Wat onbehoorlik is sal dus in elk geval in die lig van al die getuienis bepaal moet word. Belangrik is dat die aard en omvang van die bevoordeling bewys moet word, indien dit nie gedoen word nie kan ‘n verbeuringsbevel nie toegestaan word nie.
[7] ‘n Hof het ‘n diskresie om ‘n verbeuringsbevel toe te staan. By die vraag of die diskresie ten gunste van ‘n verbeurdverklaringsbevel uitgeoefen moet word is die prinsipiële oorweging of daar ‘n onbehoorlike bevoordeling van die een party sal wees indien dit nie gedoen word nie. In Klerck v Klerck 1991(1) SA 265 stel Kriegler R soos hy toe was op 267 G – 268 A dit soos volg:
“By ontleding val die volgende op ten aansien van die pas aangehaalde Wetsartikel. Ten eerste, word daar aan die Hof wat 'n egskeidingsbevel op grond van onherstelbare verbrokkeling van 'n huwelik verleen, 'n diskresie vergun. Daardie diskresie word aangedui deur die gebruik van die woord 'kan' in die tweede sinsnede, naamlik dat 'n Hof 'n bevel vir geheel- of gedeeltelike vermoënsregtelike verbeuring kan gelas. By die oorweging van die vraag of daardie diskresie uitgeoefen moet word, is daar een prinsipiële oorweging wat ek die primêre vraag noem. Dit is of daar onbehoorlike bevoordeling van die een party bo die ander sal wees as 'n verbeuringsbevel nie gemaak word nie.
Die twee woorde 'onbehoorlik' en 'bevoordeel' dui op 'n kwalitatiewe oordeel wat gevel moet word. Daardie oordeel is 'n voorvereiste tot enige uitoefening van die diskresie. Anders gestel, dit is slegs as daar onbehoorlike bevoordeling sal wees by onstentenis van 'n verbeuringsbevel dat so 'n bevel gemaak kan word. (Dit volg nie noodwendig dat so 'n bevel dan gemaak sal word nie.)
[8] Saam met die duur van die huwelik en die gronde wat aanleiding gegee het tot die verbrokkeling van die huwelik is wesenlike wangedrag een van die aspekte wat ‘n rol mag speel wanneer die Hof ‘n waarde oordeel fel of ‘n verbeurdverklaringsbevel gepas is. Wesenlike wangedrag is egter nie ‘n voorvereiste vir ‘n verbeuringsbeveI nie. In Klerck supra, 268 A tot 269 A, stel Kriegler R, dit soos volg:
“In betoog voor my het mnr Kruger namens die eiseres aangevoer dat wesenlike wangedrag 'n voorvereiste is vir die uitoefening van die betrokke diskresie. Hy het inderdaad betoog dat al drie die genoemde faktore voorvereistes is. In die samehang van hierdie saak betoog hy dan dat daar by ontstentenis van getuienis van wesenlike wangedrag aan die kant van die eiseres geen verbeuringsbevel hoegenaamd gemaak kan word nie.
Ek stem nie met die geleerde advokaat saam oor sy uitleg van die betrokke Wetsartikel nie. Die redes vir my siening stip ek kortliks aan: In die eerste instansie het art 9 nie uit die niet ontstaan nie. Dit moet geïnterpreteer word teen 'n bepaalde en bekende gemeenregtelike agtergrond. Voor die inwerkingstelling van bedoelde Wetsartikel het daar ten aansien van verbeuring van huweliksvoordele 'n alles-of-niks regime gegeld. Dit het gegeld met betrekking tot skenkings in 'n huweliksvoorwaardekontrak of voordele uit 'n huwelik in gemeenskap van goedere.
As die Hof bevind het dat daar skuld was, dit is skuld vir die egskeiding aan die kant van die bevoordeelde, dan het 'n bevel vir algehele verbeuring ingetree. Die oogmerk met Wet 70 van 1979, soos gewysig deur Wet 88 van 1984, was ondubbelsinnig om regshervorming en ingrypende regstelling teweeg te bring. Daar was toestande, maatskaplike en huwelikstoestande, wat die Wetgewer as misstande beskou het. Dit was dan duidelik die oogmerk van die Wetgewer om met, onder andere, bedoelde artikel in te gryp.
Dit het die Wetgewer bewerkstellig op verskeie maniere. Onder andere is daar weggedoen met die skuldfaktor by egskeiding. Terselfdertyd, en as logiese meeloper van laasgenoemde, is daar 'n regime geskep vir 'n billike beregting van die egliede se vermoënsregtelike aansprake. Artikel 7 beoog so 'n herrangskikking van die vermoëns van die partye. So ook art 9.
Vervolgens blyk dit uit die woordkeuse wat die Wetgewer hom laat welgeval het met die daarstelling van art 9 dat die faktore aan die hand waarvan die besluit geneem moet word, wydlopend en vaag omlyn is. Daar word byvoorbeeld gebruik gemaak van die woord 'inagnemend' sonder om enige spesifieke opdrag te gee oor relatiewe belang of voorkeur van die verskillende faktore. Ook word daar in die tweede faktor breedweg gepraat van 'die omstandighede wat tot die verbrokkeling daarvan aanleiding gegee het'. Dit is nie toevallig dat die Wetgewer daardie woorde so gebruik nie. Daar mag omstandighede wees wat nie aan enigeen van die twee partye te wyte is nie. Daar mag omstandighede wees wat vanweë 'n volslae toeval of die ingreep van die noodlot die huwelik beëindig het.
Ten derde word daar gepraat van 'enige wesenlike wangedrag'. Wat wangedrag is, wat wesenlik is, sê die Wetgewer nie uitdruklik nie. Daar word deur daardie breë woordkeuse ingeskerp dat daar 'n oorwoë, omvattende waarde-oordeel gevel moet word”.
[9] Wesenlike wangedrag, is dus as sulks nie ‘n voorvereiste vir ‘n verbeuringsbevel nie. Sien ook Wijker v Wijker 1993(4) SA 720 AD.
[10] In casu het die verweerder beweer dat hy en eiseres ooreengekom het, nadat haar verhouding met ‘n ene Mnr N[…] aan die lig gekom het, dat hy haar vir 5 jaar, (dit wou wees tot sy haar studies voltooi het), finansieel sou onderhou en nadat die vyf jaar verby is sou die boedel verdeel geag gewees het en elke party sou behou wat hy en/of sy op daardie stadium in hulle besit gehad het as hulle onderskeie eiendom.
[11] Daar moet terstond genoem word dat die terme van die ooreenkoms nie gepleit is nie. Op die pleitstukke word die bewering bloot gemaak dat die gemeenskaplike boedel de facto reeds verdeel is en dat eiseres reeds meer as 50% daarvan gekry het, dit voorveronderstel ‘n ooreenkoms, wat gepleit moes gewees het in terme van rëel 18(6) van die Eenvormige Hof Rëels. Die tekortkominge in die pleitstuk is reeds by die aanvang van die verhoor aan verweerder se regsverteenwoordiger uitgewys en het eiseres se regsverteenwoordiger aangedui dat beswaar gemaak sal word ten aansien van enige getuienis in die verband. Tog het geen wysiging gevolg nie. Dit is geykte reg dat ‘n party gebonde is aan sy pleitstukke. In Jowell v Branwell- Jones & Others 1998(1) SA 836 at 898 f – j word dit soos volg gestel:
“As the parties are adversaries, it is left to each of them to formulate his case in his own way, subject to the basic rules of pleadings … For the sake of certainty and finality, each party is bound by his own pleading and cannot be allowed to raise a different or fresh case without due amendment properly made. Each party thus knows the case he has to meet and cannot be taken by surprise at the trial. The Court itself is as much bound by the pleadings of the parties as they are themselves. It is no part of the duty or function of the Court to enter upon any enquiry into the case before it other than to adjudicate upon the specific matters in dispute which the parties themselves have raised by their pleadings. Indeed, the Court would be acting contrary to its own character and nature if it were to pronounce upon any claim or defence not made by the parties. To do so would be to enter the realms of speculation … Moreover, in such event, the parties themselves, or at any rate one of them, might well feel aggrieved; for a decision given on a claim or defence not made, or raised by or against a party is equivalent to not hearing him at all and may thus be a denial of justice. The Court does not provide its own terms of reference or conduct its own inquiry into the merits of the case but accepts and acts upon the terms of reference which the parties have chosen and specified in their pleadings. In the adversary system of litigation, therefore, it is the parties themselves who set the agenda for the trial by their pleadings and neither party can complain if the agenda is strictly adhered to. In such an agenda, there is no room for an item called “any other business” in the sense that points other than those specified in the pleadings may be raised without notice.” (eie onderstreping)
[12] Na my mening kan die verweerder nie, sonder ‘n wysiging van sy pleitstukke op ‘n ooreenkoms wat verdeling op ‘n gegewe stadium beweer steun nie. Die bestaan van ‘n ooreenkoms is in ieder geval nie ‘n grond vir ‘n verbeuring nie. Die verweerder se eis om verbeuring kan op hierdie grond alleen van die hand gewys word. Volledigheidshalwe en indien ek verkeerd sou wees op hierdie punt handel ek ook met die ander aspekte in die saak.
[13] Verweerder het hoofsaaklik getuienis ten aansien van wesenlike wangedrag gelei. Volgens die verweerder het eiseres gedurende Mei 2007 ‘n verhouding met ‘n ene D[…] N[…] aangeknoop en op ‘n uiters onsensitiewe manier met Mnr N[…] verkeer in die gemeenskaplike woning, terwyl hy verdryf is na die gastekamer. Die beeld wat hy probeer skep het is van ‘n onbaatsugtige slagoffer van ‘n owerspelige en hardvogtige vrou wat hom deur haar optrede seergemaak en geskok het. Soos dit maar gaan in egskeidings het eiseres ‘n heel ander storie, sy getuig van ‘n per abuis oproep gedurende April 2007 na haar van die verweerder se selfoon, waar sy, toe sy die foon antwoord, gehoor het hoe hy seksuele omgang het met iemand. Haar vriendin, Me M[…], wat by was ten tye van die oproep en dit gehoor het, het ook oor die oproep kom getuig. Volgens eiseres het hierdie optrede van verweerder gely tot die finale huwelsverbrokkeling en met tyd tot haar verhouding met Mnr N[…]. Uit die aard van die saak werp haar getuienis ‘n totale ander lig op die omstandighede wat gelei het tot die huweliksverbrokkeling.
[14] Uit e-posse wil dit voorkom asof die verweerder gedurende die tyd wat die partye afsonderlik gewoon het, gepoog het om die huweliksverhouding te herstel en saam ‘n toekoms vir hulle beoog het. Sy ontkenning van hierdie afleiding tydens getuienis was duidelik nie ‘n ware weergawe van die feite nie. Na my mening is sy optrede versoenbaar met iemand wat skuldig gevoel het en wat sy eggenoot probeer terugwen het deur haar onder andere finansieel te ondersteun.Die verweerder het deurentyd getuig dat hy nie kwaad was vir die eiseres nie en sy gedrag, en die e-posse bevestig dit. Indien sy so uiters onsensitief opgetree het, soos wat hy beweer het, sou hy op die waarskynlikhede haar nie so geredelik finansieel bygestaan het nie. Die getuienis van die eiseres is dus op die waarskynlikhede meer moontlik as die weergawe van die verweerder. Die getuienis van die verweerder se huidige vriendin Me E[…] B[…] wat klaarblyklik gepoog het om eiseres se wangedrag te bewys was ietwat verassend. Sy getuig oor hoe die eiseres hulle belaster en gedreig het soveel so dat verweerder ‘n beskermingsbevel bekom het en sy self verskeie regsaksies teen eiseres oorweeg het. Die verweerder self het nie ‘n woord daaroor gesê nie.
[15] Die verweerder het nog ‘n getuie geroep ten aansien van eiseres se beweerde wangedrag, naamlik L[…] v[…] L[…] met wie hy ‘n verhouding gehad het min of meer dieselfde tyd as wat eiseres ‘n verhouding met D[…] N[…] gehad. Sy was die dame met wie die eiseres vermoed het verweerder omgang gehad het in April 2007 tydens die insident met die selfoon. Me V[…] L[…] ontken dit en sê hulle verhouding het later ontstaan. Sy het eers ‘n e-pos aan eiseres gestuur waarin sy verweerder swart gesmeer het en toe op 3 Oktober 2014, nadat sy op haar weergawe deur haar gewete aangeval is alles teruggetrek in ‘n opvolgende e-pos. Dit is klaarblyklik hierdie omswaai van haar lojaliteite wat verweerder laat besluit het om haar as ‘n getuie te roep. Sy beweer ook dat eiseres haar R50 000-00 aangebied het om te kom getuig. Me Van L[...] het op haar eie weergawe in die verlede nie geskroom om leuns te vertel. In die lig daarvan kan geen waarde aan haar getuienis geheg word nie en kan haar getuienis geen bydra lewer om verweerder se saak te versterk nie.
[16] Onder hierdie omstandighede het die verweerder na my mening nie geslaag om wesenlike wangedrag aan eiseres se kant te bewys nie, nog het hy geslaag om aan te toon dat die verbrokkelingsgronde ondersteunend tot ‘n verbeuringsbevel sou wees. Dit laat ons met die een enkele faktor, naamlik die duur van die huwelik. Die partye is op 26 April 2002 getroud, en in 2007 het eiseres uitgetrek. Gevolglik het die partye vir ongeveer 7 van die 12 jaar van hulle huwelik nie saam gewoon nie. Na my mening kan die duur van die huwelik alleen staande in die omstandighede van hierdie saak nie ‘n verbeuringsbevel regverdig nie. In ieder geval het die verweerder nie die aard en omvang van die beweerde onbehoorlike bevoordeling bewys nie, wat fataal vir sy saak is. Ek gaan voort om nou met hierdie aspek te handel.
[17] Weinig getuienis is aangebied deur verweerder ten aansien van die aard en omvang van sy bates. Nog het hy bewys wat die aard en omvang van die beweerde onbehoorlike bevoordeling was. Sy getuienis is beperk tot:
17.1 Dat die verweerder, tydends huweliksluiting, volkome onafhanklik, selfonderhoudende en gevestig was, oor aansienlike bates beskik het en ‘n vaste salaris vanR400 000.00 verdien het;
17.2 Dat eiseres 17 jaar jonger as die verweerder is en, tydens huwelik- sluiting, ‘n baie klein salaris verdien het, nie onafhanklik was nie en oor minimale bates beskik het;
17.3 Dat eiseres weining tot die gemeenskaplike boedel bygedra het, met uitsondering van ‘n bedrag van R800 000-00, wat sy van haar moeder geërf het en in ‘n vaste eiendom belê het;
17.4 Dat die eiseres vir ‘n tydperk van meer as 6 jaar na skeiding tussen haar en die verweerder, waartydens sy nie gewerk het of enige inkomste verdien het nie, op ‘n hoë lewensstandaard en teen koste van ongeveer R1 360 000-00 deur die verweerder onderhou is;
17.5 Dat eiseres, buiten die voormelde onderhoud, sedert skeiding tussen die partye, die volgende uit die gemeenskaplike boedel ontvang het:
17.5.1 ‘n kontant belegging van R1 030000-00 uit die opbrengs van ‘n onroerende eiendom wat in beide partye se name geregistreer was;
17.5.2 mede-eienaarskap in ‘n veredere twee onroerende eiendomme;
17.5.3 ‘n nuwe Audi A3 motorvoertuig; en
17.5.4 studiegelde vir BA en Honeursgrade.
[18] Hy het egter nie bewys wat die aard en omvang van die onbehoorlike bevoordeling is nie. Geen getuienis is aangebied oor wat presies die omvang en waarde van die boedel by huweliksluiting was nie. Nog het hy getuienis aangebied oor die bates wat deur hom verkry is gedurende die tydperk wat hulle nie saamgewoon het en wat die omvang van die boedel tans is nie. Geen getuienis oor die waarde van die bates is gepleit nie. In die lig daarvan het verweerder nie die aard en omvang van of die boedel of die onbehoorlike voordeel bewys nie.
[19] Daar moet in gedagte gehou word dat alles wat die verweerder sogenaamd aan eiseres oorgedra het steeds binne die gemeenskaplike boedel val wat verdeel staan te word en dus nie daartoe kan lei dat sy op hierdie stadium onbehoorlik bevoordel is op grond van die feit dat sy dit in haar besit het nie. Die totale gemeenskaplike boedel moet steeds verdeel word. Slegs die onderhoud, veral in die tyd wat hulle nie saamgewoon het nie, mag moontlik op ‘n voordeel dui. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die verweerder ‘n onderhoudsplig teenoor eiseres aanvaar het en na my mening kan hierdie onderhoudsbetalings nie ‘n onbehoorlike voordeel soos omskryf in die wet daarstel nie. Soos reeds vermeld het die verweerder nie aangetoon wat die presiese aard en omvang van die boedel was nie en in die afwesigheid van die getuienis het hy nie daarin geslaag om onbehoorlike voordeel te bewys nie. Gevolglik kan die verweerder nie slaag met sy eis om verbeurdverklaring nie.
[20] In repliek het die advokaat vir verweerder genoem dat die pensioenfonds van verweerder eintlik die probleem is. Geen getuienis van enige aard is egter gely oor hoe lank verweerder ‘n lid was, wat sy bydra was en waarom eiseres nie daarin behoort te deel nie. In die afwesigheid van hierdie getuienis kan die Hof nie sondermeer aflei dat daar onbehoorlike voordeel sal wees indien ‘n verbeurdverklaringsbevel ten aansien van die pensioenfonds toegestaan word nie.
[21] Die eiseres se pleitstukke vermeld slegs een pensioenfonds, naamlik Sentinel Mining Industry Retirement Fund, maar haar advokaat het in sy voorgestelde konsep ook Amplats Retirement Fund bygevoeg sonder dat hy gevra het vir ‘n wysiging en sonder dat enige getuiens in die verband aangebied is. Verweerder het beswaar gemaak teen die invoeging van die fonds. Sonder ‘n behoorlike wysiging van die pleitstukke of enige getuienis is ek nie bereid om hierdie fonds in te voeg nie en moet die eiseres maar haar remedies volg om die fonds te betrek indien verweerder wel ‘n lid en ‘n begunstigde van die fonds is.
[22] Die koste is ook hewig in dispuut. As gevolg van die feit dat verweerder se een getuie, Me V[…] L[…] nie by die hof was nie, moes die saak afstaan vir ‘n paar ure, dit het gely daartoe dat die saak oorgeloop het na ‘n volgende dag. Ek neem ook in ag dat eiseres wesenlik suksesvol was in haar eis. Ek neem verder in ag dat partye in ‘n huweliksgeding emosioneel blootgestel is en dat hulle beide in ‘n mindere of meerder mate bygedra het tot die huweliksverbrokkeling en die litigasie. Ek neem in die finale instansie ook in ag dat verweerder eiseres vir ‘n lang tyd onderhou het en die groter finansiële las gedra het.
[23] Gevolglik maak ek die volgende bevel:
23.1 ‘n Egskeidingsbevel word toegestaan;
23.2 Verdeling van die gemeenskaplike boedel word gelas;
23.3 Die eiseres sal soos volg deel in die verweerder se pensioenfonds by Sentinel Mining Industry Retirement Fund (Industry number P3286967)
23.3.1 Die eiseres is geregtig op 50% van die verweerder se netto pensioenvoordeel gereken op datum van uitspraak en betaalbaar aan die eiseres in terme van die Reel 37 D[1] van Wet 1956;
23.3.2 ‘n Endossement moet geregistreer word teen die genoemde pensioenfonds; en
23.4 Verweerder word gelas om 50% van die eiseres se getakseerde koste te betaal. Elke party word gelas om die restant van hulle koste self te betaal.
__________________
R G TOLMAY
REGTER VAN DIE HOë HOF