South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2009 >>
[2009] ZAWCHC 103
| Noteup
| LawCite
Lopser v S (A399/2008) [2009] ZAWCHC 103 (8 May 2009)
Download original files |
IN DIE HOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE HOF KAAPSTAD)
SaakNo: A 399/2008
In die appel tussen :
DIE STAAT
teen
IGSHAAN LOSPER
UITSPRAAK: 8 MEI 2009
MULLER Wrn R:
1 Die Appellant is, saam met 'n medebeskuldigde, ene Andrew Bester, op 14 November 2007 deur die landdros vir die distrik van Goodwood skuldig bevind op 'n aanklag van huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die saak is daarna na die streekhof verwys vir vonnis. Die Appellant is deur die streekhof op 15 Februarie 2008 gevonnis tot drie jaar gevangenisstraf. Weens sy indrukwekkende lys van vorige veroordelings is Bester tot gewoontemisdadiger verklaer. Beide beskuldigdes is ingevolge artikel 103 van die wet op beheer van vuurwapens 60/2000 onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit. Beide beskuldigdes was tydens die verhoor verteenwoordig deur Mej. Carriem, wat deur die regshulpraad aangestel is om hulle by te staan.
2. Slegs die Appellant kom nou 'n hoer beroep, en dan slegs teen sy skuldigbevinding, nadat verlof tot appel deur die streekhof toegestaan is.
3. Toe die appel aanvanklik voor ons op 17 April 2009 gedien het, is die saak, met die goedkeuring van beide Mnr Pothier, wat namens die appellant verskyn, en Mej. Ajam, wat vir die Staat optree, tot vandag uitgestel. Die rede daarvoor was om aan die verhoorlanddros die geleentheid te bied om redes vir sy skuldigbevinding te verstrek.
4. Nadat die verdediging sy saak gesluit het en betoog aangehoor is, het die verhoorlanddros sy skuldigbevinding op die volgende wyse oorgekondig: [Record 51].
5. Nadat verlof tot appel deur die streekhof verleen is, is die saak weer na die Verhoorlanddros verwys ingevolge Landdroshof Reel 67(5). Hierdie reel vereis van die Landdros om skriftelik die feite wat hy of sy bevind het te verskaf, asook sy of haar redes vir sodanige feitlike bevindings en sy of haar redes vir enige beslissing oor enige regsvraag. Waar sodanige redes reeds as deel van die uitspraak voorkom is 'n Landdros natuurlik nie verplig om dit te herhaal nie. Aangesien die Verhoorlanddros in die onderhewige geval geen redes vir sy skuldigbevinding verstrek het nie, was hy klaarblyklik genoop om die voorskrifte van reel 67(5) na te volg.
6. In stede daarvan om gebruik te maak van hierdie geleentheid, het die Verhoorlanddros slegs die volgende in sy skriftelike verklaring gese, (en ek haal aan): "Ek volstaan by my ex tempore uitspraak en versoek beleefd dat dit as is my redes is vir uitspraak aanvaar word (sic)".
7. Daarna het 'n onbetaamlike briewewisseling tussen die Landdros en die kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolgings ("DOV") gevolg:
7.1. Op 16 September 2008 skryf die DOV vir die Verhooflanddros 'n brief wat soos volg lui: [go to];
7.2. Op 3 Oktober 2008 het die Landdros soos volg geantwoord: [go to];
7.3 In antwoord, het die DOV op 2 Desember 2008 weer aan die Landdros as volg geskryf [go to];
8. Dit blyk dat selfs hierdie brief van die DOV nie die gewenste uitwerking gehad het nie. Teen die tyd dat die saak aanvanklik voor ons gedien het, het die Landdros steeds nie redes vir sy skuldigbevinding verskaf nie.
9. Ons het derhalwe die saak tot vandag toe uitgestel en 'n skriftelike versoek aan die Senior Landdros van die betrokke Landdroshof gerig om die Verhoorlanddros aan te se om sy redes onverwyld te verskaf. Daar is in hierdie versoek na die tersaaklike gesag in die verband verwys.
10. Die Verhoorlanddros het intussen redes vir sy skuldigbevinding verskaf. Die redes is aan beide Advokate voorgele. As beredeneerde verduideliking vir die slotsom waartoe die Landdros geraak het, is dit alles behalwe indrukwekkend. Ek keer later hierna terug.
11. Waar die Landdros gelyk gegee kan word, is dat die Staatsaak betreklik eenvoudig was. Konstabel Magedigedi het verduidelik dat hy die oggend van 14/8/07 op patrollie was in die omgewing van Gunners' Circle in die Epping gebied van Kaapstad. Hy het die Appellant en 'n tweede persoon waargeneem toe die Appellant langs die pad 'n taxi laat stilhou het. Hy het gesien hoe beide die Appellant en die tweede persoon, wat later blyk Bester te gewees het, inklim. Bester het 'n televisie gedra. Konstabel Magedigedi het die Appellant en Bester as verdag beskou. Hy het die taxi agtervolg tot Bonteheuwelstasie, waar hy die Appellant en Bester gearresteer het op 'n klagte van besit van gesteelde eiendom.
12. Op pad terug na die polisiestasie toe, het Konstabel Magedigedi 'n berig ontvang dat daar by 'n woning in Thornton, 'n woonbuurt in die omgewing, ingebreek is. Dit het later geblyk, en die klaer en inwoner van die woning, Mnr Nieuwland, het ook so getuig, dat hy ongeveer 07h45 die oggend sy huis verlaat het en kort na 08h00 'n berig van sy sekuriteitsdiens ontvang het. Hy het teruggekeer na sy huis toe en opgemerk dat 'n sekuriteitshek by die agterdeur oopgeforseer is, vermoedelik deur 'n groot koevoet wat hy op die toneel gevind is, en sy sogenaamde "flat screen" televisiestelsel, asook twee juwelierboksies en die inhoud daarvan, wat aan sy vrou behoort het, van vertrekke in die huis verwyder is. Hy het later die oggend die televisiestel wat Konstabel Magedigedi tydens sy arrestasie van die Appellant en Bester in beslag geneem het, by die polisiestasie uitgeken as syne.
13. Die Staat het ook as getuie geroep Michael Adonis, die bestuurder van die taxi. Hy het getuig dat die Appellant horn laat stilhou het en dat die Appellant en Bester, wat die "flat screen" televisie gedrae het, ingeklim het, en horn gevra het om hulle na Bonteheuwelstasie toe te neem. Hy het ook beskryf wat gebeur het nadat die polisie vir die Appellant en Bester in die taxi by Bonteheuwel stasie voorgekeer het.
14. Die Appellant en Bester is voorgekeer nie lank nadat die alarm by die klaer se huis afgegaan het nie. Dit blyk uit die getuienis dat die Appellant en Bester gearresteer is kort na 9vm. Adonis het getuig dat "die storie" "so na 09:00" gebeur het. Die getuienis dui derhalwe aan dat ongeveer 'n uur, of 'n bietjie meer as 'n uur, verloop het tussen die vermoedelike tyd van die inbraak by die klaer se huis, en die Appellant se arrestasie. Heeltemal verstaanbaar, word hierdie betreklike kort tydsverloop sterk deur die Staat beklemtoon as aanduidend van die Appellant se skuld en as steun vir die Verhoorlanddros se skuldigbevinding.
15. Beide die Appellant en Bester het in hulle eie verdediging getuig. Die Appellant se weergawe was dat hy op die betrokke oggend saam met Bester na die Eppingmark toe gegaan het om vrugte te gaan koop vir herverkoop doeleindes. Hulle het egter 'n persoon by die mark teegekom wat 'n televisiestel te koop aangebied het. Bester het getuig dat hy geleentheid gesien het om geld te maak uit die herverkoop van die televisiestel, en het derhalwe die persoon R500 - die geld wat hy op horn gehad het - aangebied vir die televisie, welke aanbod aanvaar is. Die Appellant en Bester sou toe terug ry na hulle woonplekke in Delft. Beide die Appellant en Bester het getuig dat die Appellant derhalwe 'n taxi laat stilhou het die bestuurder gevra om hulle Bonteheuwelstasie toe te ry. Bester het die televisie wat hy gekoop het in the taxi ingedra. Toe hulle by Bonteheuwelstasie aankom, het die polisie hulle voorgekeer. Beide die Appellant en Bester het ontken dat hulle hoegenaamd vir die polisie probeer wegloop het - Bester het immers getuig dat nadat hulle deur die polisie voorgekeer is, hy vir die Appellant gevra het om die televisie, wat nog in die taxi was, aan horn te oorhandig omdat, soos hy verduidelik het "hoekom ek was nie bang gewees om die TV te vat nie hoekom omdat ek weet ek het die TV gekoop".
16 Die omstandighede waaronder die Appellant en Bester gearresteer is kom klaarblyklik hoogs suspisieus voor. Die feit dat die twee van hulle betreklik kort na die inbraak deur die polisie met die televisie in hulle besit betrap is, is opsigself, in die afwesigheid van verduideliking, 'n omstandigheid wat die Appellant verbind met die inbraak wat klaarblyklik vroeer die oggend plaasgevind het.
17 Daar Is ook ander brokkies getuienis wat, indien dit aanvaar word, aanduidend sou wees van 'n skuldige ingesteltheid aan die kant van die Appellant en Bester. In die verband het Konstabel Magedigedi getuig dat nadat hy die taxi laat stilhou het, beide die Appellant en Bester in verskillende rigtings weggehardloop het. Die probleem hier is egter dat alhoewel die bestuurder van die taxi, ene Adonis, aanvanklik ook getuig het dat Bester gepoog het om weg te hardloop, hy later onder kruisondervraging toegegee het dat Bester wel rue weggehardloop het nie. Adonis het ook nie getuig dat die Appellant weggehardloop het of probeer weghardloop het nie. Beide die Appellant en Bester het in hulle getuienis ontken dat hulle weggehardloop het of probeer weghardloop het. Mysinsiens kan daar derhalwe nie bo redelike twyfel bevind word dat of die Appellant of Bester arrestasie probeer ontduik het nie. In elk geval, soos deur Mnr Pothier uitgewys, selfs al was daar sprake van suspisieuse optrede toe die Appellant en Bester gearresteer is, is dit nie noodwendig aanduidend van skuld aan die ten laste gelegde misdaad nie. Die Appellant se optrede kan moontlik verduidelik word aan die hand van die feit dat hulle nie gedink het dat hulle weergawe aanvaar sou word nie, of selfs dat hulle vermoed het dat die televisie wel gesteel is en hulle hulle van die toestel wou distansieer (vergelyk R v Blom 1939 AD 288 te 202-203).
18 Die tweede brokkie getuienis waarop die Staat steun is Konstabel Magedigedi se getuienis dat toe hy die Appellant en Bester vra waar hulle die televisie gekry het, hulle gese het hulle weet niks van die TV af nie. Hierdie getuienis was nie pertinent in kruisondervraging deur die Appellant se prokureur betwis nie. Gewoonlik sou so 'n versuim aanduidend wees daarvan dat die Appellant sodanige gedeelte van die getuie se getuienis nie betwis nie. Dit is egter heel duidelik dat die Appellant se prokureur baie onervare was. Haar kruisondervraging van Konstabel Magedigedi beslaan net meer as 'n bladsy van die oorkonde. Haar kruisondervraging van Adonis was nie veel langer nie. Die aard en inhoud van die vrae wat deur haar gestel is in kruisondervraging is ook aanduidend van onervaring. Daarbenewens is nog die Appellant nog Bester self hieroor in kruisondervraging uitgevra. Beide die Appellant en Bester is indringend uitgevra aangaande die bewering dat hulle van die polisie sou weggehardloop het, maar die getuienis dat hulle aan Konstabel Magedigedi sou gese het dat hulle niks van die televisie weet nie, is nooit aan hulle gestel nie. Dit bots ook met die trant van hulle getuienis. Soos reeds vermeld, was Bester se getuienis in hoof, inteendeel, dat hy vir die Appellant gevra het horn die televisie vir horn te oorhandig nadat hy uit die taxi geklim het want hy het geen rede gehad om horn van die toestel te distansieer nie, aangesien hy dit gekoop het. Hieroor is hy ook nie in kruisondervraging getoets nie.
19. Die Staat se saak berus derhalwe hoofsaaklik op die omstandigheidsgetuienis van die kort tydsverloop tussen die pleeg van die misdaad en die betrapping van die Appellant en Bester in die teenwoordigheid van die gesteelde televisiestel. Geen getuienis is aangebied om die Appellant of Bester direk met die misdaadstoneel te verbind nie.
20. Al is die feit dat die Appellant en Bester so kort na die inbraak met die televisie in hulle besit bevind hoogs suspisieus, bly die vraag steeds of die Appellant se verontskuldigende weergawe redelik moontlik waar kan wees. Soos deur Mnr Pothier uitgewys, was geen getuienis gelei wat sou aantoon dat nie moontlik is nie, of selfs dat dit onwaarskynlik is, dat 'n persoon of persone die televisiestel laastens by 8uur in Thornton kon verwyder van die klaer se woning, dit kort daarna aan Bester by die Eppingmark verkoop, en dat die Appellant en Bester net na 9uur die televisiestel in 'n taxi in die omgewing van die mark kon gelaai het nie. Die Appellant se weergawe mag onwaarskynlik klink, maar is na my mening redelik moontlik waar.
21 Die Appellant en Bester se weergawe is ook, tot 'n mate, ondersteun deur die feit dat daar geen getuienis is dat enige van die ander gesteelde items op hulle gevind is nie. Die klaer se getuienis was dat sy vrou se twee juwelierboksies, met juweliere daarin, saam met die televisiestel die oggend verwyder is. Indien die Appellant en Bester by die klaer se huis daardie oggend ingebreek het, en kort daarna feitlik op heterdaad deur die polisie betrap is, sou mens verwag dat al die gesteelde items steeds in hulle besit sou wees. Daar is egter nie getuienis wat aantoon dat enige van hierdie ander items op die Appellant of Bester gevind is nie. Daar is weliswaar geen getuienis aangebied oor of die twee verdaagtes gevisenteer is op soek na enige van hierdie items nie; maar die waarskynlikhede is dat nog die Appellant nog Bester hierdie items op hulle gehad het toe hulle gearresteer is nie. Die afwesigheid van ander items wat saam met die televisiestel van die klaer se huis gesteel is, bied 'n sekere mate van steun vir die Appellant se weergawe dat die televisiestel van 'n derde persoon aangekoop is, en eers toe deur Bester weggedra is.
22. In die redes wat hy verskaf het nadat ek en my ampsbroeder redes van horn aangevra het, het die Landdros in vier kort paragrawe 'n bondige opsomming gegee van die getuienis wat namens die Staat aangebied is. Die slotparagraaf lui dan soos volg [read].
23. Nerens word deur die Landdros verduidelik waarom hy die Appellant en Bester se weergawes verwerp het nie. Geen pertinente geloofwaardigheidsbevindings is deur die Landdros gemaak nie. Hierdie hof kan dus slegs staatmaak op die getuienis soos dit in die oorkonde voorkom.
24. Die gepaste benadering tot 'n evaluering van die staat se getuienis en die oorweging van die beskuldgide se verweer en weergawe is weer onlangs soos volg deur die Hoer Hof van Appel by monde van Regter Nugent in S vMbuli 2003(1) SASV 97 (HHA) te para [57] soos volg verduidelik:
[Go to]
25. As hierdie benadering op die getuienis in die onderhawige saak toegepas word, het die staat na my mening nie bo redelike twyfel bewys dat die Appellant skuldig is aan die huisbraak en diefstal klagte nie. Mej Ajam se verwysing na uitlatings van die Appelhof in S v Reddy 1996 (2) SASV 1(A) op 10 a - d, waar gese word dat by oorweging van die getuienis word dit nie van die hof vereis om te bespiegel oor "remote and fantastic possibilities" nie, is nie hier van toepassing nie. In Reddy het dit gegaan oor dwelmmiddels wat gevind is in 'n geheime kompartement van kratte wat deur die beskuldigdes van Indie ingevoer is. Die beskuldigdes het alle kennis van die dwelms ontken. In die onderhawige saak het die Appellant en Bester 'n verduideliking verskaf vir die teenwoordigheid van die televisie. Daar word geen bespiegeling oor ander moontlikhede vereis nie. Die vraag is of die Appellant se weergawe redelik moontlik waar kan wees. Op 'n oorweging van al die getuienis, moet daardie vraag mynsinsiens bevestigend beantwoord word.
26. Soos Mnr Pothier tereg toegee, maak hierdie gevolgtrekking nie noodwendig 'n einde aan die saak nie. Dit staan hierdie Hof vry om die Appellant skuldig te bevind aan 'n oortreding van artikels 36 of 37 van die Algemene Regswysigings Wet, Nr. 62 of 1955, indien die getuienis, op 'n aanklag van diefstal soos hier, nie daardie misdryf bewys nie (sien artikel 264(1) van die Strafproseswet). Artikel 36 het betrekking op die besit van goedere wat redelik vermoed word gesteel te wees, in omstandighede waar die verdagte nie in staat was om 'n bevredigende verduideliking vir sy besit van die goedere te gee nie. Artikel 37 gaan oor die ontvangs van goedere sonder dat die ontvanger redelike gronde gehad het om te dink dat die goedere aan horn oorgedra word deur 'n persoon wat geregtig is om dit te doen.
27. Na my mening dui die getuienis daarop dat beide die Appellant en Bester geweet het of moes geweet het dat die televisiestel waarskynlik gesteel is. Die waarde van die betrokke stel in vergelyking met die koopprys wat deur die verkoper aanvaar is, en die omstandighede waaronder dit te koop aangebied is, dui daarop. Soos deur Mnr Pothier betoog, vereis beide artikels egter ook bewys van besit van die goedere. "Besit" in hierdie konteks beteken bewys van direkte beheer oor die item (sien S v Wilson 1962 (2) SA 619 AD; S v Essack 1963 (1) SA 922 (N) te 924B).
28. Mysinsiens ontbreek sodanige getuienis van direkte besit en beheer van die televisiestel deur die Appellant. Weliswaar het Konstabel Magedigedi getuig dat toe hy vir die Appellant en Bester vir die eerste keer gewaar het, voordat hulle nog in die taxi geklim het, dit die Appellant was wat die televisiestel gedra het. Sy getuienis is egter weerspreek deur die bestuurder, Adonis, wat getuig het dat dit die Appellant was wat hom laat stilhou het, en dat Bester die televisie gedra het. Dit was ook die getuienis van die Appellant self, en van Bester. Bester en die Appellant was dit eens dat Bester die televisie gekoop het. Die Appellant het verder getuig dat hy maar saam met Bester gery het "om horn 'n hand te gee". Na my mening het die Staat nie bewys dat die Appellant in besit was van die gesteelde televisie vir doeleindes van 'n skuldigbevinding in terme van of artikel 36 of 37 van die Regswysigingswet nie.
29. Wat betref die getuienis van konstabel Magedigedi oor die Appellant en Bester se optrede vlak voor hulle arrestasie, het ek reeds opgemerk dat daar ook twyfel moet bestaan oor die getuienis dat hulle vir 'n verduideliking gevra is en een nie verskaf nie.
30. Mysinsiens moet die Appellant se skuldigbevinding en vonnis derhalwe tersyde gestel word.
31. Ek is genoop om ter afsluiting enkele opmerkings te maak, oor die landdros se benadering tot die saak.
Opmerkings
30 Soos aan die begin van hierdie uitspraak vermeld, het die verhoorlanddros na afsluiting van die saak verkies om geen redes vir sy skuldigbevinding tegee nie. Toe die saak na hom verwys is kragtens landdros reel 67(5) om sy feitebevindings en redes te verskaf nadat verlof tot appel toegestaan is, het hy versium om dit te doen. Selfs nadat die DOV hom versoek het om redes vir sy skuldigbevinding te verskaf, het hy op aanmatigende wyse geweier om dit te doen. Weens die gebrek aan redes het ons in die belang van geregtigheid besluit om die landdros om redes te vra alvorens ons die saak op appel sou aanhoor (sien Makhudu v Director of Poublic Prosecutions 2001(1) SASV 495 HHA paras [10] - [12]), tot ongerief van beide die Hof en die partye se regsverteenwoordighede.
32. Daar mag 'n grondige rede gewees het vir die landdros se versuim om aanvanklik redes vir sy skuldigbevinding te gee, alhowel dit nie uit die oorkonde blyk nie. Inteendeel, die feit dat by afsluiting van die saak dit reeds "in etenstyd" was, soos die landdros opgemerk het, is nie 'n goeie rede daarvoor nie. Wat betref die landdros se optrede daarna, is daar egter geen verskoning nie.
33. Die landdros is deur Reel 67(5) verplig om sy feitebevindings en redes te verskaf. Daardie plig het hy verontagsaam. Toe hy beleefd deur die DOV gevra is om sy redes te gee, het die landdros nie net geweier nie, maar 'n verskuilde en onberade waarskuwing aan die DOV gerig. Die landdros se verwysing in sy brief van 3/10/08 na artikel 106 van die Wet op Landdroshowe, wat gaan oor 'n landdros se magte met betrekking tot minagting van die hof waar 'n uitspraak van die hof of 'n sogenaamde huur-interdik verontagsaam is, is heeltemal irrelevant. Omdat dit mynsinsiens duidelik 'n poging was het om die DOV te intimideer, was dit ook heeltemal onvanpas.
34. Die noodsaaklikheid om sover moontlik redes te gee vir 'n hof se skuldigbevinding of vonnis kan kwalik oorbeklemtoon word. 'n Verduideliking deur 'n regterlike beampte vir sy beslissing skep openbare vertroue in die regspleging. 'n Versuim om redes te verskaf, aan die ander kant, kan die beskuldigde in 'n strafsaak se reg op 'n billike appel nadelig raak (sien Makhudu v Director of Publik Prosecutions, supra, te 499 (d)). Dit bemoeilik boonop die taak van die Hoer Hof.
35. In S v Immelman 1978 (3) SA 726 (A) te 729 A-D het wyle Appelregter Corbett, soos hy toe was, die volgende te se gehad met betrekking tot vonnisoplegging deur 'n verhoorhof:
"This difficulty is further compunded in the present case by the extreme brevity of the Court's judgment on sentence which gives no indication as to why or upon what bases of fact the learned Judge arrived at the sentence imposed by him. It has been decided in this Court, with reference to the verdict of the Court, that, although there is no provison in die Criminal Procedure Code for the delivery of a judgment when a Judge sits alone or with assessors (when these decisions were given the alternative system of trial by jury still obtained), in practice such a judgment is invariably given and that it is clearly in the interests of justice that it should be given (see R v Majerero and Others 1948 (3) SA 1032 (A); R v Van der Walt 1952(4) SA 382 (A)). It seems to me that, with regard to the sentence of the Court in cases where the trial Judge enjoys discretion, a statement of the reasons which move him to impose the sentence which he does also serve the interests ofjustice. The absence of such reasons may operate unfairly, as against both the accused person and the State. One of the various problems which may be occasioned in the Court of Appeal by the absence of reasons is that in a case where there has been a plea of guilty but evidence has been led, there may be no indication as to how the Court resolved issues of fact thrown up by the evidence or on what factual basis the Court approached the question of sentence."
(Sien ook in die verband die opmerkings van Nickolas WAR, soos hy toe was, in S v Masuku and Others 1985 (3) SA 908(A) te 912 E.)
36 Dieselfde oorwegings geld mynsinsiens ten opsigte van die verhoorhof se plig by skuldigbevinding. Sonder die verhoorhof se redes vir skuldigbevinding het 'n hof van appel geen aanduiding van die hof se indrukke van die getuies of hulle geloofwaardigheid nie. Die beskuldigde self kan nie weet op watter gronde die landdros sy beslissing gebaseer het nie, en is bygevolg in sy aanslag op die besluit op appel belemmer. Die regspleging in die algemeen is deur 'n afwesigheid van die verhoorhof se redes vir 'n bevinding van skuld eenvoudig nie bevorder nie.
36. Die versuim aan die kant van die Verhoorlanddros in hierdie saak om redes vir sy skuldigbevinding te gee blyk nie 'n uitsonderingsgeval te wees nie. Ek het persoonlik onlangs 'n soortgelyke geval teegekom. Ek verstaan van my ampsbroeders dat hulle ook ervaring het van hierdie verskynsel. Dit is 'n ongesonde verwikkeling. Die meeste Landdroste lewer, in die meeste gevalle, goedberedeneerde uitsprake. Daar is ook begrip vir die werksdruk waaronder Landdroste dikwels gebuk staan. Daar mag gevalle wees waar 'n volledige uitspraak nie nodig of gepas is nie. Hierdie gevalle behoort egter die uitsondering te wees.
37 .Ek gaan dus beveel dat hierdie uitspraak gestuur word aan die Landdrostekommissie vir kennisname, sodat die Kommissie sodanige opvolgstappe kan neem as wat hy mag goed ag. 'n Afskrif van die uitspraak sal ook aan die betrokke landdroskantoor gestuur word vir kennisname.
38 Bygevolg is die volgende bevel gemaak:
Die Appellant se skuldigbevinding en vonnis is tersyde gestel.
'n Afskrif van hierdie uitspraak moet versend word aan die Landdrostekommissie en aan die senior Landdros, Goodwood.
Jeremy Muller WNR Regter
Ek stem saam.
A Le Grange 7 Mei 2009