South Africa: Western Cape High Court, Cape Town

You are here:
SAFLII >>
Databases >>
South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >>
2010 >>
[2010] ZAWCHC 28
| Noteup
| LawCite
Lottering v S (SS82/99) [2010] ZAWCHC 28 (11 February 2010)
Download original files |
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAP HOE HOF,KAAPSTAD)
SAAKNOMMER: SS82/99
DATUM: 11 Februarie 2010
In die saak tussen:
CHRISTIAAN
HENRY LOTTERING Applikant
en
DIE STAAT Respondent
UITSPRAAK
(Aansoek vir verlof om te appelleer)
Hierdie is 'n aansoek vir verlof om te appelleer teen die vonnis wat opgele is deur my eertydse ampsbroer, Comrie, R. Die applikant het aangekla gestaan van gewapende roof, besit van 'n vuurwapen en moord. Hy is skuldig bevind op die basis van dolus eventualis en tot lewenslange gevangenisstraf op die moordklagte; op aanklag 2 tot vyftien jaar gevangenisstraf; 3 tot twee jaar gevangenisstraf en 4 tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis. Klaarblyklik loop al hierdie vonnisse saam.
Mnr Konstabel, wat namens die applikant verskyn het, het aangevoer dat die applikant nie behoorlik ingelig is van die bepalings van die Minimum Vonnis Wet nie en in meer besonder artikel 51(3) daar van nie. Dit blyk egter uit die rekord dat sy regsverteenwoordiger inderdaad bewus was daarvan en die Hof spesifiek oor daardie aspek toegespreek het.
Ek is nie tevrede dat daar 'n redelike vooruitsig is dat 'n ander hof tot 'n ander gevolgtrekking kan kom op hierdie aspek nie. Met betrekking tot die vonnis is kommentaar in die verhoorregter se uitspraak wat my tot kommer strek en dit is dat as dit nie vir artikel 51 was nie, sou hy 'n vonnis van tussen 20 en 25 jaar gevangenisstraf vir die moord oorweeg het en 'n vonnis van twaalf jaar vir die roof met verswarende omstandighede. Hy gaan dan aan en se dat die verskille tussen sodanige tydperk en lewenslange gevangenisstraf is nie so groot of grof onbillik of uiters oneweredig dat hy dit as 'n wesenlike en dwingende omstandigheid kan beskou nie.
Na my mening mag 'n ander Hof moontlik bevind dat dit wel as 'n wesenlike en dwingende omstandigheid beskou kan word en mag daar ingemeng word met die vonnis. In die omstandighede is ek tevrede dat ek in die belang van geregtigheid en omdat ek nie by die verhoor betrokke was nie, liewers uit versigtigheid verlof sal toestaan om na die Volbank van hierdie afdeling te appelleer.
Daar is egter 'n opmerking wat ek wil maak, dit blyk uit die kondonasie-aansoek dat die applikant nou meer as tien jaar geneem net om sy aansoek om verlof om te appelleer by die hof te kry. Dit was nie as gevolg van 'n gebrek aan sy kant om te probeer om die aangeleentheid voor die Hof te kry nie. Hy het verskeie skrywes gerig aan die Griffier van hierdie Hof en hy het skrywes gerig aan die Regshulpraad. Die behandeling van die applikant deur beide die Griffier van hierdie Hof en die Regshulpraad is na my mening skreiend en ek sal graag wil he dat dit ondersoek moet word, want meermale vind 'n mens dat wanneer daar gevangenes skrywes rig aan die griffier of die regshulpraad in terme waarvan hulle versoek dat die nodige gedoen word om hulle aansoeke voor die Hof te plaas, is daar ellelange vertragings. Ek was onlangs ook betrokke in 'n saak waar dit feitlik nege jaar geneem het voordat die aansoek om verlof om te appelleer voor ons geplaas is. Dit kan nie geduld word nie, dit kan lei tot baie ernstige regskendings en ek sal die Staat vra om hierdie aangeleentheid te verwys na die Kantoor van die Direkteur van Openbare Vervolging ten einde dit te ondersoek.
Gevolglik herhaal ek net, VERLOF WORD TQEGESTAAN AAN DIE APPLIKANT OM TE APPELLEER NA DIE VOLBANK VAN HIERDIE AFDELING.
TRAVERSO, ARP