South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2010 >> [2010] ZAWCHC 574

| Noteup | LawCite

Lehani v S (A128/2010) [2010] ZAWCHC 574 (26 November 2010)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOE HOF. KAAPSTAD)


SAAK NO
: A128/2010

DATUM: 26 NOVEMBER 2010




In die saak tussen:



ELTON LEHANI ….......................................................................................Appellant

en

DIE STAAT …..........................................................................................Respondent






UITSPRAAK




LOUW. R:



Die appellant wat deurgaans deur 'n regsverteenwoordiger bygestaan is, het op 25 Mei 2009 in die Bellville landdroshof onskuldig gepleit op twee aanklagte, tewete dat hy op 5 November 2008 by of naby Sackssirkel, Bellville-Suid, 'n aantal items met die totale waarde van R9 700 van die klaer, Deon Lategan, gesteel het en dat hy op dieselfde dag die gemelde Deon Lategan aangerand het deur horn met die vuis te slaan.




Appellant het verkies om sy swygreg uit te oefen en het geen pleitverduideliking gegee nie.



Die Staat het die getuienis van die klaer, Deon Lategan, en van sy dogter Amy Lategan aangebied. Na afloop van die staatsaak het die appellant verkies om nie te getuig nie en het sy saak gesluit.



Op 20 Augustus 2009 is die appellant op altwee aanklagtes skuldig bevind. Op dieselfde dag is appellant tot drie jaar gevangenisstraf op die eerste aanklag en ses maande gevangenisstraf op die tweede aanklag gevonnis en die appellant kom nou met die verlof van die Hof a quo, wat op 11 September 2009 aan horn verleen is, op appel op beide sy skuldigbevinding en die vonnisse wat horn opgele is.



Die klaer het getuig dat hy op munisipale eiendom in Sacksirkel gewoon het. Die oggend van 5 November 2008 en terwyl hy by die werk naby sy huis was, het hy 'n telefoonoproep ontvang van sy vrou wat vir horn gese het dat persone in 'n swart bakkie besig was om items wat op sy werf gestaan het, op te laai. Hy het horn na sy huis gehaas en 'n swart bakkie met drie persone daarop naby sy huis voorgekeer. Hy het opgemerk dat van sy eiendom agterop hierdie bakkie was. Die appellant was die bestuurder van die bakkie, volgens die klaer. Die klaer het gepoog om die sleutel van die bakkie uit te trek en hy het die appellant het in 'n stoeigeveg betrokke geraak. Die appellant het horn met die vuis in die gesig geslaan en sy bril het afgeval. Hy kon daarna nie behoorlik sien nie en die appellant het met die bakkie weggery. Nadat hy sy bril opgetel het, het hy die bakkie in sy voertuig agternagesit tot by 'n skrootwerf in Beaconvale waar die appellant en sy twee makkers besig was om sy goed af te laai.



Die klaer was egter te bang om nader te gaan en het gewag vir die polisie om te kom. Die appellant het, nadat hy die goed aan die skrootwerf verkoop het, weggery met die bakkie. Die klaer het toe nader gegaan en het van sy eiendom by die skrootwerf teruggekry. In die geveg met die appellant is die klaer se mond aan die binnekant gesny en hy het 'n skaafwond aan sy knie opgedoen. Sy klere is ook geskeur.



Die klaer se dogter het getuig dat sy en haar ma die betrokke oggend by die huis was toe 'n swart bakkie by hulle huis opgedaag het en van die goed wat in hulle agterplaas gele het, opgelaai het en daarmee weggery het. Hulle het hul pa gekontak en sy en haar ma het die bakkie met hulle voertuig agtervolg. Hulle het egter die bakkie in die proses verloor. Die klaer het egter ook opgedaag en hy het die bakkie agtervolg. Volgens die klaer se dogter was daar drie persone op die bakkie, maar sy kon hulle nie identifiseer nie.



Mnr Solomon, wat namens die appellant verskyn, het gese dat hierdie saak gaan eintlik net oor identifikasie en het betoog dat die identifikasie van die appellant as een van die betrokkenes synde die bestuurder van die voertuig, die persoon wat met die klaer in die geveg betrokke was en ook die persoon wat een van die mense was wat die goed van die bakkie afgelaai het by die skrootwerf nie voldoende was om h behoorlike identifikasie bo redelike twyfel daar te stel nie. Ek stem egter saam met me Kortie wat namens die Staat verskyn dat die identifikasie van die appellant as die persoon wat betrokke was, deur die klaer nie gekritiseer kan word nie. Hy het genoeg geleentheid gehad om identifikasie te doen. Hy het die bakkie voorgekeer. Hy het gesien wie die bestuurder van die bakkie was. Hy het by die bakkie gekom en wou die sleutel uittrek. Hy het met die bestuurder wat hy identifiseer as die appellant, in 'n stoeigeveg betrokke geraak. Dit is waar dat hy sy bril verloor het en dat dit gemene saak is dat hy nie behoorlik kan sien sonder sy bril nie, maar hy het die identifikasie gedoen voordat hy sy bril verloor het en nadat hy sy bril teruggekry het, het hy die bakkie gevolg en van 'n afstand sien hoe die appellant en sy twee makkers die goed aflaai.

Ek meen dat op die getuienis die landdros heeltemal korrek was om te bevind dat die appellant die bestuurder was van die bakkie waarmee die goed by die klaer se huis opgelaai is en na die skrootwerf vervoer is.



Hoewel die klaer se dogter nie die persone kon identifiseer nie, het sy gesien hoe die bakkie - en dit moet dieselfde bakkie wees - met die klaer se goed agterop by hulle werf uitry en dat die klaer daardie bakkie kort daarna gestop het.



In die afwesigheid van enige getuienis tot die teendeel, aangesien die appellant glad nie self getuig het nie en ook nie enige getuies geroep het nie, is daar geen basis waarop daar met die landdros se bevinding ingemeng kan word nie. Op grond van die getuienis wat voor die landdros was, is dit duidelik dat die appellant skuldig is op albei aanklagte, tewete die diefstal van die klaer se goed en die aanranding op die klaer.



Wat vonnis betref, die appellant was ten tyde van vonnisoplegging 33 jaar oud en hy het indertyd vir 'n tuindienstefirma gewerk. Hy was ongetroud en het drie kinders. Hy het tot op St.2 gevorder op skool.




Die belangrikste aspek ten opsigte van vonnis is egter die feit dat die appellant ten tyde van vonnisoplegging reeds vyf vorige veroordelings vir diefstal gehad het. Hierdie skuldigbevinding strek oor 'n tydperk vanaf 1994 tot Julie 2007, behalwe vir 'n termyn van twee jaar gevangenisstraf wat in 1999 opgele is, is die appellant in die vier ander gevalle opgeskorte vonnisse van gevangenisstraf opgele.



In die omstandighede meen ek nie dat die twee vonnisse van drie jaar en ses maande gevangenisstraf onderskeidelik skokkend onvanpas is nie. Dit volg dat die appel teen die vonnisse ook nie kan slaag nie.




Ek sou dus die volgende bevel maak:

  1. Die appel teen die skuldigbevindings en vonnisse word afgewys.

2. Die skuldigbevindings en vonnisse word bekragtig.






VAN HEERDEN, WnR: Ek stem saam.




VAN HEERDEN, WnR



LOUW, R: Dit word dan so beveel.




LOUW, R