South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2012 >> [2012] ZAWCHC 59

| Noteup | LawCite

Wellington Kooperatiewe Wynkelder Bpk v Overhex Wines International (Edms) Bpk (10935/2007, 8064/2008) [2012] ZAWCHC 59 (1 March 2012)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOE HOF VAN SUID-AFRIKA

(WES-KAAP HOE HOF, KAAPSTAD)



SAKENOMMER: 10935/2007 8064/2008

In die saak tussen:


WELLINGTON KOOPERATIEWE WYNKELDER BEPERK ….....................................Eiser

en



OVERHEX WINES INTERNATIONAL (EDMS) BEPERK …...............................Verweerder





UITSPRAAK GELEWER OP 01 MAART 2012




GOLIATH, R:



[1] Die eiser is Wellington Kooperatiewe Wynkelder Beperk, 'n kooperasie wat in terme van artikel 28 van die Kooperasiewet, 1981 (Wet nr 91 van 1981), met regspersoonlikheid beklee is, met hoofplek van besigheid gelee te Stokerweg, Wellington, Wes-Kaap Provinsie.



[2] Die verweerder is Overhex Wines International (Edms) Beperk, 'n privaat maatskappy wat behoorlik gei'nkorporeer en in terme van die wette van die

Republiek van Suid-Afrika met geregistreerde adres te Overhex Privaat Kelder, Worcester, Wes-Kaap Provinsie geregistreer is.



[3] Hierdie aangeleentheid spruit voort uit twee aksies welke, aksies gekonsolideer is. Die eiser ("Wellington") vorder betaling in vir wyn wat verkoop en gelewer is aan verweerder ("Overhex") in beide aksies. Die hoofeis van Wellington is tot 'n groot mate nie in geskil nie. Overhex erken aanspreeklikheid teenoor Wellington ten opsigte van die hoofeis in die som van R1009 650.79.



[4] Overhex het egter 'n teeneis ingestel vir betaling van skadevergoeding weens beweerde kontrakbreuk deur Wellington en eis 'n bedrag van R979 602.44. 'n Gedeelte van die hoofeis in die bedrag van R49 163.87 is egter in geskil welke bedrag die verkoopprys verteenwoordig van ongeveer 11 000 liter wyn wat deel vorm van die wyn waarna in die teeneis verwys word. Overhex erken dat die 11 000 liter wyn bestel was teen 'n koopprys van R49 163.87 en dat dit wel gelewer is, maar ontken dat die 11 000 liter wyn voldoen het aan die terme van die kontrak.



[5] Gevolglik in 'n neutedop beteken dit dat indien Overhex se teeneis slaag, sal Wellington geregtig wees op vonnis in die bedrag van R1 009 650.79. In die alternatief, indien Overhex se teeneis van die hand gewys word, sal Overhex aanspreeklik wees vir 'n bedrag van R1 009 650.79 plus die addisionele R49 163.87 synde 'n somtotaal van R1 058 814.66.

[6] Die partye se onderskeie eise spruit voort uit verskillende kontrakte. Die partye het ooreengekom dat Overhex gaan begin om getuienis met betrekking tot die teeneis aan te bied aangesien die sukses al dan nie van die teeneis sal bepaal of die addisionele bedrag van R49 163.87 wel betaalbaar is.



[7] Op 15 Januarie 2007 het Wellingon, verteenwoordig deur mnr G Boersen en mnr C Smith en Overhex, verteenwoordig deur mnr J Rossouw, 'n ooreenkoms aangegaan in terme waarvan Wellingon vir Overhex 'n versnitwyn sou maak bestaande uit verskillende komponente. Die volgende feite is gemeensaak:

(a) Die versnitwyn sou bestaan hoofsaaklik uit Cabernet Sauvignon en Shiraz.

(b) Die wyn is bestem vir uitvoer na 'n oorsese mark.

(c) Die wyn sou by wyse van die "bulk" filtrasie metode filtreer word.

(d) Wellington het 'n verpligting om toe te sien dat die vlak van vryswaeldioksied (S02) minstens 40 milligram per liter op tenk tydstip moet wees ter vervulling van die betrokke standaarde van die Wyn en Spiritusraad asook die Departement Landbou vir uitvoerwyn.

(e) Die wyn is op 2 Maart 2007 deur Wellington in tenkhouers gelaai synde die "tenktydstip".

(f) Die wyn is uiteindelik uitgevoer en aan Kingsland Wines and Spirits ("Kingsland") verkoop, waar dit in 'n gebrekkige toestand in Engeland aangekom het.



[8] Overhex voer egter aan dat, in verbreking van die ooreenkoms, die SO2 inhoud van die wyn op tenktydstip nie minstens 40 milligram per liter was nie. Gevolglik het die wyn na die tenktydstip geoksideer tot so 'n mate dat dit nie meer verhandelbaar was nie. Wellington ontken dat kontrakbreuk gepleeg is, meer spesifiek dat die S02 vlak nie aan die standaarde voldoen het nie.



[9] Overhex beweer verder dat Kingsland verplig was om 68010 bottels wyn te vernietig en dus skade gelei het ten opsigte daarvan. Verder, dat Overhex gevolglik nie betaling van die koopprys van Kingsland ontvang het nie en dat Overhex regtens aanspreeklik is vir Kingsland se skade. Overhex het gevolglik skade gelei in die bedrag van R979 602.44 soos uiteengesit in die teeneis. Wellington ontken kontrakbreuk asook kousaliteit en ontken enige aanspreeklikheid.



[10] Dit is gemeensaak dat die bewyslas ten opsigte van al die geskilpunte op Overhex rus. Mnr Lumb, die Kwaliteits Bestuurder by Kingsland, bevestig dat die wyn by Kingsland op 21 Maart 2007 in die tenkhouers arriveer het. Daar is ontdek dat die S02 vlakke in die wyn onder andere 13, 16 en 20 milligram per liter was. Volgens Kingsland se spesifikasies word 'n minimum vlak S02 van 18 milligram per liter vereis. Die tenk met 'n SO2 vlak van 20 milligram per liter is ongedeerd en is bemark. Daar is egter S02 by die ander twee tenks gevoeg om die wyn te probeer red. Die wyn het egter vererger. Mnr Lumb som die posisie van die wyn as volg op. Met aflewering was die wyn "visually fine, it had an unclean aroma, no indication of browning which may indicate oxidisation, but there was an unclean nose. And the palate it lacks fruit ... it was very dull and lacked flavour. On tasting after the sulphur addition, after we'd offloaded, it was slightly improved, but it was still lacking fruit. And then on tasting after the post bottling, there was in the wine an oxidized character sort of reminiscent of sherry"



[11] Die wyn was gevolglik nie bemarkbaar nie. Hy het die wyn vir turpiditeit en filtreerbaarheid getoets en geen probleem ondervind nie. Hy was van mening dat die lae vlakke S02 tydens verskeping daartoe gelei het dat die wyn oksideer. Kingsland vereis dat die vlak S02 voor verskeping tussen 30-40 milligram per liter en by aflewering tussen 18-40 milligram per liter moet wees. Dit is algemeen aanvaar dat daar gewoonlik 'n daling in S02 vlakke tydens verskeping is, vandaar die minimum vereistes by verskeping.



[12] Dit blyk egter dat die wyn nie volgens Kingsland se spesifikasies is nie, aangesien dit deur 'n "bulkflow" filtrasie proses is en nie die "cross-flow" metode nie. Beide partye erken dat hulle ooreengekom het om die "bulkflow" metode te gebruik. Dit is teenstrydig met Kingsland se vereistes. Ten spyte van hierdie afwyking, het een tenk die verskepingsproses oorleef. Die vraag ontstaan dus, wat het met die ander twee tenks skeef geloop?



[13] Twee deskundiges, mnr Ellis en mnr Theron het namens die partye getuig ten einde hul opinie te gee oor wat tot die verlies gelei het. 'n Monster wyn is deur Overhex aan mnr Theron gestuur in April 2007 nadat dit in Engeland gearriveer het. Mnr Ellis se monster is voor verskeping getrek en deur Wellington aan horn versend vir analise. Die hoof geskil in hierdie aangeleentheid het dus gewentel om die vraag of die wyn oksidasie of hergisting ondergaan het.



[14] Ten einde hierdie twee prosesse te verstaan, is dit wenslik om eerste die belangrikheid van Swaweldioksied in wyn te hanteer. SO2 word by wyn gevoeg en het basies twee eienskappe. Dit is 'n antioksidant en 'n preserveermiddel. Die Wyn en Spiritus Raad en die Departement van Landbou vereis 'n vlak van 40 milligram per liter op tenktydstip vir wyn wat in stortmaat vir die uitvoermark bestem is. Die hooffunksie van SO2 is om, deur middel van sekere chemiese reaksies, te verhoed dat die wyn deur blootstelling aan die lug oksideer en as gevolg daarvan bederf word.



[15] Die wyn is deur Wellington na Vinlab gestuur vir analise. Op 6 Februarie 2007 was die S02 vlak 30 milligram per liter. Daarna is 'n swaelaanpassing op 6 Februarie 2007 deur mnr Smit in konsultasie met mnr Rossouw gedoen. Op 9 Feburarie 2007 is 'n monster na die Departement Landbou vir ontleding gestuur. Die analise het op 14 Februarie 2007 'n SO2 vlak van 34 milligram per liter getoon.



[16] Op 14 Februarie 2007 versoek die Departement Landbou 'n deklarasie dat die S02 bo 40 milligram per liter gelig is. Op 28 Februarie 2007 is so 'n verklaring in die naam van Chris Smit geliasseer. Die monsters wat op tenktydstip 2 Maart 2007 deur die Departement Landbou ontleed is toon op 14 Maart 2007 S02 vlakke aan van 25, 20 en 27 milligram per liter. Mnr Smit het getuig dat hy op 6 Februarie 2007 en 13 Februarie 2007 die S02 gelig het. Mnr Rossouw was blykbaar slegs bewus van die lig van die S02 op 6 Februarie 2007. Die analise van Kingsland op 21 Maart 2007 toon S02 vlakke aan van 20, 16 en 13 milligram per liter.



[17] Oksidasie is die proses waar suurstof met wyn komponente reageer en 'n negatiewe impak op die gehalte van die wyn het. Die eienskappe van oksidasie in wyn is 'n kleurverandering, verlies aan geur en 'n heuningagtige reuk weens die vorming van asetaldehied. Geen koolsuurgas word tydens oksidasie geproduseer nie.



[18] Hergisting is die reaksie wat plaasvind wanneer gisselle en ressuiker wat in wyn aanwesig is, met mekaar reageer. Die proses veroorsaak dat suiker in wyn omgesit word in alkohol en koolstofdioksied (C02). Daar is basies twee tipes gisting. Eerstens alkoholiese gisting, waar suiker in die wyn deur gis transformeer na alkohol en koolsuurgas. Tweedens bakteriologiese gisting waar die appelsuur in wyn in melksuur omgeskakel word. Die eienskappe van hergisting in wyn is 'n daling in suiker, vaalheid of troebelheid en koolsuurgasvorming.



[19] Die deskundiges wie beide geloofwaardig en ervare is, het dan ook die volgende oor hierdie prosesse getuig. Hergisting kan lei tot onstabiele S02 wat kan lei tot oksidasie. Asetaidehied is 'n tussenproduk van beide hergisting en oksidasie. 'n Asetaidehied karakter in wyn kom voor as 'n heuningagtige geur. Lae S02 vlakke kan aanduidend wees van beide hergisting en oksidasie. Wyn kan gered word deur die byvoeging van S02 in beide gevalle, mits filtrering in die geval van hergisting plaasvind. Beide hergisting en oksidasie het tot gevolg dat wyn oksidatiewe kenmerke toon. Wyn in 'n oksidatiewe toestand, moet behooriik getoets word voordat dit aan oksidasie of hergisting toegeskryf kan word.



[20] Gedurende April 2007 is 'n monster uit Engeland teruggestuur en deur mnr Theron namens Overhex getoets. Met ondersoek het hy 'n verbruining in die wyn waargeneem. Op die neus was 'n konfytagtige reuk en geen koolsuuurgas is waargeneem op smaak nie. Mnr Theron het geen mikro-biologiese of wetenskaplike analise van die wyn gedoen nie. Na sy oordeel op grond van sig, neus en mond, het oksidasie plaasgevind.

[21] Mnr Ellis is voorsien van 'n monster wat voor verskeping getrek is. Hy het die wyn mikroskopies op versoek van Wellington getoets. Die wyn het troebel voorgekom. Hy het getuig dat die teenwoordigheid van gisselle in die monster daarop dui dat die wyn nie steriel hanteer is nie. Hy is van mening dat 'n vry SO2 vlak van 40 milligram per liter onvoldoende is om rooiwyn met 'n ressuiker van 6.2 gram per liter teen hergisting te beskerm. Volgens horn was die vlak CO2 abnormaal hoog toe dit in Engeland gearriveer het. Hy sou 'n toename in vlugtige suur vlakke verwag het indien oksidasie plaasgevind het. Verder getuig hy dat 'n geringe daling in ressuiker nie noodwendig hergisting uitsluit nie. Hy is van oordeel dat hergisting plaasgevind het.



[22] Dit is gemeensaak dat wyn kan oksideer indien dit aan lig blootgestel word. Tydens aflaai van die wyn is daar altyd so 'n risiko. Wellington het geen beheer oor die wyn gehad nadat dit verskeep en afgelaai is nie. In Engeland is daar op 'n stadium S02 by twee tenke gegooi om die wyn te red. Die monster van mnr Theron was dus nie dieselfde monster as die van mnr Ellis nie. Die laaste S02 lesings van die Departement van Landbou was op 14 Maart 2007 ontleed, 12 dae na tenktydstip. Ook hierdie monster verskil van die ander.



[23] Mnr Smit het egter getuig dat hy op twee geleenthede S02 aanpassings gemaak het. Hy het egter klei getrap rondom wie verantwoordeiik was vir die S02 aanpasssing op 13 Februarie 2007. Dit het egter uit die getuienis geblyk dat die wynbedryf sekere norme en standaarde het wat S02 aanpassings betref. Indien die wyn analise toon dat die S02 vlak effens aangepas moet word, is slegs 'n sertifikaat nodig van die wynmaker om enige verdere aanpassing te bevestig voordat 'n uitvoersertifikaat uitgereik word. Dit het blykbaar in hierdie geval gebeur. Mnr Smit is 'n ervare wynmaker. Net soos die Departement van Landbou, aanvaar die hof die bona fides van mnr Smit dat daar wel h S02 aanpassing gedoen is. Alhoewel die aanpassing op 13 Februarie 2007 betwis word, skat hy dat die S02 vlak in die wyn tussen 40-60 milligram per liter moes gewees het nadat dit aangepas was. Mnr Smit het egter versuim om 'n finale toets van die monster te neem ten einde die S02 vlak op tenktydstip te bepaal. Daar is dus geen S02 lesing na die aanpassing op 13 Februarie 2007 nie. Daar was ook 'n geskil random die verandering van die S02 vlak na 40 milligram per liter volgens gegewens aan mnr Ellis voorsien deur mnr Smit. Die werklike S02 tydens tenktydstip vlak is egter nie bepaalbaar nie. Die hof is dus nie in Yi posisie om te bepaal wat die S02 vlak in die wyn tydens tenktydstip was nie.



[24] Dit is ook nie moontlik om enige bevindinge te maak random die hantering van die wyn in Engeland nie. Dit is gemeensaak dat oksidasie kan plaasvind indien die wyn tydens aflaai daarvan, aan lig blootgestel word. Mnr Ellis kritiseer die akkuraatheid van mnr Lumb se metode wat hy gebruik het om die wyn te toets vir turpiditeit en filtreerbaarheid ten einde oksidasie uit te skakel. Volgens Ellis is meer gevorderde wetenskaplike toetse nodig om vas te stel of oksidasie inderdaad plaasgevind het. Alhoewel mnr Ellis 'n meer intensiewe ondersoek gedoen het, is dit egter gebaseer op 'n veronderstelde SO2 vlak van 40 milligram per liter wat nooit bewys is nie.



[25] Ter ondersteuning van die hergistingsteorie getuig mnr Ellis dat die CO2 vlakke abnormal hoog was in die wyn wat vanaf Engeland versend is. Mnr Lumb getuig egter dat die vlakke binne Kingsland se aanvaarde spesifikasies is. Dit is egter so dat daar geen rekord van die C02 vlak van die wyn voor verskeping of tydens tenktydstip is nie. Die hof kan dus nie bevind dat die C02 vlakke inderdaad verhoog het na tenktydstip nie en dat hergisting wel plaasgevind het nie.



[26] Dit is egter so dat die partye voortgegaan het om in stryd met Kingsland se spesifikasies wat 'n "final filtration media rating" van "crossflow <4 mikron" vereis het, afgewyk het. In plaas van die wyn steriel filtreer was dit tussen 0-30 mikron filtreer. Beide partye is dit eens dat alle gisselle nie verwyder kan word by wyse van "bulkflow" filtrasie nie. Weens die aanwesigheid van gisselle en ressuiker wat met mekaar reageer, verhoog dit gevolglik die moontlikheid van hergisting. Die moontlikheid dat hergisting kan plaasvind word dus verhoog in die geval van "bulkflow" filtrasie.



[27] Insiggewend is die feit dat mnr Theron toegegee het dat die teenwoordigheid van gisselle die effek het dat, al was die SO2 vlak op 40 milligram per liter tydens tenktydstip, dit nie hergisting sou voorkom het nie, maar slegs sou vertraag het. Indien daar dus gisselle teenwoordig was na die "bulkflow" filtrasie metode, word die werklike vlak van SO2 tydens tenktydstip irrelevant.



[28] Dit is gemeensaak dat S02 vlakke voortdurend daal en dat verskeie faktore 'n rol hierin kan speel. Verder speel blootstelling aan lug ook 'n groot rol in die oksidasieproses. Laastens was daar altyd die risiko van hergisting weens nie-steriele filtrasie. Die hof is dus nie in 'n posisie om uitsluitsel te gee random die vraag of oksidasie of hergisting sou plaasgevind het nie. Selfs indien hergisting nie plaasgevind het nie, is die hof nie in 'n posisie om te bevind dat lae vlakke S02 tydens tenktydstip die oorsaak van die geoksideerde toestand van die wyn was nie. Gevolglik het Overhex nie daarin geslaag om kontrakbreuk aan die kant van Wellington te bewys nie.




[29] In die omstandighede word die volgende bevele hierin verleen:

(1) Die verweerder se Teeneis onder saaknommer 10935/2007 word van die hand gewys met koste; en

(2) Die verweerder word gelas om die volgende aan eiser te betaal:




(a) betaling in die bedrag van R1 058 814.66;


(b) betaling van rente op R1 058 814.66 bereken teen 'n koers van 13,5% per jaar vanaf 29 Junie 2007 tot datum van betaling;


(c) betaling van die eiser se koste van die aksies onder sakenommers 10935/2007 en 8064/2008, insluitende die koste van die voorbereiding en verskyning van mnr Ellis.




P L GOLIATH

REGTER