South Africa: Western Cape High Court, Cape Town Support SAFLII

You are here:  SAFLII >> Databases >> South Africa: Western Cape High Court, Cape Town >> 2013 >> [2013] ZAWCHC 108

| Noteup | LawCite

Bester NO and Another v Scholtz (24447/11) [2013] ZAWCHC 108 (15 August 2013)

Download original files

PDF format

RTF format


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(WES-KAAPSE HOOGGEREGSHOF, KAAPSTAD)



Saak No 24447/11

In die saak tussen:

LAMBERTUS VON WIELLIGH BESTER N O ..........................Eerste Eiser

T S DE SITO MATHEBULA N O ................................................Tweede Eiser

(in hul hoedanigheid as mede-kuratore in die
insolvente boedel van John Levey)

en

OLGE SCHOLTZ ..........................................................................Verweerderes



Hof: Griesel R

Aangehoor: 29 Julie 2013

Gelewer: 15 Augustus 2013

____________________________________________________________________

UITSPRAAK

____________________________________________________________________

Griesel R:

  1. Die eisers tree hierin op in hul hoedanigheid as die mede-kuratore in die insolvente boedel van John Levey (‘die insolvent’), wie se boedel op 24 Maart 2010 voorlopig en op 20 Oktober 2010 finaal deur hierdie hof gesekwestreer is. Die verweerderes is die eggenote van die insolvent, met wie hy buite gemeenskap van goed getroud is.

  2. Die insolvent en die verweerderes was vanaf 28 Februarie 2001 tot 29 September 2010 die mede-eienaars van onroerende eiendom bekend as Erf 37614, Bellville (‘die eiendom’). Uit die eisers se gewysigde besonderhede van vordering blyk dit dat die insolvent en die verweerderes drie afsonderlike lenings­ooreen­komste, beskryf as ‘housing loans’, met Nedbank Bpk (‘Nedbank’) gesluit het, soos volg:

17/8/04 R1 000 000
17/8/04 R1 500 000
25/7/05 R3 500 000.
1

  1. Die onderskeie lenings is verseker deur vier afsonderlike verbande gepaseer oor die eiendom ten gunste van Nedbank, soos volg:

13/8/02 R2 000 000
28/7/04 R500 000
15/8/05 R2 000 000
26/4/07 R1 000 000.

  1. Ingevolge die bepalings van elk van die lenings­ooreen­komste was die insolvent en die verweerderes gesamentlik en afsonderlik (‘jointly severally and in solidum’) teenoor Nedbank aanspreeklik vir terug­betaling van die lenings, wat sou geskied by wyse van 240 maan­delikse paaiemente.

Pleitstukke

  1. Die eisers beweer dat die insolvent gedurende die periode Augustus 2004 tot Augustus 2009 sekere betalings in ’n totale bedrag van R3 313 530,51 aan Nedbank gemaak het ingevolge die geld­lenings­ooreenkomste en verbande. Die eisers eis hierin betaling deur die verweerderes van een helfte van sodanige bedrag. Hul eis word op drie alternatiewe gedings­oorsake gebaseer, wat in meer besonderhede hier­onder bespreek word.

  2. In antwoord op die besonderhede van vordering het die verweerderes aanvanklik ’n algemene ontkenning gepleit. Ongeveer ’n maand voor die verhoor is kennis gegee van die verweerderes se voor­neme om haar pleit te vervang met ’n gewysigde pleit waarin aangevoer word, weens ’n verskeidenheid van redes, dat geeneen van die eisers se eise soos gepleit regtens ’n skuldoorsaak daarstel nie. In effek kom die gewysigde pleit derhalwe op ’n eksepsie neer, sonder dat dit pertinent daardie etiket dra.

  3. Tydens ’n voorverhoor konferensie tussen die onderskeie regs­verteenwoordigers gehou ingevolge reël 37 is daar namens die verweer­deres voorgestel dat die regspunte geopper in die voor­gestelde gewysigde pleit ingevolge reël 33(4) afsonderlik bereg word. Nadat die eisers aanvanklik beswaar aangeteken het teen die voor­gestelde wysiging sowel as die voorgestelde werkswyse, is daar by die aanvang van die verhoor tussen die partye ooreengekom dat die verweerderes wel toege­laat sal word om die betrokke regspunte in limine te argumenteer asof daar betyds eksepsie aangeteken is. Dit is onderhewig aan die voor­behoud dat ’n uitspraak in die guns van die verweerderes op die regs­punte nie sonder­meer aanleiding sal gee tot afwysing van die eisers se eis nie, maar dat hulle geleentheid gebied sal word (indien aldus geadviseer) om hul besonderhede van eis te wysig, soos wanneer ’n eksepsie gehandhaaf sou word.

  4. Ek het daarop die voordeel geniet van deeglike debat aangaande die regspunte deur Adv Van der Walt SC namens die eisers en Adv De Vos SC namens die verweerderes onderskeidelik. Ek oorweeg vervolgens die drie afsonderlike gedings­oorsake agtereenvolgens teen die agter­grond van die besware daarteen geopper.

Hoofeis

  1. In die hoofeis word gepleit, na uiteensetting van die feitebe­werings hierbo opgesom, dat die insolvent die bogemelde betalings aan Nedbank gemaak het  

11. . . . tot voordeel van beide die insolvent en die verweerderes en ter delging van hulle gesamentlike en afsonderlike aanspreeklikheid teenoor Nedbank, en ter behoud van die eiendom.

12. In die vooropstelling is die verweerderes aanspreeklik om haar pro rata gedeelte van die gesamentlike skuld wat die insolvent aan Nedbank betaal het, aan die eisers in hulle hoedanigheid as die medekuratore van die boedel van die insolvent te betaal.’

  1. Uit hierdie formulering blyk dit dat hierdie eis twee afsondelike gedings­oorsake ineenvleg: enersyds is dit gebaseer op ’n onderlinge verhaalsreg van medeskuldenaars (in solidum) waar die gesamentlike skuld deur een van hulle gedelg is; andersyds, op die regs­verhouding tussen mede-eienaars.2 Die eisers se saak is dan ook op beide grondslae voor my geargumenteer en word vervolgens afsonderlik oorweeg.

Medeskuldenaars

  1. Die posisie in ons reg aangaande die onderlinge verhaalsreg van medeskuldenaars wat gesamentlik en afsonderlik ten opsigte van ’n bepaalde skuld aan­spreeklik is, is allesbehalwe duidelik. So bv merk De Wet & Van Wyk3 op: ‘Ons ou skrywers praat ’n bietjie deur­mekaar oor hierdie kwessie’ terwyl Van der Merwe ea4 daarop wys dat ‘[d]ie regspraak oor die onderwerp nie besonder duidelik [is] nie.’

  2. Nieteenstaande die onsekerheid waarna die geleerde skrywers verwys en die afwesigheid van direkte gesag op die punt, is die oorwig van gesag waarna ek verwys is tot die effek dat ’n medeskuldenaar in solidum wat die skuld vereffen het in beginsel wel ’n verhaalsreg teen die ander medeskuldenaars het, net soos in die geval van ’n medeborg wat die hoofskuld gedelg het. Sodanige verhaalsreg ontstaan wanneer die medeskuldenaar die hele gesamentlike skuld betaal het, in welke geval sodanige medeskuldenaar van elke ander mede­skuldenaar betaling kan eis van sy of haar pro rata gedeelte van die skuld.5 Waar die hele skuld nie gedelg is nie, is dit onduidelik of een medeskuldenaar wat betaal het wel enige verhaalsreg teen ander medeskuldenaars kan uitoefen.6 Hoe dit ookal sy, indien dit vir huidige doeleindes ten gunste van die eisers aan­vaar sou word dat ’n medeskuldenaar wel in beginsel ’n verhaalsreg kan uitoefen alvorens die volle skuld betaal is, moet dit myns insiens op die beskikbare gesag verder aanvaar word (a) dat sodanige reg slegs kan ontstaan waar die mede­skuldenaar meer as sy of haar pro rata gedeelte van die skuld betaal het; in welke geval (b) die eis beperk is tot die gedeelte van die betaling wat sy of haar pro rata gedeelte oorskry.7

  3. In die eisers se hoofeis word dit nie beweer dat die insolvent die hele skuld betaal het nie; trouens, uit die somme blyk dit dat hy dit nie kon betaal het nie, aangesien die drie lenings in totaal tussen R4.5 m en R6 m beloop, wat etlike jare se rente uitsluit. (Die totale verbandskuld beloop R5.5m plus rente en ander koste.) Voorts word dit ook nie in die besonderhede van vordering beweer dat die insolvent meer as sy pro rata gedeelte van die gesamentlike skuld betaal het nie. Namens die eisers is gepoog om hierdie leemte aan te vul deur te argumenteer dat elke af­sonderlike paaiement wat ten opsigte van die lenings betaalbaar was as ’n afsonder­like skuld beskou moet word, met die gevolg dat die insovent geregtig is om ’n pro rata gedeelte van elke paaiement van die verweer­deres te verhaal. Ek is nie na enige gesag verwys ter ondersteuning van hierdie vindingryke argument nie en kan my nie met hierdie benadering vereenselwig nie. Volgens my oordeel moet daar onderskei word tussen ’n skuld, aan die een kant, en die wyse van betaling van die skuld, aan die ander kant. Die feit dat die totale skuld betaalbaar was by wyse van 240 maandelikse paaiemente beteken nie dat daar nou 240 afsonderlike skulde tussen die partye tot stand kom, ten opsigte van elk waarvan ’n medeskuldenaar wat betaal het ’n verhaalsreg teen die ander mede­skuldenaars verwerf nie. So ’n benadering sou klaarblyklik ’n onhoud­bare situasie skep as gevolg van die potensiële veelvuldigheid van aksies. Ek is van mening dat die skuld waarvoor die insolvent en die verweerderes gesamentlike aanspreek­likheid aanvaar het die totale bedrag van die onderskeie lenings omvat, gevolglik moet die partye se pro rata aan­spreeklikheid bepaal word met verwysing na daardie globale bedrag.8

  4. My gevolgtrekking is derhalwe dat die besonderhede van vordering nie genoegsame bewerings bevat om ’n gedingsoorsaak gebaseer op die medeskuldverhouding te ondersteun nie.

Mede-eiendom

  1. Die volgende vraag is of die besonderhede soos gepleit wel vatbaar is vir ’n eis gebaseer op mede-eiendom. In hierdie verband steun die eisers op die beginsel dat alle mede-eienaars verplig is om propor­sioneel tot noodsaaklike uitgawes ter behoud van die eiendom by te dra.9

  2. Op die veronderstelling dat paaiemente op lenings aangegaan wel as ‘noodsaaklike uitgawes ter behoud van die eiendom’ beskou kan word (’n aspek waaroor dit nie tans nodig is om ’n mening uit te spreek nie), gaan hierdie gedeelte van die eis om dieselfde redes mank aan die nodige bewerings, aangesien dit nie beweer word dat die insolvent meer as sy proporsionele gedeelte van die uitgawes betaal het.

  3. Dit volg dus, volgens my oordeel, dat die hoofeis soos tans gepleit nie ’n gedingsoorsaak openbaar nie.

Eerste alternatiewe eis

  1. In die eerste alternatiewe eis word die bogenoemde feite­bewerings aangaande die lenings, verbande en betalings herhaal en by hierdie eis ingelyf, waarna die volgende gepleit word:

14. Ten einde te verhoed dat die eiendom ingevolge die bepalinge van die gemelde geld­leningsooreenkomste en verbande uitgewin word, het die insolvent gedurende die periode Augustus 2004 tot Augustus 2009 die bedrag van [R3.3 m] aan Nedbank betaal, welke bedrag gesamentlik en afsonderlik deur die insolvent en die verweer­deres verskuldig was aan Nedbank en versekureer was deur die gemelde verbande wat oor die eiendom geregistreer was.

15. In die proses het die insolvent die belange van die verweerderes behartig deurdat hy die bedrag van [R1.65 m] wat die verweerderes pro rata inge­volge die leningsooreen­komste gesluit met Nedbank aan hulle verskuldig was, betaal het.

16. In die vooropstelling was die verweerderes ten koste van die insolvent verryk en was die insolvent dienooreenkomstig verarm in die bedrag van [R1.65 m].’

  1. Insoverre hierdie eis op verryking berus, is dit namens die eisers duidelik gemaak dat daar nie op die condictio indebiti (of enige ander condictio) gesteun word nie, maar wel op die beginsels van negotiorum gestio (of saakwaarneming). Dit is egter belangrik om in gedagte te hou, soos Van Zyl10 tereg aan­toon, dat elke saakwaarnemings­aksie nie outomaties ’n verryk­ingsaksie is nie: uit die gesag blyk dit naamlik dat saakwaarneming slegs in sekere eng omskrewe om­standighede verryk­ingsaanspreek­likheid tot gevolg het.11

  2. Gelukkig is dit nie vir my nodig om vir huidige doeleindes in diepte op die groot volume geleerdheid oor hierdie interessante onder­werp in te gaan nie. Volgens my oordeel kan die huidige saak beslis word op die basis dat die eisers se verrykingseis regtens onbestaanbaar is, aangesien een van die essensiële vereistes vir ’n verrykingsaksie ont­breek, naamlik die vereiste dat die verryking ongeregverdig of sine causa moet wees.12

  3. Die probleem met die eisers se eis soos tans geformuleer is dat enige verryking aan die kant van die verweerderes nie ongeregverdig of sine causa kan wees nie, aangesien sy en die insolvent in ’n konraktuele verhouding tot mekaar gestaan het as mede­skuldenaars. Soos hierbo aangetoon, het die insolvent in beginsel wel ’n verhaalsreg teenoor die verweerderes (as medeskuldenaar in solidum) vir betalings deur hom gemaak namens albei van hulle. Dit volg dat daar nie in hierdie omstan­dighede sprake kan wees van verrykings­aanpreek­likheid nie. Die insolvent se remedie (indien enige) moet derhalwe in die kontraktuele verhouding tussen die partye gesoek word.

  4. Dit volg derhalwe dat die bewerings in paragrawe 14 16 van die besonderhede van vordering insgelyks nie ’n gedingsoorsaak openbaar nie.

Tweede alternatiewe eis

  1. Ter ondersteuning van die tweede alternatiewe eis beweer die eisers dat die betrokke betalings deur die insolvent aan Nedbank ‘vervreemding van goed van die insolvent’ is, soos bedoel in art 26 van die Insolvensiewet, 24 van 1936. Hulle pleit dan verder:

19. Vyftig present van die betrokke betalings (vervreemdings) was gemaak tot voordeel van die verweerderes deurdat die insolvent die verweerderes se pro rata gedeelte van die gesamentlike skuld wat die insolvent en die ver­weer­deres aan Nedbank Bpk verskuldig was, betaal het sonder dat die insolvent teenwaarde daarvoor vanaf die verweerderes ontvang het.

20. Die bedrag van ongeveer R1 076 897.41 wat aldus betaal is en wat deel is van die gemelde pro rata gedeelte van die betrokke gesamentlike skuld wat die verweerderes aan Nedbank verskuldig was, was betaal meer as twee jaar voordat die boedel van die insolvent gesekwestreer is.

21. Onmiddellik nadat die bedrag in paragraaf 20 gemeld betaal was, het die insolvent se laste sy bates oorskry.

22. Die bedrag van R579 867.84 wat aldus betaal is en wat deel is van die gemelde pro rata gedeelte van die betrokke gesamentlike skuld wat die verweerderes aan Nedbank verskuldig was, was betaal binne twee jaar voor die sekwestrasie van die boedel van die insolvent.

23. Gevolglik behoort die vervreemding of vervreemdings vis-à-vis die insolvent en die verweerderes ingevolge die bepalinge van art 26 van die Insol­vensiewet, 24 van 1936, deur die Hof tot niet gemaak te word.’

  1. Ingevolge die bepalings van art 26 is die hof by magte om ‘elke vervreemding van goed sonder teen­waarde’ tot niet te maak waar sodanige vervreemding in insolvente omstandighede gemaak is (om die ietwat omslagtige bewoording van die artikel te parafraseer). Hierdie been van die eis is gebaseer op die foutiewe veronder­stelling dat die vervreemdings tersyde gestel kan word indien die insolvent geen teen­waarde ontvang het van die verweerderes vir die betalings wat hy aan Nedbank gemaak het ten opsigte van haar pro rata gedeelte van die skuld nie. Die ware posisie, volgens my oordeel, is dat die waarde nie vanaf die verweerderes afkomstig hoef te wees nie; die hof kyk objektief na die vraag of die insolvent wel enige waarde in ruil vir die vervreem­ding ontvang het, afgesien vanwaar dit afkomstig was.13

  2. In die huidige saak het die insolvent sekere betalings aan Ned­bank gemaak uit hoofde van sy eie bestaande kontraktuele verpligting teenoor die bank. Deur sodanige betalings is die insolvent se eie skuld teenoor die bank pro tanto ver­minder, met die gevolg dat hy klaar­blyklik waarde vir die vervreemding ontvang het.

  3. Bindende gesag vir hierdie benadering is te vind in die uitspraak van die Appèl­hof in Estate Jager v Whittaker & another,14 waar die toepaslike beginsel soos volg opgesom is:

The words “disposition not made for value” mean, in their ordinary signification, a disposition for which no benefit or value is or has been received or promised as a quid pro quo. . . . If a lawful obligation to pay the money in fact exists, then the obvious benefit which the payer receives in return for such payment is a discharge from his liability to pay. Such a payment decreased his assets, but at the same time it diminishes his liabilities, and in transactions which are entered into in the ordinary course of business such a discharge from a liability would be value for the payment made.’

  1. Presies dieselfde oorwegings geld hier, met die gevolg dat die besonderhede van vordering ten opsigte van hierdie eis insgelyks nie ’n gedingsoorsaak daarstel nie.

Gevolgtrekking

  1. Weens die bostaande redes is ek derhalwe van mening dat geeneen van die eisers se eise, soos tans geformuleer, ’n afdwingbare skuldoorsaak teen die verweerderes daarstel nie. Dit volg derhalwe dat paragrawe 11 23 van die eisers se gewysigde besonderhede van vordering deurgehaal behoort te word. Dit volg verder dat die verweerderes wesenlik suksesvol was in haar regs­argumente en dat sy gevolglik op haar koste van die argument geregtig is, asof ’n suksesvolle eksepsie aangeteken was.

  2. Namens die eisers is ek egter versoek om die verweerderes te gelas om die eisers se verspilde koste te betaal wat teweeggebring is deur die feit dat hulle verplig was om voor te berei vir die verhoor wat op 29 Julie 2013 sou begin, maar wat nie voortgegaan het nie omdat die partye ooreengekom het om die regspunte te argumenteer. Namens die verweer­deres is egter aangevoer dat die eisers vir geruime tyd voor die verhoor reeds bewus was van die verweerderes se voorneme om aansoek te doen om wysiging van haar pleit ten einde die bogenoemde regspunte te opper en dat die eisers derhalwe op hul eie risiko voorberei het vir die verhoor. Volgens my oordeel behoort elk van die partye in die omstandighede verantwoordelik te wees vir enige verspilde voorberei­dingskoste ten opsigte van die verhoor wat nie voortgegaan het nie.

Gevolgtrekking

  1. In die omstandighede word dit soos volg beveel:

1. Paragrawe 11–23 van die eisers se gewysigde besonderhede van vordering word deurgehaal.

2. Verlof word aan die eisers verleen, indien aldus geadviseer, om binne 15 dae vanaf datum van hierdie uitspraak aansoek te doen om hul besonderhede van vordering te wysig.

3. Die eisers word gelas om die verweerderes se gedingskoste meegebring deur die argument te betaal.

4. Elke party sal aan­spreeklik wees vir sy of haar eie verspilde koste meegebring deur voorbereiding vir die verhoor van die aksie op 29 Julie 2013, indien enige.



B M Griesel
Regter

1Uit die skedule vervat in die ooreenkoms wil dit voorkom asof slegs ’n bedrag van R2 014 234 werklik voorgeskiet is uit hoofde van hierdie leningsooreenkoms.

2Dit mag wees dat daar ook ’n verdere dimensie tot die hoofeis bestaan uit hoofde van die feit dat die insolvent (in wie se skoene die eisers vir huidige doeleindes staan) en die verweerderes met mekaar getroud is. Dit sou kon meebring dat beginsels van die huweliksreg – wat insluit die wedersydse onder­houdsplig tussen eggenote; gesamentlike en afsonderlike aan­spreeklikheid vir huis­houdelike uitgawes; en ’n moontlike regresreg tussen eggenote  – ook by beregting van die huidige eise ter sprake mag kom, soos in die verweerderes se voorgestelde wysiging tot haar pleit in die vooruitsig gestel word. Hierdie aspekte is egter nie tydens argument voor my aangespreek nie en word gevolglik vir huidige doeleindes buite rekening gelaat.

3Kontraktereg & Handelsreg 5de uitg Vol 1 p 139.

4SWJ van der Merwe, LF van Huyssteen, MFB Reinecke & GF Lubbe Kontraktereg – Algemene Beginsels 4de uitg (2012) pp 231 232.

5Benewens die skrywers na verwys in die vorige twee voetnote, sien ook JW Wessels The Law of Contract in South Africa (1937) §1553 1559; RH Christie & GB Bradfield Christie’s The Law of Contract in South Africa 6ed pp 263 266; Contract 5(1) Lawsa 2ed para 423; Gerber v Wolson 1955 (1) SA 158 (A) op 164F G; ASA Investments v Smit 1980 (1) SA 897 (K) op 901G 903C.

6Sien bv CF Forsyth & JT Pretorius Caney’s The Law of Suretyship 6de uitg p 176 180; 26 Lawsa 2ed para 308 sv Suretyship; Ellison Kahn Contract and Mercantile Law through the Cases 2ed Vol 2 p 819; JT Pretorius ‘A running contribution between co-sureties?’ 100 [1983] SALJ 387 at 391.

7Sien bv Wessels op cit §1558; DJ Joubert General Principles of the Law of Contract p 315; Lever v Buhrmann 1925 TPD 254 at 262 and 265 in fin.

8Vgl ASA Investments v Smit, supra, op 903B C.

9CG van der Merwe Sakereg 2de uitg (1989) p 384. Sien ook Things 27 Lawsa 1st reissue para 411.

10DH van Zyl Die Saakwaarnemingsaksie as Verrykingsaksie in die SA Reg (Proefskrif, Leiden 1970) p 147 ev.

11Sien ook, deur dieselfde skrywer, Negotiorum Gestio in South African Law (Butterworths 1985) pp 86 ev; Enrichment 9 Lawsa 2ed para 223; Mandate and Negotiorum Gestio 17 Lawsa 2ed para 35 39; Daniel Visser Unjustified Enrichment pp 565 590; Odendaal v Van Oudtshoorn 1968 (3) SA 433 (T) te 438; Absa Bank Ltd t/a Bankfin v Stander t/a CAW Paneelkloppers 1998 (1) SA 939 (C) te 944J 956H. Sien ook LTC Harms Amler’s Precedents of Pleadings 7de uitg op 298.

12Sien bv Enrichment 9 Lawsa 2ed para 209 en die gesag aangehaal in n 36.

13Sien bv Bertelsmann et al, Mars – The Law of Insolvency in South Africa 9ed para 13.4, 13.6; Catherine Smith The Law of Insolvency 3de uitg p 123.

14 1944 AD 246 te 250 251.